Vrug

'n Vrug is 'n gewysigde vrugbeginsel en word dus slegs by bedeksadige plante aangetref. Dikwels neem ander dele van 'n blom (blomdek, blombodem, vrugsteel, skutblare) deel aan die vorming van vrugte en sulke vrugte staan bekend as skynvrugte. Die vrug van 'n aarbei is byvoorbeeld 'n gewysigde, vlesige blombodem en die pitjies is eintlik die vruggies.

By pynappels word die skutblare van die blomme vlesig ten einde die skynvrug te vorm. Vrugte kan 'n groot verskeidenheid van vorme aanneem en dikwels is dit slegs 'n struktuur waaruit die sade vrygestel word en geen verdere funksie het nie. Veral in die geval van vlesige vrugte is die doel van die vrug egter om diere aan te trek wat die vrugte kan eet en so die sade versprei. Die verspreidingseenheid of diaspoor van 'n plant kan dus of 'n saad, of 'n hele vrug wees.

In plantkunde, is 'n vrug dié deel van 'n blomdraende plant wat die weefsel van die blom, een of meer ovaria, en in sommige gevalle ook ondersteunende weefsel verteenwoordig.

Vrugte is 'n effektiewe metode vir hierdie plante om hulle saad te versprei sodat dit 'n plek kan vind waar dit kan ontkiem en groei. Die vrug verleen ook beskerming aan die saad.

Heelwat plante dra eetbare vrugte, en hulle het veral vinnig vermeerder deur die beweging van mense en diere wat saadverspreiding verbeter het, maar ook as 'n bron van voedsel. A.g.v. die wye beskikbaarheid hiervan het mense en talle diere op vrugte as voedsel begin staatmaak.[1]

Vrugte lewer 'n wesenlike deel van die wêreld se landbou-uitset, en sommige vrugte soos appels, druiwe, piesangs en granate het uitgebreide kulturele en simboliese betekenisse ontwikkel.


Anatomie

Die meeste vrugte word uit die vrugbeginsel van die stamper gevorm. Die stamper bestaan uit een of meer vrugblare wat aan die rande of aan die binnekant saadknoppe dra. By sommige plante het die vrugbeginsel sodanig ontwikkel dat die saadknoppe op 'n sentrale as gedra word. Al die vrugblare saam staan bekend as die ginesium.

By die meeste blomme is hulle vergroei tot 'n vrugbeginsel en word daar van 'n sinkarpe ginesium gepraat. By blomme soos die ranonkel vorm elke vrugblaar egter 'n aparte stamper en in daardie geval is die ginesium apokarp. Ook die talle vruggies op die vlesige, gewysigde blombodem van 'n aarbei is 'n apokarpe ginesium. 'n Basiese onderskeid word gemaak tussen enkelvoudige vrugte, waar die vrug uit die vrugbeginsel van 'n enkele blom ontstaan, en saamgestelde vrugte, waar verskeie blomme en die bloeias deelneem aan vrugvorming.

Enkelvoudige vrugte het almal 'n perikarp (vrugwand) wat uit 3 lae bestaan, naamlik die eksokarp (buitenste laag), die mesokarp (middelste laag) en die endokarp (binneste laag). By 'n vrug soos 'n perske is hierdie lae duidelik waarneembaar in die vorm van onderskeidelik die skil, die vleis en die steen van die pit.

Enkelvoudige vrugte word weer onderverdeel in droë vrugte en vlesige vrugte, en droë vrugte kan weer onderverdeel word in oopspringende en nie-oopspringende vrugte. 'n Kenmerk van vlesige vrugte is dat hulle geweldig toeneem in grootte tydens hul ontwikkeling en dele van die perikarp of die hele perikarp is dik en vlesig.

