Wes-Afrika

Wes-Afrika of Westelike Afrika is die westelike gedeelte van die kontinent van Afrika. Die presiese gebied word nie altyd presies dieselfde afgebaken nie. Wes-Afrika (ongeveer 5,1 miljoen km² en meer as 380 miljoen inwoners) is suid van die Sahara en wes van Kameroen geleë. Tussen die 11de en die 16de eeu het groot koninkryke oor die gebied geheers.

Ligging van Wes-Afrika:

 Wes-Afrika (Verenigde Nasies-substreek)

 Die Maghrebstreek word as deel van Noord-Afrika beskou

Politieke kaart van Wes-Afrika
Nasa-Satellietbeeld van noordelike Wes-Afrika
Nasa-Satellietbeeld van suidelike Wes-Afrika

Hul bloei was te danke aan die handel met die Arabiere wat deur die Sahara na die savannes getrek het. Die koms van die Europeërs en die verowering van Noord-Afrika deur die Turke het 'n einde aan sowel die koninkryke as die handel gemaak. Aan die einde van die 19de eeu was die grootste deel van Wes-Afrika in Britse en Franse besit.

Die 16 onafhanklike lande wat weens die dekolonisasie ná die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het, verskil grootliks wat inwonertal, oppervlakte en ekonomiese potensiaal betref. In 'n paar gevalle is die bestaansmoontlikhede twyfelagtig en Wes-Afrika kan oor die algemeen as een van die armste gebiede ter wêreld beskou word. Die pogings tot ekonomiese samewerking tussen die lande word bemoeilik deur talle faktore, waarvan die meeste ’n erfenis van koloniale oorheersing is.

Politieke wrywing speel egter ook ’n belangrike rol. Die 16 lande van Wes-Afrika is Nigerië, Ghana, Ivoorkus, Niger, Senegal, Sierra Leone, Burkina Faso, Togo, Benin, Liberië, Guinee, Guinee-Bissau, Gambië, Mali, Mauritanië en Kaap Verde. Die gebied wat as Wes-Afrika aangedui word, is suid van die Sahara en wes van Kameroen geleë. Afgesien van Liberië was al die lande wat deel uitmaak van die gebied, voorheen Britse, Franse of Portugese kolonies.

Die gebied word op natuurlike wyse begrens deur die Atlantiese Oseaan, Kameroenberg (4 070 m) en die Adamawa-hoogland (tot 2 400 m). Die hoogland word ooswaarts tot in die Soedan en noordwaarts tot in Libië en Algerië voortgesit. Wes-Afrika bestaan uit 'n gebied langs die kus (0–200 m) en 'n agterland wat nêrens hoër as 500 m bo seespieël is nie.

Die reliëf is beperk tot die Bauchi- en die Jos-plato (tot 2 010 m) in Nigerië en die Futa Dalon (hoogste punt Jurugal, 1 515 m) en die Lomagebergte (1 948 m) in Guinee. Wes-Afrika het 'n moesonklimaat. Die temperatuur wissel deur die jaar van 25 tot 30 °C. Tussen November en Mei is dit oorwegend droog en dan waai die harmattan soms. Dit is 'n relatief keel, droë wind wat in die warm, vogtige kusgebied (2 000–3 000 mm reënval per jaar) as die "dokter" bekend staan. In die binneland is die harmattan dikwels belaai met stof en sand en kan dit baie onaangenaam wees. Die reënseisoen, waartydens die aanlandige suidwesmoeson waai, is tussen Mei en November. Na die binneland neem die reënval geleidelik af. Tussen die savannegebied en die woestyn is die sogenaamde Sahelsone, die noordelike deel van Wes-Afrika, wat berug is vir die langdurige droogtes wat soms daar voorkom.

Die groot riviere in Wes-Afrika is die Niger, die Volta, die Sénégal en die Gambië. In die noordelike dele is die riviere van lewensbelang omdat die landerye daaruit besproei word. Die riviere is ook die belangrikste verkeersweë en sal dit nog 'n lang tyd wees. Die infrastruktuur is baie beperk en byna uitsluitlik op die kusgebiede gerig. Wes-Afrika bestaan uit 16 lande met landbouekonomieë. Vyf van die lande tel onder die 29 armste lande ter wêreld.

