Tsjetsjnië

Tsjetsjnië (volle naam die Tsjetsjniese Republiek; Russies: Чеченская республика; Tsjetsjnies: Нохчийн Республика of Noxçiyn Respublika) is ’n outonome republiek (’n deelgebied van Rusland) in die Noord-Kaukasus. Dit word begrens deur Stawropol-krai in die noordweste, Dagestan in die ooste en noordooste, Georgië in die suide en deur die Russiese republieke Ingoesjetië en Noord-Ossetië in die weste.

Republiek van Tsjetsjnië
Чеченская Республика
Нохчийн Республика
Die ligging van Tsjetsjnië in Rusland.
Die ligging van Tsjetsjnië in Rusland.
Politieke status
Land Russiese Federasie
Federale distrikSuidelike
Ekonomiese streekNoord-Kaukasus
Stigting11 Januarie 1991
Regering
HoofstadGrozni
LeierRamzan Kadirof
AmpPresident
WetgewerParlement
Bevolking
Sensus2010
Totaal1 268 989
Volgorde40ste
Digtheid73,35/km2
Stedelik34,9%
Plattelands65,1%
Statistiek
Oppervlakte17 300 km2
Volgorde75ste
TydsoneUTC+04:00
Registrasienommer95
Amptelike taleRussies, Tsjetsjnies
Webtuistehttp://chechnya.gov.ru/
Wapen en vlag

Portaal  Portaalicoon   Rusland

Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991 het die OSSR Tsjetsjnië-Ingoesjetië verdeel in die Republiek van Ingoesjetië en die Tsjetsjniese Republiek (voorheen die Tsjetsjeense Republiek in Afrikaans genoem). Die land het gou om sy onafhanklikheid begin veg. Ná die Eerste Tsjetsjniese Oorlog teen Rusland het die land de facto-onafhanklikheid verkry, maar in die Tweede Tsjetsjniese Oorlog is Russiese federale beheer herstel.

Sedertdien word die land stelselmatig herbou, maar opstande en terreuraanvalle in Rusland deur Tsjetsjniese rebelle kom nog gereeld voor.

Geskiedenis

Bewyse van menslike nedersettings in die gebied wat uit 40000 v.C. dateer, is naby die Kezanoi-meer gevind. Grottekeninge, artefakte en ander argeologiese getuienis toon dat mense 8 000 jaar onafgebroke hier gewoon het.[1] Vroeë mense het gereedskap, vuur en diervelle as klere gebruik.[1]

In die Neolitikum is begin met landbou, besproeiing en die domestikering van diere.[2] Daar is tekens van steengereedskap soos byle, messe, kleiborde, ensovoorts. Nedersettings van wat kleistene gebou is, is op die vlaktes ontdek. In die berge was daar nedersettings wat van stene gemaak is en deur mure omring was; van hulle dateer uit 8000 v.C.[3] Ook die wiel het in 3000 v.C. sy verskyning gemaak, asook perdry, metaalwerk (koper, goud, silwer en yster), wapenrusting, dolke en spiespunte.[3]

Rusland het in die 16de eeu die eerste keer in die Kaukasus betrokke geraak. In 1558 het Temrjoek van Kabarda gesante van Moskou gestuur om Iwan die Verskriklike se hulp teen die Wainach-stamme te vra. Iwan het met Temrjoek se dogter, Maria, getrou. ’n Bondgenootskap is gevorm om grond in die Sentraal-Kaukasus te kry vir die uitbreiding van die Tsaredom Rusland teen die Wainach.

Tsjetsjnië het sedert die 15de eeu aanhoudend teen buitelandse heerskappy in die Noord-Kaukasus baklei. Die Tsjetsjniërs het hulle oor die volgende paar eeue tot die Soenni-Islam bekeer, want Islam is verbind met weerstand teen Russiese verowerings.[4][5]

Imam Sjamil van Tsjetsjnië en Dagestan gee in 1859 oor aan die Russiese generaal Barjatinski (skildery deur Aleksei Kifsjenko).

Pieter die Grote het die eerste keer probeer om Rusland se politieke invloed in die Kaukasus en die Kaspiese See te vergroot ten koste van Safawidiese Persië met die Russies-Persiese Oorlog van 1722-1723. Russiese magte het groot Kaukasiese gebiede vir ’n paar jaar verower.[6]

Toe die Russiese magte die Persiesbeheerde Dagestan binneval, het Pieter se magte teen bergstamme te staan gekom en is hulle deur die Tsjetsjniërs verslaan.[6] In 1732, nadat Rusland reeds die grootste deel van die Kaukasus aan Persië teruggegee het, het Russiese troepe weer met Tsjetsjniërs gebots op ’n dorp met die naam Tsjetsjen-aoel aan die Argoenrivier.[6] Die Russe is weer verslaan en het teruggetrek.

