Vrouebossie

Die vrouebossie (Geranium incanum) is 'n kruidagtige grondbedekker. Hierdie spesie is endemies aan Suid-Afrika.[1] Dit vorm lang, dun kruipende stingels en word 30 cm hoog. Die blare is kantagtig, fyn verdeeld en immergroen. Pienkpers blomme verskyn gedurende die lente of somer – enige tyd tussen September en Mei. Die delikate blomme bestaan uit vyf hartvormige pienk kroonblare met pers are.

Vrouebossie
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eudicots
Klade: Rosids
Orde: Geraniales
Familie: Geraniaceae
Genus: Geranium
Spesie:
G. incanum
Binomiale naam
Geranium incanum
Burm.f., (1825)
Sinonieme

Geranium multifidum Sweet
Geranium incanum var. typicum R. Knuth in Engl.
Geranium incanum var. multifidum (Sweet) Hillard & B.L. Burtt
Geranium incanum var. incanum Burm. f.
Geranium elongatum Salisb.
Geranium caffroides R. Knuth

Galery

Verspreiding

Afkomstig van kusstreke in die Wes-Kaap en Oos-Kaap.

Tuinbou

Die vrouebossie is 'n maklike grondbedekker wat vinnig groei en rypbestand is. Dit lyk baie goed in plantbakke, hangmandjies, en heel voor in 'n blombedding.

Dit kan in die son geplant word, maar in warm gebiede sal dit beter vaar in gedeeltelike skadu. Gee dwarsdeur die jaar water en plant in ligte, goedgedreineerde grond met heelwat kompos. 3:1:5 kunsmis kan in die groeiseisoen toegedien word.

Voortplanting geskied deur steggies. Die vrouebossie saai ook homself en klein plantjies sal self in die tuin opkom.

Tradisionele gebruike

Die vrouebossie staan ook bekend as bergtee, omdat die blare soms gebruik word as plaasvervanger vir tee. Treksels van die blare word ook tradisioneel gebruik vir menstruele probleme, geslagsiektes en blaasinfeksie.

Sien ook

Bronne

  • Pienaar, Kristo: Die Suid-Afrikaanse watter blom is dit? 2000. Struik Uitgewers. ISBN 1-86872-442-5
  • Kearney, Anneke: Begin Inheems. 2008. Metz Press. ISBN 978-1-919992-93-8
  • Kirsten, Keith: Keith Kirsten se volledige tuingids vir Suid-Afrika. 1992. Human & Rousseau. ISBN 0-7981-2924-7
  • Joffe, Pitta: Skeppende tuinmaak met inheemse plante. 2003. Briza Publikasies. ISBN 1-875093-36-2
  • Plants of the World Online

Verwysings

  1. "SANBI-rooilys" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Junie 2020.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.