Uvs Nuur-bekken

Die Uvs Nuur-bekken, Uvsmeerbekken of Oebsoenoer-laagte (Mongools: Увс нуурын хотгор; Russies: Убсунурская котлови́на, Oebsoenoerskaja kotlowina) is ’n kwesbare geslote bekken op die grens tussen Mongolië en die Republiek Tiwa in Rusland. Dit is genoem na die Uvsmeer, ’n groot, vlak soutmeer in die middel van die bekken. Verskeie kleiner mere lê daarrondom.[1]

Uvsmeerbekken*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Die bekken soos vanuit die lug gesien.
Lande Vlag van Rusland Rusland
Vlag van Mongolië Mongolië
Tipe Natuur
Kriteria ix, x
Verwysings 769
Streek Asië
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 2003  (27ste Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Die gebied bestaan uit ’n kombinasie van hooglande en laagtes in die Tannu-Ola- en Altai-bergstreke. Die wêreld se mees noordelike woestyn en die Noordelike Halfrond se mees suidelike toendrastreek ontmoet mekaar hier. Die Uvs Nuur-bekken is sedert 2003 ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Argeologie

Die Uvs Nuur-bekken se belangrikheid lê in sy kulturele erfenis, veral omdat dit die plek in Sentraal-Asië is met die grootste konsentrasie onbestudeerde argeologiese artefakte, veral grafheuwels, rotstekeninge en klipbeelde uit Middeleeuse nedersettings en Boeddhistiese tempels. Daar is tot 20 000 grafheuwels, waarvan baie ouer as die Egiptiese piramides is.[2]

Die bekken is in 1995 benoem as ’n wêrelderfenisgebied as "een van die grootste ongerepte stroomgebiede in Sentraal-Asië waar 40 000 argeologiese terreine gevind kan word van histories beroemde nomadestamme soos die Skitiërs, Turke en Hunne."[3]

Flora en fauna

Die Mongoolse steppe.

Die oppervlakte van die bekken is 10 000 km2.[4] Die grootste deel van die meer lê in Mongolië en die noordelike deel in Rusland.

’n Groot verskeidenheid klimate kom hier voor, onder meer gletsers, bergtoendra, hoë graslande en groot bergtaigastreke. Daar is ook woudagtige steppe, boomlose steppe, halfdroë woestyne en skuiwende sandduine. Dit is ’n mooi en hoogs gediversifiseerde natuurlike habitat.[5]

Vanweë die ligging daarvan op die spits van Siberiese en Mongoolse terreine, toon die gebied se fauna en flora ’n groot biodiversiteit vir middel-breedtegrade. Dierespesies wat in berge en op toendra voorkom, soos die Siberiese ree en Altai-koningsfisant, floreer hier. Die bedreigde sneeuluiperd kom ook hier voor, sowel as die Kaspiese rooitakbok, los en veelvraat. Op die steppe word die Mongoolse lewerik, jufferkraanvoël en Siberiese eekhorinkie aangetref. In die woestyngebiede kom die wildepou en Sjinese renmuis voor. Net die voëlspesies tel 359. Aangesien die bekken ’n bewaarde gebied is, het baie antieke spesies wat in ander gebiede uitgesterf het, hier ’n heenkome gevind.[5]

Bevolking

Nomadiese joerte (tente).

Die bevolkingsdigtheid in die Uvs Nuur-bekken is baie laag. Die gebrek aan nywerhede en die bewoners se tradisionele lewe sorg vir ’n ongerepte natuur en die landskap het dus feitlik geen tekens van ’n negatiewe menslike invloed nie.[2]

Beide die Russiese en Mongoolse dele is die tuiste van nomadiese veewagters.

Verwysings

  1. "Uvs Nuur Basin in Mongolia". Nasa.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2008. Besoek op 7 Februarie 2008.
  2. "The Ubsunur Hollow" (in Russies). Greenpeace. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 September 2019. Besoek op 7 Februarie 2008.
  3. "Russia's First World Heritage Site" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Februarie 2001. Besoek op 31 Desember 2006.
  4. "Uvs Nuur Basin, Russian Federation (Tuva) & Mongolia". United Nations Environment Programme. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2007. Besoek op 5 Februarie 2008.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.