Wynberg

Wynberg is een van Kaapstad se grootste en oudste voorstede en is geleë in 'n pragtige boomryke deel van die suidelike voorstede teen die hange van Tafelberg.

Die meer as honderd jaar oue NG kerkgebou in Wynberg
Wynberg
Voorstad
Kaart van Wynberg
Kaart van Wynberg
Wynberg is in Cape Town
Wynberg
Wynberg
Kaart van Wynberg
Koördinate: 34°00′15″S 18°28′13″O
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieWes-Kaap
Metropolitaanse MunisipaliteitKaapstad
Oppervlak
  Totaal3,75 km2 (1,45 vk. myl)
Bevolking
  Totaal14 472[1]
  Digtheid2 900/km2 (7 400/vk. myl)
TydsoneUTC+2 (SAST)
Poskode
7800
Skakelkodes021

Daar is 'n pragtige park, Maynardville, wat vernoem is na 'n lid van die Kaapse Parlement, James Maynard, en wat deur die stadsraad in 1949 aangekoop is. Dit word as openbare park benut en beskik oor 'n opelug-teater waar onder meer jaarliks 'n drama deur William Shakespeare opgevoer word. Dit is ook die tuiste van die Gemeenskapskas se jaarlikse kermis. Nie ver van Maynardville nie, is die geskiedkundige gebou van die NG gemeente Wynberg, asook die Chelsea Village met sy ewe geskiedkundige kothuisies en smal, karaktervolle straatjies.

Wynberg het 'n groot verskeidenheid oudhedewinkeltjies en sy hoofstraat, wat deel is van Hoofweg wat uit die middestad tot in Vishoek loop, is 'n besige sakekern met onder meer die Maynard Mall-inkopiesentrum. Weens sy grootte, huisves Wynberg 'n wye verskeidenheid mense, van die superrykes in die boonste dele naby die berg tot heel gewone werkers aan die Kaapse Vlakte se kant.

Van die skole in die voorstad is onder meer die Laerskool Simon van der Stel en die Engelsmedium Wynberg Boys' High School en Wynberg Girls' High School.

Wynberg was 'n afsonderlike munisipaliteit totdat dit in 1927 by Kaapstad ingelyf is.

Wapen

Wynberg, Kaap, omstreeks 1846, geskilder deur G.F. Angas.

Wynberg het van 1886 tot 1927 sy eie munisipaliteit gehad. Die raad het 'n wapen in 1895 aangeneem wat deur raadslid Stanley Ponder ontwerp is: Gevierendeel, I in rooi drie goue ringe; II in goud 'n swart anker; III in swart 'n tent met 'n wapperende wimpel alles van silwer; IV in groen 'n wingerdstok vergesel in die skildhoof van drie fleurs de lis langs mekaar geplaas alles van goud. Die wapenspreuk was "Vivat crescat floreat vitis".[2][3]

Bronne

  • Mayhew, Vic (red.), Reader’s Digest Illustrated Guide to Southern Africa, The Reader’s Digest Association South Africa (Pty.) Limited, Kaapstad, 1980.
  • Kelly, Maureen, Amptelike Suid-Afrikaanse Munisipale Jaarboek, HELM Publikasies, Johannesburg, 1986.

Verwysings

  1. Subplek Wynberg 2011-sensus
  2. Wes-Kaapse Argief : Wynberg Munisipale Notules (17 Junie 1895).
  3. Wynberg Times (29 Junie 1895).

Sien ook

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.