Vrugbaarheid

Onder vrugbaarheid (fertiliteit) word verstaan die vermoë om te bevrug of om bevrug te word. Onvrugbaarheid het ongewenste kinderloosheid tot gevolg. Die oorsaak van onvrugbaarheid is min of meer ewe dikwels by die man as by die vrou op te spoor, maar in sommige gevalle kan na 'n uitgebreide ondersoek geen oorsaak gevind word nie.

Die moontlikhede om onvrugbaarheid te behandel, neem voortdurend toe. Vrugbaarheid beteken vir die man dat hy kan bevrug en vir die vrou dat sy bevrug kan word. 'n Man is vanaf die eerste saadlating (ejakulasie) tot op 'n hoë leeftyd deurlopend vrugbaar. 'n Vrou is vrugbaar slegs tydens of kort na ovulasie, wat ongeveer in die middel van die menstruele siklus val. Ongewenste kinderloosheid kan ontstaan deur onvrugbaarheid van die man, die vrou of albei.

Ongewenste kinderloosheid wat langer as een jaar duur, word 'n fertiliteitsteurnis genoem. Van steriliteit mag slegs gepraat word na 'n uitgebreide fertiliteitsondersoek van sowel die man as die vrou, wat getoon het dat hulle altyd kinderloos sal bly. Dit blyk dikwels dat 'n fertiliteitsteurnis nie op steriliteit berus nie, maar op subfertiliteit, wat dui op minder fertiliteit as normaalweg. Die moontlikheid om te bevrug of om bevrug te word, bestaan dan wel, maar dit sal dikwels langer duur as normaalweg.

'n Fertiliteitsteurnis word onderskei indien daar voorheen een of meer swangerskappe was (sekondêre fertiliteitsteurnis), of indien daar voorheen geen swangerskap was nie (primêre fertiliteitsteurnis). Die term infertiliteit word gebruik vir gevalle waar die vrou nie daartoe in staat is om 'n swangerskap te voltooi nie.

Oorsake

Die oorsaak van onvrugbaarheid lê feitlik ewe dikwels by die man as by die vrou en kan verskeie oorsake hê:

  • Afwykings kan aan die saadballe (testes) van die man voorkom, waardeur geen of te min saadselle (spermatosoa) vervaardig word. Dit kom as 'n aangebore afwyking voor of as gevolg van 'n siekte. So byvoorbeeld gaan epidemiese parotis in ongeveer 10% van die gevalle gepaard met 'n ontsteking van een of albei testes.
    Kriptorgisme (die agterblywing van die testes in die buikholte of lieskanaal) lei tot fertiliteitsteurnisse as die testes nie voor ongeveer die twaalfde jaar volledig neergedaal het nie. 'n Ander rede vir 'n verlaagde produksie van spermatosoa kan 'n hoë temperatuur (byvoorbeeld tydens siekte wat met 'n hoë koors gepaard gaan, en by bakkers en hoogoondwerkers), vergiftiging met onder meer lood en sink, hormonale steurnisse en röntgen- of radioaktiewe straling wees.
  • Afwykings van die eierstokke (ovaria) by die vrou, waardeur die vervaardiging van die eierselle (ova) versteur word. Die algemeenste oorsaak is 'n hormonale afwyking, wat meestal met 'n menstruasiesteurnis gepaard gaan. Bestraling kan ook die ovaria aantas. Steurnisse in die vervoer van spermatosoa en ova. Die vervoerbuise vir die spermatosoa kan deur aangebore afwykings afgesluit wees of geheel of gedeeltelik ontbreek. Geslagsiektes kan ook afsluiting veroorsaak.
    'n Steurnis in die spermatosoön-vervoer kan ook deur probleme tydens geslagsgemeenskap (koïtus) veroorsaak word. By ejaculatio praecox byvoorbeeld vind ejakulasie (saadstorting) plaas nog voordat die penis in die vagina is. By impotensie is ereksie onmoontlik; indien die ereksie tydens koïtus verdwyn, vind geen ejakulasie plaas nie. Hierdie toestand is meestal aan die een of ander sielkundige probleem te wyte. 'n Bekende koïtussteurnis by vroue is vaginisme.
    Die binnedringing van die penis in die skede is dan nie moontlik nie omdat die vrou teen haar wil die spiere van die bobene en bekkenvloer saamtrek. Indien penetrasie as gevolg van 'n te noue vagina-ingang nie kan geskied nie, word dit pseudovaginisme genoem. Die vervoer van sowel die eiersel as die saadselle kan belemmer word deur 'n afsluiting of 'n steurnis in die bewegings van die eierleiers, dikwels as gevolg van 'n eierleierontsteking (salpingitis).
  • Aandoeninge van die baarmoeder, waardeur die in planting van 'n bevrugte eiersel verhinder word. Dit kom onder meer voor by 'n baarmoederslymvliesontsteking (endometritis).