Partenokarpie

By die meeste plante moet bestuiwing en bevrugting eers plaasvind voordat 'n vrug kan ontwikkel. In enkele gevalle ontwikkel die vrugte egter wel sonder dat bevrugting plaasgevind het; die verskynsel staan bekend as partenokarpie. Bekende gevalle waar hierdie verskynsel plaasvind, is piesangs (Musa paradisiaca), nawellemoene (Citrus sinensis) en pynappels (Ananas comosus). By piesangs en pynappels kom die proses natuurlik voor, maar by lemoene word dit kunsmatig geïnduseer.

Vrugsoorte

Vrugte kan in twee groepe verdeel word: sukkulente vrugte en droë vrugte, wat weer verder verdeel kan word. As vrugte enkel voorkom, word dit enkelvoudige vrugte genoem. Indien veelvuldig word dit samegestelde of versamelvrugte genoem.

Sukkulente Vrugte

Dit is die vrugte met 'n vlesige perikarp, en hulle is gewoonlik sappig en soet. Die meeste eetbare vrugte, behalwe die neute en peulvrugte val in hierdie groep wat weer in groepe verdeel kan word. Ware sukkulente en vals sukkulente vrugte.

Ware sukkulente vrugte

Dit word gevorm deur die ontwikkeling van slegs die vrugbeginsel.

  • Steenvrug
  • Bessie
  • Pepo
  • Hesperdium (Oranjevrug)

Vals sukkulente vrugte

Hierdie vrugte ontwikkel uit sowel die vrugbeginsel as ander dele van die blom. Tipiese voorbeelde is die appel en die peer, waarby die vrugbeginsel 'n onderstaande posisie inneeem en deur die blombodem omsluit word. Dit vergroot dan om die vrug te vorm. Die buitenste deel van die vrug - die deel wat ons eet - is afkomstig van die blombodem of ander blomdele. Die vrugbeginsel ontwikkel in die binneste deel, of kern (klokhuis), wat dan die sade bevat.

Samegestelde vrugte

Blomme groei dikwels in groepe, wat bloeiwyses genoem word. Soms word al die blomme waaruit die bloeiwyse bestaan vlesig en vorm dan 'n enkele vrugagtige struktuur. Dit word 'n samegestelde vrug genoem. Hierdie eienaardige soort vrugvorming is nie baie algemeen nie. Vye, moerbeie en pynappels is voorbeelde hiervan. Die klein saadjies binne-in die vrug is in werklikheid aparte vruggies, sogenaamde dopvrugte.

Versamelvrugte

Partykeer het 'n enkele blom nie slegs een nie, maar 'n aantal vrugbeginsels. Wanneer hulle bevrug word, is die resultaat 'n groep klein vruggies wat ineengroei en 'n versamelvrug genoem word.

Brame en frambose word op hierdie manier gevorm en bestaan uit trossies klein steenvruggies. In die geval van die aarbei is elke pitjie 'n vrug (dopvrug). Die vlesige deel is die blombodem. 'n Aarbei is dus nie alleen 'n vals vrug nie, maar ook 'n versamelvrug.

Droë Vrugte

Dit is al die vrugte waarby, wanneer die saad ryp is, die perikarp taai of hard en droog is.

Oopbarstende droë vrugte

Tot hierdie groep behoort die vrugte wat, wanneer hulle ryp en droog is, uit hul eie oopbars en die sade laat ontsnap

  • Peulvrug
  • Hou
  • Doosvrug

Geslote droë vrugte

Tot hierdie groep behoort die vrugte wat, wanneer hulle ryp en droog is, nie vanself oopbars en die sade laat ontsnap nie.

  • Dopvrug
  • Graanvrug
  • Vleuelneut
  • Neut

Sien ook

Bronnelys

  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409656, volume 24, bl. 199
  • KENNIS, vol 8, 1980, bl. 1524–1525, ISBN 0 7981 0830 4

Verwysings

  1. Lewis, Robert A. (1 Januarie 2002). CRC Dictionary of Agricultural Sciences. CRC Press. ISBN 0-8493-2327-4.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.