Vlag van die Cookeilande
Die nasionale vlag van die Cookeilande, amptelik deel van Nieu-Seeland, is op 4 Augustus 1979 in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n blou Britse vaandel met vyftien wit sterre in sirkelvorm op die wapperkant.
Gebruik | Burgerlike- en staatsvlag en vaandel |
---|---|
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 4 Augustus 1979[1] |
Ontwerp | ’n Blou Britse vaandel met vyftien wit sterre in sirkelvorm op die wapperkant. |
Simboliek
Die vyftien sterre op die wapperkant stel die vyftien eilande wat die Cookeilande uitmaak voor. Dit is Tongareva, Rakahanga, Manihiki, Pukapuka, Nassau, Suwarror, Palmerston, Aitutaki, Manuae, Takutea, Aitu, Mitiaro, Mauke, Rarotonga en Mangaia. Die blou kleur van die vlag stel die oseaan en die vredeliewende aard van die Cookeilandbewoners voor.
Geskiedenis
Tot 1888 het die onafhanklike Koninkryk Rarotonga ’n horisontale rooi-wit-rooi vlag met drie blou sterre gevoer. In 1888 het die koninkryk ’n Britse protektoraat geword. Die Unievlag is as geus tot die vlag toegevoeg. In 1893 is die drie sterre verwyder en is ’n wit skry met ’n palmboom in die Unievlag in die skildhoek geplaas. In 1900 het Brittanje die eilande geannekseer en die administrasie daarvan aan Nieu-Seeland oorhandig. Van 1902 af is die vlag van Nieu-Seeland as amptelike vlag gebruik. Op 4 Augustus 1965 het die Cookeilande interne outonomie verkry en in 1973 sy eie vlag. Dit was ’n groen baan met vyftien goue sterre in ’n sirkelvorm. Geel en groen simboliseer die mense se lewe en ewige groei. In 1979 het die Cookeilande oorgeskakel na ’n blou Britse vaandel met vyftien wit sterre in sirkelvorm.
- Vlag van die Koninkryk Rarotonga, 1858 tot 1888
- Vlag van die Koninkryk Rarotonga, 1888 tot 1893
- Vlag van die Federasie die Cookeilande, 1893 tot 11 Junie 1901
- Vlag van die Cookeilande, 11 Junie 1901 tot 24 Maart 1902
- Vlag van die Cookeilande, 24 Maart 1902 tot 23 Julie 1923
- Vlag van die Cookeilande, 23 Julie 1973 tot 4 Augustus 1979
Ander vlae
- Vlag van die Britse koning se verteenwoordiger in die Cookeilande
Soortgelyke vlae
Verwysings
- "Cookeilande" (in Engels). Flags of the World. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 15 Mei 2019.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vlae van die Cookeilande. |
- (en) Cookeilande by Flags of the World.
- (en) "Flag of Cook Islands". Encyclopædia Britannica. Besoek op 15 Mei 2019.