Ondersoek

Daar word gewoonlik nie met 'n fertiliteitsondersoek begin voordat een jaar van onbeskermde koïtus (dus sonder voorbehoedmiddels) met geen swangerskap verloop het nie. Die ondersoek word sowel op die vrou as op die man gedoen, gewoonlik deur ʼn ginekoloog.

Dit begin gewoonlik met 'n algemene opname van die voorgeskiedenis van die man en die vrou. Die geneesheer vra na operasies, siektes en die gebruik van medisynes wat die vrugbaarheid sou kon beïnvloed het. Vervolgens doen hy 'n liggaamlike ondersoek waartydens hy veral aandagskenk aan die geslagsorgane en die spesifieke geslagskenmerke. Indien hier geen afwykings gevind word nie, volg 'n semenondersoek (spermanalise) waarvoor die semen gewoonlik deur masturbasie verkry word.

By ejakulasie moet die hoeveelheid meer as 1 ml wees. Die getal sperms moet minstens 20 miljoen per milliliter wees, waarvan 40% na ongeveer 2 uur nog beweeglik moet wees en 60% 'n normale vorm moet hê. Indien dit nie die geval is nie, word die semenondersoek nog enkele male herhaal. Indien die saad (ejakulaat) geen saadselle (sperms) bevat nie (asoöspermie), is daar geen kans op bevrugting nie. 'n Testisbiopsie (hier word 'n stukkie testisweefsel verwyder en ondersoek) kan dalk lig werp op die oorsaak.

By die vrou word nagegaan of ovulasie wel plaasvind. Die eenvoudigste manier om dit vas te stel, is deur die temperatuurmetode. Dit berus op die aanleg van 'n basale temperatuurkurwe (BTK). Soggens sodra die vrou wakker geword het en voordat sy opstaan, moet sy haar liggaamstemperatuur meet

Tydens ovulasie sal daar 'n temperatuurstyging van 0,5 °C wees. Daar is ook ander metodes soos hormoonbepaling en ondersoeke van die wand van die vagina en die slymvlies van die baarmoeder. Met histerosalpingografie (histerografie) kan misvormings van die uterus en afsluitings van die eierleiers aangetoon word. Daar word tydens hierdie ondersoek 'n kontrasstof in die baarmoeder gespuit en röntgenfoto's geneem. As die eierleiers goed funksioneer, sal die kontrasstof daarin aangetoon word.

Vir hierdie ondersoek word die pasiënt vir 'n dag in 'n hospitaal of kliniek opgeneem. 'n Ander ondersoek om die deurganklikheid van die eierleiers te bepaal, is pertubasie (pertubering). Hierby word gas in die baarmoeder gepers en deur drukmeting nagegaan of dit na die buik ontsnap. Ten slotte kan deur middel van laparoskopie ('n dun buis word in die buikholte ingelaat) inspeksie van die inwendige geslagsorgane gedoen.

Dit geskied onder narkose en deur 'n klein snytjie. Dit is ook belangrik dat die slym van die baarmoedernek (serviks) ondersoek word. Dit gebeur ten tyde van ovulasie omdat die serviksslym slegs dan vir die binnedringing van die saadselle geskik is. By die Hühner-toets word binne 10 uur na die koïtus een druppel vog uit die vagina en uit die serviks ondersoek. Die vaginavog (skedevog) moet baie saadselle bevat wat grotendeels dood is omdat hierdie vog suur is, terwyl daar in die serviksvog baie beweeglike sperms moet voorkom.

Behandeling

By ongeveer 20% kinderlose egpare toon 'n fertiliteitsondersoek afwykings by een of albei huweliksmaats aan; by 60% van die gevalle is daar sprake van subfertiliteit, terwyl daar by die res van die gevalle geen duidelike oorsaak gevind kan word nie. Die behandeling van fertiliteitsteurnisse hang af van die oorsaak.

By 'n normale steurnis kan die toediening van hormone sinvol wees; by sommige gevalle is 'n operasie nodig. Na histerosalpingografie tree daar in sekere gevalle 'n swangerskap in, wat aandui dat die ondersoek in 'n mate ook terapeutiese waarde besit.

Indien ovulasie nie voorkom nie, is dit dikwels moontlik om met ʼn medikament ovulasie op te wek (ovulasie-induksie). Indien die oorsaak van onvrugbaarheid by die man lê en geen ander behandeling moontlik is nie, kan kunsmatige inseminasie plaasvind. As gevolg van nuwe behandelingsmetodes word die aantal kinderlose huwelike voortdurend kleiner.

Bronnelys

  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409702, volume 29, bl. 24–26
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.