Vlag van Finland
Die nasionale vlag van Finland is op 28 Mai 1918 amptelik aanvaar. Die vlag vertoon ’n seeblou Skandinawiese kruis op ’n wit veld.
Bynaam | Siniristilippu |
---|---|
Gebruik | Burgerlike vlag en vaandel |
Verhouding | 11:18 |
Goedgekeur | 28 Mei 1918[1] |
Ontwerp | Blou Skandinawiese kruis op ’n wit veld |
Geskiedenis
Die eerste “vlag van Finland”, sover bekend, is in 1848 vertoon saam met die sing van die volkslied, die Maamme. Die motief vir daardie vlag was die Finse wapenskild, omring deur lourierblare, op ’n wit veld.
Die huidige bloukruisontwerp is vir die eerste keer in Finland deur die NyländskaJaktklubben, ’n seiljagklub wat in 1861 in Helsinki gestig is. Saam met die blou kruis op die wit veld het die seiljagklub die wapenskild van die provinsie Uusimaa met ’n kroon daaroor en in twee gekruisde takke in die skildhoek bevat. Buiten die posisie van die kruis, was die vlag soortgelyk aan die vlag van die St. Petersburg-seiljagklub wat die vorige jaar gestig is. Die ontwerp kan teruggespoor word na die vaandel van die Russiese Vloot wat ’n blou Sint Andrieskruis op ’n wit veld gebruik. Gedurende die Krimoorlog het Finse handelskepe wat deur die Brits-Franse vloot gevang is, die vlag van Sint Joris vertoon, wat gebaseer was op die vlag van die Russiese doeanediens. In hierdie variant was die kruis dunner as in die moderne vlag en die verhouding was 1:1. ’n Ander bloukruisvlag is in 1861 amptelik aanvaar vie die gebruik van privaat vaartuie.
In 1910 het die Russiese owerhede, in verband met die Russifisering van Finland, verklaar dat ’n Russiese vlag in die skildhoek gevoeg moet word. Dit het egter teenstand ontlok; hierdie vlag is bespot as die “slawevlag” (orjalippu) en die meeste Finne het geweier om dit te vertoon. In plaas daarvan is ’n vaantjie (’n driehoekige vlag), sonder hierdie modifikasie, vertoon en op dié manier is die besluit rakende die vlag omseil.
Die staatsvlag is in 1922 nog verder gewysig toe die kroon verwyder is, en weer in 1978 toe die skildvormige wapenskild in ’n reghoekige vorm verander is.
Vorige vlae
- Handelsvlag van die Finse hertogdom
- Tydelike staatsvlag van Finland, Desember 1917 tot Mei 1918
- Vlag van Finland, 1918 tot 1920
- Staatsvlag van Finland, 1918 tot 1920
- Militêre vlag van Finland, 1918 tot 1920
- Vlag van die Finse regent, 1918 tot 1919
- Staatsvlag van Finland, 1920 tot 1978
- Militêre vlag van Finland, 1920 tot 1978
- Vlag van die president van Finland, 1920 tot 1944 en 1946 tot 1978
- Vlag van die president van Finland, 1944 tot 1946
Ontwerp
Grootte
Volgens die Finse reg is die verhoudign van die vlag 11:18, wat baie naby aan die goue snit is. Die swawelstertstaatsvlag is een eenheid langer en die sterte is vyf eenhede lank. Die spitswydte van die blou kruis is drie maateenhede wat dit ’n vertikale verhouding van 4:3:4 en ’n horisontale verhouding van 5:3:10 gee. Wanneer dit aan ’n vlagpaal vertoon word, is die aanbeveling dat die vlag se wydte gelyk is aan een sesde van die hoogte van die vlagpaal.
Kleure
Die kleure vir die staatsvlagword in CIE 1931 en CIE 1976-standaarde gespesifiseer, asook in die Sweedse standaard SS 01 91 22 en in Pantone:
Kleurskema | Blou | Rooi | Geel | |||
---|---|---|---|---|---|---|
Heksadesimaal | #002F6C | #C8102E | #FFC72C | |||
RGB | 24-68-126 | 181-28-49 | 237-167-0 | |||
CIE (x, y, Y) | 0.1856, 0.1696, 5.86 | 0.576, 0.312, 10.9 | 0.486, 0.457, 45.7 | |||
CIE (L, a, b) | 29.06, 7.24, -36,98 | 39.4, 59.0, 29,6 | 73.4, 14,8, 79.0 | |||
SS 01 91 22 | 4060-R90B | 1090-Y90R | 0080-Y204 | |||
Pantone | 294 C | 186 C | 123 C |
Daar is geen amptelike RGB-definisie vir die kleure nie omdat die toonskaal te klein is. Die benaderde kleure in sRGB vanaf die CIE L*a*b*-kleure word in die tabel hier bo weergegee. Die geel lê in werklikheid buite die sRGB-kleurruimte. Die blou word “seeblou” genoem wat ’n donker tot medium blou is. Dit is nie ’n baie donker vlootblou nie en ook nie ’n helder groenerige blou soos turkoois of siaan nie. Dit kan vervang word deur die heraldiese tinktuur van asuur. Persone wat die vlag wil herskep kan die hex-kleur #002F6C gebruik. Die RGB-waarde wat van die Pantone (294 C) afgelei is, t.w. 0-47-108 is ook naby aan die korrekte kleur.[2]
Rooi en geel word gebruik in die wapenskild wat op die staatsvlag vertoon word.
