Twee Oseane-maraton

Die Twee Oseane-maraton word jaarliks op die Kaapse Skiereiland in Suid-Afrika oor 'n afstand van 56 km gehardloop, wat dit as 'n ultramaraton klassifiseer.

Pylvak by die Universiteit van Kaapstad.
'n Deel van die roete volg Chapmanspiek-rylaan.

Volgens die organiseerders van die wedloop is dit die "wêreld se mooiste maraton",[1] met inderdaad uitstekende natuurskoonheid vir die atlete. Die wedloop vind gewoonlik jaarliks plaas op die Saterdag van die Paasnaweek.

Die maraton begin in Nuweland, Kaapstad en volg min of meer 'n sirkelvormige roete deur Muizenberg, Vishoek, oor Chapmanspiek en Constantianek, om uiteindelik op die kampus van die Universiteit van Kaapstad te eindig.

Net so 'n uitdagende en baie gewilde halfmaraton van 21 km lank, word ook gehou op dieselfde dag as die ultramaraton. In 2006 het die organiseerders van die maraton hul sorg uitgespreek oor die toename in die getal atlete wat nie betyds hul toegewysde wegspringkampies kon vind of bereik vir hul betrokke wedloop nie. Daar is 'n voorstel om slegs die ultramaraton op die aangewese dag te hou, en die halfmaraton te verskuif na die volgende dag. Op die dag vantevore (die Vrydag) vind daar pretrenne plaas: 'n 56 meter-lange doekiedraffie (Eng. nappy dash) vir deelnemers jonger as drie jaar, en 'n 2,5 km-, 5 km-, en 8 km-wedloop wat gestap of gedraf kan word; asook 'n voorwedloop van die maraton vir diegene wat dit nie op die Saterdag kan doen nie.

Bron

Verwysings

  1. http://www.twooceansexpo.co.za/ Geargiveer 27 April 2006 op Wayback Machine besoek op 30 April 2006

Eksterne skakel

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.