Vulkanisme
Vulkanisme (of vulkanisiteit) is die verskynsel dat gesmelte gesteentes (magma) op die oppervlak van die Aarde of 'n ander soliede planeet of 'n maan, uitgewerp word waar lawa, piroklaste en gasse deur 'n opening in die oppervlak breek.[1] Dit sluit alle voorvalle in wat spruit uit die opstoting van magma deur die kors of mantel van die liggaam en die vorming van vulkaangesteentes op die oppervlak, asook alle voorvalle wat dié verskynsel veroorsaak.
Vulkaniese prosesse
Magma van die mantel of onderste deel van die kors styg op deur die kors na die oppervlak. As magma die oppervlak bereik, hang die gedrag daarvan af van die viskositeit (vloeitraagheid) van die gesmelte rots. Vloeitrae (dik, taai) magma veroorsaak ontploffende uitbarstings, terwyl vloeibare (dun) magma gewoonlik lei tot bedaarde, uitvloeiende uitbarstings wat groot hoeveelhede lawa op die oppervlak kan stort.
In sommige gevalle kan opstygende magma afkoel en stol sonder dat dit die oppervlak bereik. Die harde vulkaanmassa kristalliseer in die kors en vorm 'n vulkaniese intrusie. Terwyl die magma afkoel, word die chemikalieë in die kristalle wat vorm in effek uit die hoofmengsel van die magma verwyder (deur middel van 'n proses bekend as fraksionele kristalvorming). Die chemiese inhoud van die oorblywende magma verander dus terwyl dit stadigaan stol.
Inspuitings van vars, onveranderde magma kan harde, veranderde magma weer in beweging bring en die uitbarsting van vloeitraer magma veroorsaak.
Aspekte van vulkanisme
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Vulkaan.
Vulkane
Vulkane is plekke waar magma die planeet se oppervlak bereik. Die soort vulkaan hang af van die ligging van die uitbarsting en die konsistensie van die magma.
Intrusies
Dit word gevorm wanneer magma tussen bestaande gesteentes ingepers word. Dit kan gesien word in die vorm van intrusiegange, intrusieplate en batoliete.
Aardbewings
Aardbewings word gewoonlik met plaattektoniek vereenselwig, maar sommige word deur vulkanisme veroorsaak.[2]
Hidrotermiese bronne
Dit word gevorm wanneer daar 'n wisselwerking tussen water en vulkanisme is.[3] Dit sluit in geisers, rookgate, warmwaterbronne en moddergate. Hulle word dikwels gebruik as 'n bron van geotermiese energie.[3]
Vulkaanwinter
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Vulkaniese winter.
Die hoeveelheid gas en as wat in vulkaanuitbarstings vrygestel word, het 'n taamlike uitwerking op die aarde se klimaat. Groot uitbarstings stem ooreen met aansienlike klimaatsveranderings wêreldwyd.[4]
Sien ook
- Vulkaan, vir 'n vollediger artikel.
Verwysings
- "Cooling Planets: Some Background: What is volcanism?" (PDF). The Lunar and Planetary Institute, Department of Education and Public Outreach. 2006. p. 4. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 1 Augustus 2013. Besoek op 14 Oktober 2012.
- Watson, John; Watson, Kathie (7 Januarie 1998). "Volcanoes and Earthquakes". United States Geological Survey. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Maart 2009. Besoek op 9 Mei 2009.
- Nemzer, J. "Geothermal heating and cooling". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 November 2012. Besoek op 3 November 2012.
- Robock, Alan (2000). "Volcanic eruptions and climate". Reviews of geophysics 38 (2): 191-219. doi:10.1029/1998RG000054
Skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Vulkanisme.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.