In die laat 18de eeu het Rusland die Noord-Kaukasiese berge begin verower. As regverdiging het hulle die versterking van bande met ander Christelike state gebruik. Dit het meegebring dat die Islam wyd versprei het, want dié geloof is beskou as ’n godsdiens van bevryding van die tsaredom.[7] ’n Rebellie is gelei deur Mansoer Oesjoerma, ’n Tsjetsjniese Soefi-sjeik wat deur ander Noord-Kaukasiese stamme gesteun is. Mansoer wou ’n Transkaukasiese Islamitiese staat onder sjariawette stig. Hy het nie heeltemal hierin geslaag nie, want tydens die oorlog is hy deur die Ottomaanse Ryk verraai, aan die Russe uitgelewer en in 1794 tereggestel.[8]

Ná die geforseerde oorgee van die huidige Dagestan, die grootste deel van Azerbeidjan en Georgië deur Persië aan Rusland ná die Russies-Persiese Oorlog van 1804-1813 en die daaropvolgende Verdrag van Goelistan, het Rusland goeie vastrapplek in die Kaukasus gekry ten koste van Persië.[9] Nog ’n suksesvolle Kaukasiese oorlog teen Persië het in 1826 begin en in 1828 geëindig met die Verdrag van Toerkmentsjai, en ’n geslaagde oorlog teen die Ottomane in 1828 en 1829 het daartoe gelei dat Rusland nog ’n groter deel van die Noord-Kaukasus beheer het. Aan die einde van die 1860's het Rusland aangebied dat Tsjetsjniërs en Ingoesjetiërs uit die Kaukasus na die Ottomaanse Ryk trek. Daar word geraam dat 80% van Tsjetsjniërs en Ingoesjetiërs die Kaukasus verlaat het en dit het die weerstand in die gebied verswak.

Op 21 Desember 1917 het Ingoesjetië, Tsjetsjnië en Dagestan hulleself onafhanklik van Rusland verklaar en ’n nuwe staat, die Bergrepubliek van die Noord-Kaukasus, gestig. Dit is deur groot wêreldmagte erken. Die hoofstad was Temir-Chan-Sjoera in Dagestan.[10][11] In 1921 het die Sowjetunie die staat aangeval, beset en in die Sowjetunie opgeneem.[12]

Tydens die Sowjetheerskappy is Tsjetsjnië en Ingoesjetië aanvanklik verenig as die Tsjetsjnies-Ingoesjetiese Outonome Sosialistiese Sowjetrepubliek.

Demografie

Volgens die Russiese sensus van 2010[13] het Tsjetsjnië 1 268 989 inwoners. Die amptelike tale is Tsjetsjnies en Russies.

Verwysings

  1. Jaimoukha, Amjad M. (1 Maart 2005). The Chechens: a handbook (1st uitg.). Routledge. p. 110. ISBN 978-0-415-32328-4. Besoek op 14 Augustus 2009.
  2. Bernice Wuethrich (19 Mei 2000). "Peering Into the Past, With Words". Science. 288 (5469): 1158. doi:10.1126/science.288.5469.1158. S2CID 82205296.
  3. N.D. Kodzoev. History of Ingush nation.
  4. Tsaroïeva, Mariel (2005). Anciennes croyances des Ingouches et des Tchétchènes: peuples du Caucase du Nord (in Frans). Paris: Maisonneuve et Larose. ISBN 978-2-7068-1792-2.
  5. Ilyasov, Lecha; Ziya Bazhayev Charity Foundation (2009). The Diversity of the Chechen Culture: From Historical Roots to the Present (PDF). UNESCO Educational, Scientific and Cultural Organization. ISBN 978-5-904549-02-2.
  6. Schaefer, Robert W. (2010). The Insurgency in Chechnya and the North Caucasus: From Gazavat to Jihad. ISBN 9780313386343. Besoek op 25 Desember 2014.
  7. "The Ingush People". Linguistics.berkeley.edu. 28 November 1992. Besoek op 14 Maart 2014.
  8. John Frederick Baddeley, The Russian Conquest of the Caucasus, Londen, Curzon Press, 1999, p. 49.
  9. Cohen, Ariel (1998). Russian Imperialism: Development and Crisis. ISBN 9780275964818. Besoek op 25 Desember 2014.
  10. "Republic of the North Caucasus Federation". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2014. Besoek op 8 Februarie 2014.
  11. "Общественное движение ЧЕЧЕНСКИЙ КОМИТЕТ НАЦИОНАЛЬНОГО СПАСЕНИЯ". Savechechnya.com. 24 Junie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Februarie 2014. Besoek op 2014-03-14.
  12. "Вассан-Гирей Джабагиев". