Wikimedia Commons
Die Wikimedia Commons (ook bekend as die "Commons" of "Wikicommons") is 'n versameling vrye beelde, opnames en ander multimedialêers. Dit is 'n projek van die Wikimedia-stigting. Lêers wat by hierdie versameling opgelaai word kan deur al die ander Wikimediaprojekte gebruik word, insluitende Wikipedia, Wikibooks en Wikinews.
Wikimedia Commons | |
---|---|
Tipe webblad | Wiki |
Taal(e) | Meertalig, hoofsaaklik Engels |
Registrasie | Opsioneel |
Eienaar | Wikimedia Stigting |
Outeur | Die gemeenskap |
Opgerig | 7 September 2004 |
Huidige status | Aktief |
URL | http://commons.wikimedia.org/ |
Hoe om beelde te gebruik
Beelde wat opgelaai is na Wikimedia Commons kan deur al die ander Wikimemedia projekte gebruik word; die sintaks is dieselfde as vir plaaslike beelde. Indien 'n plaaslike beeld met dieselfde naam reeds bestaan, sal dit gebruik word, andersins sal die een vanuit Commons gelaai word.
Geskiedenis
Die projek is op 7 September 2004 gestig. Teen November 2004 het dit reeds die mylpaal van 10 000 opgelaaide medialêers bereik. Dit was ook die eerste Wikimedia-projek wat weergawe 1,4 van die MediaWiki-sagteware gebruik het.
Tale
Die hooftaal vir die Commons is Engels, maar die koppelvlak kan via gebruikersvoorkeure verander word om enige ander taal te gebruik (insluitend Afrikaans). Verder word sommige van die bladsye ook na ander tale vertaal.
Kopiereg
Sedert 2004 laat Wikimedia Commons nie meer lêers toe wat onder nie-vrye lisensies vrygestel word nie, insluitend lisensies wat kommersiële gebruik van die materiaal beperk, asook media wat onder billike gebruik val. Lisensies wat toelaatbaar is sluit in die GFDL, Creative Commons (slegs sekeres) en publieke domein.
Fotogalery
- Beeld van die jaar 2006: Poolligte oor die Bear Lake in Alaska (VSA) – soos gesien op 18 Januarie 2005.
- Beeld van die jaar 2007: Die Broadway-toring is 'n siergebou wat uit 1797 dateer en geleë is op Broadway-heuwel naby die dorpie Broadway, in Worcestershire, Engeland, in die Cotswolds. Die toring se basis is 312 meter bo seespieël en die toring self is 17 meter hoog. Op 'n mooiweersdag kan dertien graafskappe van Engeland van die bokant van die toring gesien word. Die uitsig sluit in die Severn-vallei tot by die Walliese berge.
- Beeld van die jaar 2008: Twee perde (Equus ferus caballus) op die Bianditz-berg in Navarra, Spanje, met die Aiakoberg in die agtergrond.
- Beeld van die jaar 2010: 'n Laser word gestuur tot die sentrum van die Melkweg vanuit die koepel Yepun van die Paranal-observatorium op die gelyknamige berg in Chili.
- Beeld van die jaar 2011: Die Bondhusmeer in Noorweë.
- Beeld van die jaar 2014: Twee Julia-skoenlappers (Dryas Iulia) drink die trane van skilpaaie (Podocnemis expansa?) in Ecuador.
- Beeld van die jaar 2015: Pluto in donkerder kleure om sy eienskappe duideliker te vertoon, soos waargeneem deur Nasa se New Horizons-ruimtetuig op 14 Julie 2015.
- Beeld van die jaar 2016: Jubilee en Munin, twee van die Londense Tower se kraaie, soos op 30 April 2016.
- Beeld van die jaar 2017: Phyllomedusa rohdei is 'n spesie in die familie van boompaddas en is deur 'n oranje-pers-kleuring in die lies gekenmerk. In die prentjie wedywer twee mannetjies vir 'n tak en een klim oor die ander.
- Beeld van die jaar 2018: Saamstelling van agt foto's wat die ontstaan van 'n tornado noord van Minneola in die Amerikaanse deelstaat Kansas verduidelik, soos op 24 Mei 2016.
- Beeld van die jaar 2019: Twee bulle hardloop terwyl die jokkie hulle vashou tydens 'n pacu jawi (Minangkabau vir: "bulwedloop"), 'n tradisionele bulwedloop in Tanah Datar, Wes-Soematra, Indonesië. 2015, Finale-45.
- Beeld van die jaar 2021: Die Sint Johannes-kerk in Sohrol is 'n 5de of 6de eeuse Armeense Katolieke kerk in Sohrol, Shabestar, Iran.
- Beeld van die jaar 2022: 'n Witborskormorant (Phalacrocorax carbo), 'n kleinwitreier (Egretta garzetta) en'n kraageend (Mareca strepera) op die Taudaha-meer naby Katmandoe, Nepal.
Eksterne skakels
Wikimedia Stigting | |||
---|---|---|---|
Projekte: Broeikas | Commons | Meta-Wiki | Wikibooks | Wikidata | Wikinews | Wikipedia | Wikiquote | Wikisource | Wikispecies | Wikiversity | Wikivoyage | WikiWoordeboek |