Vir altyd
Vir altyd is 'n Afrikaanse rolprent wat op 12 Februarie 2016 in teaters begin draai het. Donnalee Roberts vertolk die rol van Nina en Ivan Botha as Hugo. Nina word voor die kansel gelos, sy kan nie die vernedering verduur nie en besluit om haar perfekte dag ten volle te geniet. Nina en Hugo word die volgende oggend op 'n vliegtuig wakker, besig om in Mauritius te land. Wat sal hulle doen?
Vir altyd | |
---|---|
Regisseur | Jaco Smit |
Produksieleier | Danie Bester Ivan Botha Donnalee Roberts |
Draaiboek | Ivan Botha Donnalee Roberts |
Met | Laré Birk Ivan Botha Elize Cawood Wilson Dunster Donnalee Roberts Illse Roos Dirk Stolz |
Musiek deur | Benjamin Willem |
Uitgereik | 12 Februarie 2016 |
Land | Suid-Afrika |
Taal | Afrikaans |
IMDb-profiel |
Hoofrolspelers
- Ivan Botha as Hugo
- Donnalee Roberts as Nina
Storielyn
Hugo en Nina was beste vriende kleintyd. Daar was altyd avontuur, maar nou is die verlede net 'n pynlike herinnering.
Op ouderdom agt-en-twintig keer Hugo, 'n suksesvolle reisfotograaf, vir die eerste keer in 10 jaar terug na sy ouerhuis in die Paarl. Onbewus daarvan dat dit die vooraand van Nina, 'n aspirant-sprokiesboekskryfster en eienares van 'n boekwinkel, se troudag is.
Hugo word onverwags deel van Nina se groot dag, maar haar mooiste oomblik verander egter in 'n nagmerrie toe haar aanstaande, Retief, nie trou aan haar kan beloof nie en haar voor die kansel los. Nina is histeries en dring daarop aan dat daar voortgegaan word met haar spogtroue, al is dit sonder haar bruidegom. Die sjampanje vloei en na die groot partytjie, skrik Hugo en Nina wakker op 'n vliegtuig wat gereed maak om op die tropiese eiland van die liefde, Mauritius, te land.
Daar ontmoet hulle twee getroude paartjies: die Bothas, wat met 'n tweede wittebrood hul huwelik probeer red, en die Van Zyls, wat met vakansie is om hul goue huweliksherdenking te vier.
Hugo en Nina was heeltemal onvoorbereid op die avontuur wat hul 'wittebrood' vir hul inhou. Wit strande en watervalle was nie al nie. Die seer verlede word oopgekrap en ou liefde kan nie meer ontken word nie. Maar dan daag Retief op en dreig om Hugo en Nina se geluk te verwoes. Slegs Nina kan haar toekoms bepaal.