Die jong lande, met groot interne politieke en ekonomiese probleme, is genoodsaak om saam te werk. Die riviere, wat vir besproeiing en die ontwikkeling van energie gebruik kan word, loop deur verskillende lande. Om die riviere ten volle te beheer en te benut, sal hulle hul politieke en ander konflikte opsy moet skuif en saamwerk. Dieselfde geld vir die ontginning van die grondstowwe. Wes-Afrika beskik oor twee derdes van die wêreld se bauxietreserwes (Guinee), Ghana is die wêreld se voorste kakao-produsent en die Ivoorkus die vierde, Sierra Leone het diamante, Nigerië ruolie en Liberië yster. Die Ekonomiese Kommissie vir Afrika het voorgestel dat yster- en staalwerke in Liberië opgerig word vir voorsiening aan al die lande van Wes-Afrika, maar die plan is in die wiele gery deur die ander lande se wens om elkeen sy eie klein yster en staalfabriek te hê.

Die organisasie van ekonomiese samewerking

'n Ekonomiese samewerkingsooreenkoms wat redelik suksesvol is, is die Benin-Sahel Entente (1959) tussen die destydse Bo-Volta, die Ivoorkus, Niger en Benin. Die sukses van die samewerking is egter nie so skouspelagtig nie as in aanmerking geneem word dat dit gebaseer is op samewerking wat reeds tussen Bo-Volta en die Ivoorkus aan die een kant, en Niger en Benin aan die ander kant, bestaan het.

Burkina Faso en Niger is van die see afgesny en is vir hul in-en uitvoer van die hawens Abidjan en Cotonou afhanklik. Buitendien het seisoenstrekke van arbeiders uit die twee lande na die kusplantasies reeds in die koloniale tyd voorgekom. In 1966 het Togo hom by die Entente aangesluit met die bedoeling om ter gelegener tyd ’n konfederasie te stig. Teen die einde van die sewentigerjare het die Entente egter tekens van verbrokkeling begin toon: Niger, Benin en Togo het steeds grater klem begin plaas op ekonomiese samewerking in 'n groter verband.

Burkina Faso was ekonomies al so sterk aan die Ivoorkus gebonde dat noue samewerking noodsaaklik gebly het. In 1961 het die voormalige Franse kolonies die Ivoorkus, Burkina Faso, Niger, Senegal en Benin, en twee jaar later Togo, die Union Monetaire Quest Africaine (Wes-Afrikaanse Monetêre Unie) gestig, wat spesiale monetêre voorsieninge tussen die Afrikalande en Frankryk reël. In 1964 is 'n vryhandelsone tussen die Ivoorkus, Sierra Leone, Liberië en Guinee tot stand gebring.

'n Tolunie wat twee jaar later vir die hele Wes-Afrika opgerig is, is in 1970 ontbind omdat dit geen resultate gelewer het nie. Op 1 Januarie 1974 is die Communaute Economique de l'Afrique de l'Ouest (CEAO) deur Mali, die Ivoorkus, Mauritanië, Niger, Burkina Faso en Senegal gestig met die doel om dit op die hele Wes-Afrika van toepassing te maak. Hoewel Togo en Benin net soos die CEAO-lande voormalige Franse kolonies is, het hulle hulle nie by die CEAO aangesluit nie uit solidariteit met Nigerië en Ghana, wat tot die Britse Statebond behoort.

Die solidariteit het Nigerië aangespoor om vorm te gee aan sy eie ambisieuse planne vir Wes-Afrika, naamlik 'n Wes-Afrikaanse ekonomiese gemeenskap onder sy leiding. In 1975 is die Economic Organisation of West-African States (Ecowas) deur al 15 lande opgerig. Die doel van Ecowas, soos omskryf in die stigtingsverdrag, is die "bevordering van samewerking en ontwikkeling op alle terreine van die ekonomie, vernaamlik op die gebied van die nywerheid, vervoer, telekommunikasie, energie, landbou, natuurlike rykdomme, monetêre en finansiële sake, en op alle terreine van sosiale en kulturele aangeleenthede, met die doel om die lewenstandaard van die lidlande te verhoog, die ekonomiese stabiliteit te vergroot en te handhaaf, nouer betrekkinge tussen die lidlande te bevorder en byte dra tot die vooruitgang van die vasteland van Afrika.

