USS Ticonderoga (CV-14)
Die USS Ticonderoga (CV/CVA/CVS-14) is een van 24 Essex-klas vliegdekskepe wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir die Amerikaanse Vloot gebou is. Dit is die vierde skip van die Vloot wat die naam gedra het; dit is vernoem na die Slag van Fort Ticonderoga - wat bekend geraak het tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog.
Vaartuig klas | Ticonderoga-class aircraft carrier, Essex-klas vliegdekskepe |
---|---|
Kort naam | Ticonderoga |
Konflik | Tweede Wêreldoorlog |
Vernoem na | Battle of Ticonderoga |
Operateur | Amerikaanse Vloot |
Vervaardiger | Newport News Shipbuilding |
Ligging van vervaardiging | Newport News |
Openingsdatum | 7 Februarie 1944 |
Vlagstaat | Verenigde State van Amerika |
Teken nommer | CV-14 |
Die Ticonderoga is in Mei 1944 in diens gestel en het aan verskeie offensiewe in die Stille Oseaan deelgeneem. Daar is vyf Battle Stars aan die skip toegeken. Die Ticonderoga was uit diens onttrek kort na die afloop van die oorlog. Dit was later gemoderniseer en weer in diens gestel in die vroeë 1950's as 'n aanvalsvliegdekskip (CVA) en weer later as 'n teenduikbootvliegdekskip (CVS) herklassifiseer. Dit is te laat in diens gestel om aan die Koreaanse oorlog deel te kon neem maar was baie aktief tydens die Viëtnam-oorlog waarna drie Navy Unit Commendations, een Meritorious Unit Commendation en twaalf Battle Stars aan die skip toegeken is.
Die Ticonderoga het ietwat verskil van die vroeë Essex-klas skepe; dit was 4,9 m langer as die vorige skepe om voorsiening te maak vir lugafweerkanonne op die boeg. Die meeste Essex-klas skepe wat hierna afgelewer is, is volgens hierdie langromp-ontwerp gebou. Daar is soms na die skepe verwys as die Ticonderoga-subklas.[1] Na afloop van die skip se loopbaan, en na vele modifikasies, is daar in die Vlootvaartuigregister na die skip verwys as 'n Hancock-klas.[2]
Die skip is vir die laaste keer uit diens onttrek in 1973 en as skroot verkoop in 1975.
Konstruksie en ingebruikneming
Die skip is neergelê as Hancock op 1 Februarie 1943 by Newport News, Virginië, deur die Newport News Shipbuilding & Dry Dock Co., herdoop na Ticonderoga op 1 Mei 1943, en te water gelaat op 7 Februarie 1944, geborg deur Mej Stephanie Sarah Pell. Dit is op 8 Mei 1944 by die Norfolk Vlootwerf in diens geneem, met kaptein Dixie Kiefer in bevel.
Diensgeskiedenis
Ticonderoga het vir byna twee maande in Norfolk vertoef om toegerus te word, en Luggroep 80 aan boord te neem. Op 26 Junie 1944 het die vliegdekskip 'n koers na die Britse Wes-Indiese Eilande ingeslaan. Hy het lugoperasies en -oefeninge onderweg uitgevoer en het Port of Spain, Trinidad, op 30 Junie bereik. Vir die volgende 15 dae het Ticonderoga intensiewe opgeleiding ondergaan om sy luggroep en bemanning in 'n doeltreffende oorlogspan saam te voeg.
Hy het op 16 Julie uit die Wes-Indiese Eilande vertrek en teruggekeer na Norfolk waar hy op 22 Julie aangekom het vir herstelwerk en veranderinge na die proeflopie. Op 30 Augustus het die karweier na Panama vertrek. Hy het op 4 September deur die Panamakanaal gevaar en die volgende dag met die kus langs na vlootbasis San Diego gestoom. Op 13 September het die karweier by San Diego vasgemeer waar hy proviand, brandstof, lugvaartbrandstof en 'n bykomende 77 vliegtuie gelaai het, asook die Marinierskorps- lugvaart- en verdedigingseenhede wat saam met hulle gegaan het. Op 19 September het hy na Hawaii gevaar waar hy vyf dae later aangekom het.
Ticonderoga het byna 'n maand by Pearl Harbor gebly. Saam met Carina het dit eksperimente uitgevoer in die onderweg-oordrag van lugvaartbomme van vragskip na vliegdekskip. Na daardie toetse het hy lugoperasies uitgevoer – dag-en-nag landing en lugafweeroefeninge – tot 18 Oktober, toe hy Pearl Harbor verlaat het en na die westelike Stille Oseaan geseil het. Na 'n kort stop by Eniwetok, het Ticonderoga op 29 Oktober by Ulithi in die Wes-Caroline-eilande aangekom. Daar het skoutadmiraal Arthur W. Radford, bevelvoerder, Draerafdeling 6, aan boord gegaan en by Taakmag 38 (TF 38) aangesluit as 'n eenheid van skoutadmiraal Frederick C. Sherman se Taakgroep 38.3.
Tweede Wêreldoorlog
Die skip het op 2 November 1944 vanaf Ulithi by die ander draers van TF 38 aangesluit toe hulle uitgebreide lugdekking vir die grondmagte in die Slag van Leytegolf ondersteun het. Die skip het sy eerste lugaanval op die oggend van 5 November geloods. Die vliegtuie van sy luggroep het die volgende twee dae spandeer om vyandelike skeepvaart naby Luzon en luginstallasies op daardie eiland aan te val. Sy vliegtuie het die vliegvelde by Zablan, Mandaluyong en Pasig gebombardeer. Hulle het ook by dié van ander vliegdekskepe aangesluit om die swaar kruiser Nachi te sink. Daarbenewens het Ticonderoga-vlieëniers beweer dat hul ses Japannese vliegtuie afgeskiet en een op die grond vernietig, asook 23 ander beskadig het.
Omstreeks 16:00 op 5 November het die vyand met 'n groep kamikaze-vliegtuie aangeval. Twee van die selfmoordvliegtuie het die Amerikaanse gevegslugpatrollie- en lugafweervuur binnegedring om in die vliegdekskip Lexington neer te stort. Ticonderoga het ongedeerd uit hierdie aanval gekom en twee Japannese vliegtuie neergeskiet. Op 6 November het die oorlogskip twee vegvee en twee bomaanvalle teen die Luzon-vliegvelde en vyandelike skeepvaart in die omgewing geloods. Sy vlieëniers het later daardie dag teruggekeer en beweer hulle het 35 Japannese vliegtuie vernietiging en aanvalle op ses vyandelike skepe in Manilabaai gedoen. Nadat sy vliegtuie herwin is, het die draer ooswaarts teruggeval om hervoorsien te word.
Verwysings
- St. John, Philip (1999). USS Essex (CV/CVA/CVS-9). Nashville, TN: Turner Publishing Company. p. 10. ISBN 1-56311-492-5.
The long hulled ships were often referred to as "Ticonderoga class" ships
- "Ticonderoga (CVS 14) (ex-CVA 14) ASW Support Aircraft Carrier". Naval Vessel Register. 28 Desember 2001. Besoek op 20 Maart 2015.
Class: CVS 19 (Which was USS Hancock)