Gebruik
Die Finse vlag word in drie hoofvariante gebruik. Die gewone nasionale vlag word deur alle burgers, organisasie en Finse munisipaliteite en landskappe gebruik. Enigeen mag die nasionale vlag vertoon waar hulle dit geskik ag.[3] Die reghoekide staatsvlag word gebruik deur Finse nasionale en landskapregeringsliggame,[4] deur die katedraalkapittels van die twee nasionale kerke, die Evangelies-Luterse kerk en die Ortodokse Kerk van Finland, asook deur nie-vlootvaartuie van die staat.
Die swawelstert- nasionale vlag, wat ook die vlootvaandel is, word deur die Finse verdedigingsmagte gebruik. Die presidensiuele standaard en die bevelsvlae van die minister van verdediging, die hoof van die weermag en die bevelvoerder van die Finse vloot word slegs deur die onderskeie persone vertoon.
Alle openbare liggame asook die meeste privaat burgers en ondernemings vertoon die vlag op amptelike vlagdae in Finland. Buiten die amptelike vlagdae, is daar nagenoeg tien nie-amptelike vlagdae wat in die algemeen gevier word. Naas vlagdae word geen vlae of korporatiewe vlae normaalweg vertoon nie.
Die Finse vlag word om 8:00 gehys en teen sonsondergang, maar nie later as 21:00 nie, gestryk. Op onafhanklikheidsdag (6 Desember) word die vlag tot 20:00 vertoon, ongeag die donker. Per geleentheid van nasionale tragedies, kan die minister van binnelandse sake aanbeveel dat die vlag regdeur die land halfmas vertoon word.
As ’n spesiale gebruik in Finland word die vlag van 18:00 op die vooraand van midsomer tot 21:00 op midsomersdag vertoon. Dit word gedoem om die feit te simboliseer dat die donkerte geen plek van Finland bereik op midsomersnag nie. Midsomer word ook gevier as die dag van die Finse vlag.[5]
Ander reëls
Volgens Finse wette is die verbode om die vlag te skend of om die op oneerbiedige wyse te gebruik. Dit is ook onwettig om ’n vlag sonder toestemming van die vlagpaal te verwyder. Skuldiges kan ’n boete opgelê word vir ontering van die vlag.
Finse wette verbied ook die gebruik van die presidensiële standaard of die staatsvlag sonder toestemming, asook die toevoeging van enige bykomende simbole tot die vlag. ’n Vlag met verskillende kleure of geometrie as wat die wette voorskryf, mag ook nie verkoop word nie. Dit word gesien as oortredings van die vlagregulasies wat tot ’n boete kan lei.
Daar is ook algemene reëls oor hoe om die vlag met eerbied te gebruik. Die vlag moet nie vuil of beskadig wees nie. Die vlag mag nie aan die grond raak nie. Wanneer die vlag gewas is moet dit binnenshuis gedroog word. ’n Vlag wat verweer is moet weggedoen word deur dit te verbrand (hoewel nie met die bedoeling om dit oneer aan te doen nie), of deur dit in klein stukke te sny sodat dit nie as dele van die vlag herken kan word nie. Die vlag moet nie in die grond of die see begrawe word nie (insluitend om dit in die rommel te gooi).
Ander vlae
Vlae en standaarde
- Staatsvlag van Finland, sedert 1978
- Militêre vlag van Finland, sedert 1978
- Vlag van die Finse Lugmag
- Variant van die Finse vlootgeus
- Presidensiële standaard van Finland, sedert 1978
Verwante vlae
- Vlag van Swede
- Vlag van Ysland
- Vlag van Åland
- Vlag van die Faroëreilande
Voorstelle
Kort nadat Finland in 1917 onafhanklikheid verkry het, is ’n kompetisie geloods vir die ontwerp van ’n Finse vlag. Verskeie ontwerpe is ingedien. In terme van kleure kon die inskrywings hoofsaaklik in twee kategorieë gedeel word – een met rooi en geel wat van die Finse wapenskild kom, en die ander met blou en wit soos wat die vlag kleure vantevore reeds was.
Een inskrywing se ontwerp het die kruis van die Orde van die Dannebrog bevat, maar met ’n geel kruis op ’n rooi veld. ’n ander ontwerp het diagonale blou en wit bane gehad, maar het kritiek ontlok deurdat dit skynbaar eerder voor ’n barbierswinkel gebruik sou kon word as om ’n nuwe onafhanklike land te verteenwoordig. Akseli Gallen-Kallela het ’n soortgelyke kruisvlag voorgestel, maar met die kleure omgeruil (’n wit kruis op ’n blou veld) maar dit sou te na aan die Sweedse vlag en die Griekse vlag van daardie tyd lyk. Eindelik het die kunstenaars Eero Snellman en Bruno Tuukkanen die finale vorm van die vlag gespesifiseer. Volgens tradisie is die vlag gebaseer op ’n ontwerp deur die digter Zachris Topelius wat uit ongeveer 1860 dateer.[6]
- Vlagvoorstelle vir Finland
- Vlagvoorstelle vir Finland
Verwysings
- (en) "Finland". Flags of the World. Besoek op 17 Februarie 2021.
- (en) "Pantone 294C". rgbTo.
- (fi) "Laki Suomen lipusta (380/1978). 4 §". Besoek op 3 Oktober 2007.
- (fi) "Laki Suomen lipusta (380/1978). 5 §". Besoek op 3 Oktober 2007.
- (fi) "Asetus Suomen lipusta (383/1978)]. 3–4 §". Besoek op 3 Oktober 2007.
- (en) Inglefield, Eric (1978). Flags. Ward Lock. p. 53.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vlae van Finland. |
- (en) Finland by Flags of the World.
- (en) "Vlag van Finland". Encyclopædia Britannica. Besoek op 17 Februarie 2021.