Probleme by samewerking

Kaart van Wes-Afrika in 1875
Kaart van Brits-Wes-Afrika
Kaart van Frans-Wes-Afrika in 1913

Die opkoms van 'n bloeiende handel tussen die lidlande van Ecowas word belemmer deur die geringe moontlikhede vir die uitruiling van produkte. In baie gevalle lewer die lande dieselfde produkte, soos grondboontjies, palmolie, kakao, rys en koffie. Die mark van die olieryk Nigerië bied die meeste perspektief. In ruil vir landbouprodukte wil Nigerië die ander lidlande van petrochemiese en ander nywerheidsprodukte voorsien. Ander faktore wat die intensivering van wedersydse handel bemoeilik, is die verskillende geldeenhede, amptelike tale, wette, bestuursorganisasies, ensovoorts.

Die Fransgerigte lande (Senegal, Mauritanië, Mali, Niger, Burkina Faso, Ivoorkus, Togo en Benin) is geassosieerde lede van die Europese Unie, terwyl Nigerië met sy Brits-koloniale verlede na 'n spesiale verhouding met die EEG streef. 'n Koloniale erfenis wat deur al die state van Wes-Afrika gedeel word, is die infrastruktuur, wat nie op wedersydse handel gerig is nie, maar op die uitvoer van grondstowwe na Europa.

Afgesien van die ekonomiese probleme heers daar ook politieke spanning in die Ecowas. Daar is byvoorbeeld van oudsher ’n seisoenstrek van arbeiders uit die savannegebied na die plantasies in die kuslande. Die arbeiders vorm minderheidsgroepe in die kuslande, wat tot spanning tussen die lande lei. Nog 'n faktor is die lidlande se vrees vir ekonomiese oorheersing deur Nigerië. Die Nigeriese bevolking van amper 182 miljoen is meer as die gesamentlike bevolking van die ander lande. Die wantroue word vererger deur die optrede van Nigeriese sakelui en deur Nigerië se toenemende militêre rol.

Boonop het Nigerië in die loop van die sewentigerjare sy olieprys selfs hoër as die van die Midde-Oosterse lande gehou. 'n Ekonomiese probleem wat tot groot politieke reperkussies kan lei indien dit aangepak word, is die uitgebreide smokkelhandel tussen die lande. Die onwettige handel is so diep gewortel omdat die volke reeds eeue lank vreedsaam langs mekaar woon. Die groot koninkryke wat tussen die 11de en die 16de eeu in Wes-Afrika ontstaan het, het juis uit die vrye wisseling van idees, tegnieke en produkte tussen die bewoners van die savannegebied ontwikkel.

Die grense van die nuwe onafhanklike lande is tydens die koloniale tydperk willekeurig vasgestel, sodat etniese eenhede van mekaar geskei en tradisionele handelsroetes verbreek is. Die uitruil van produkte het skielik onwettig geword. Die owerhede is magteloos omdat die doeltreffende bewaking van die grense prakties onmoontlik is. Boonop is die gemiddelde inkomste so laag dat grensbeamptes maklik omgekoop word.

Tegniese samewerking

'n Organisasie wat in 1968 deur Guinee, Mali, Senegal en Mauritanië vir die ontwikkeling rondom die Sénégalrivier gestig is, het finansiële hulp van die Verenigde Nasies ontvang, maar is in 1971 om politieke redes ontbind.

Bronnelys

Eksterne skakels

  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Wes-Afrika.
  • (en) "Western Africa". Encyclopædia Britannica. Besoek op 15 Oktober 2019.
Gebiede van die Wêreld

Afrika

Noord (Midde-Ooste)  · Suid van die Sahara (Sentraal · Suider · Wes · Oos)

Amerikas

Noord · Sentraal · Karibiese Gebied) · Suid · Latyns

Asië

Sentraal · Oos · Noord-Asië (Verre-Ooste) · Suid (Indiese subkontinent) · Suidoos · Suidwes (Midde-Ooste)  · Wes

Europa

Sentraal · Noord · Suid · Wes · Oos

Oseanië

Australasië (Australië · Seeland) · Melanesië · Mikronesië · Polinesië

Poolgebiede

Noordpoolgebied · Antarktika

Oseane

Arktiese · Atlantiese · Indiese · Stille · Suidelike

Seë

Oorsig van Seë

Sien ook Kontinente van die wêreld
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.