Venice, Los Angeles
Venice is 'n woonbuurt en seeoord in die Westside van Los Angeles, sowat drie myl suidoos van Santa Monica.
Venice | |
|
|
Land | Verenigde State van Amerika |
---|---|
Deelstaat | Kalifornië |
Stad | City of Los Angeles |
Stigting | 1905 |
Regering | |
- Stadsraad (City council) | Mike Bonin (D) |
Oppervlakte | |
- Totaal | 3,1 km² (1,2 myl²) |
Bevolking (2008) | |
- Totaal | 40 885 |
- Digtheid | 4 758/km² (12 323,2/myl²) |
ZIP code | 90291 |
Areakode(s) | 310, 424 |
Venice is in 1905 deur die tabak-miljoenêr Abbot Kinney (1850–1920) as 'n seeoord en 'n Amerikaanse weergawe van die Italiaanse Venesië aan die Stille Oseaankus van Suid-Kalifornië gestig - en as 'n kunstenaarskolonie waar 'n kulturele herlewing, 'n Amerikaanse Renaissance, bewerkstellig sou word. Venice het tot 1926, toe dit met Los Angeles saamgesmelt het, as 'n selfstandige munisipaliteit bestaan. Oorspronklik is die nedersetting amptelik Venice of America genoem.
Baie van die jong nedersetting se infrastruktuur en boukuns is deur die Italiaanse Venesië geïnspireer - so was daar 'n Grand Canal Boathouse waar Venice se gondels kon aandoen (hulle is in St. Loius, Missouri gebou) asook 'n St. Mark's Hotel - waar een van die eerste hysbakke in die Amerikaanse Weste geïnstalleer is en wat in 1958 as een van die tonele vir die rolprent A Touch of Evil gedien het waarin Orson Welles die hoofrol vertolk het.[2]
Ná die ontdekking van olie in die gebied in 1929 is te midde van woonbuurte met die ontginning daarvan begin. In die laat 1950's het Venice tot die beatnik-hoofstad van Suid-Kalifornië ontwikkel, en later, gedurende die 1960's, tot 'n trekpleister vir aanhangers van die hippie-leefstyl. Vanaf die 1980's is inwoners van kanaalbuurte, onder wie digters, skrywers, kunstenaars en ander mense wat op lae huurgelde en eiendomspryse aangewese was, toenemend deur gentrifikasie bedreig en verdring.[3]
Vandag staan Venice bekend vir sy kanale, sandstrande en die sirkusagtige voetgangerpromenade Ocean Front Walk met 'n lengte van 2,5 myl wat 'n gewilde uithangplek vir straatkunstenaars en smouse geword het.
Verwysings
- Vincenza Scarpaci: The Journey of the Italians in America. Gretna LA: Pelican Publishing 2008, bl. 56
- Elayne Alexander with Bryan L. Mercer: Postcard History Series - Venice. Charleston SC • Chicago IL • Portsmouth NH • San Francisco CA: Arcadia Publishing 2009, bl. 36, 51
- State of California - California Coastal Commission: California Coastal Resource Guide. Berkeley · Los Angeles · London: University of California Press 1987, bl. 294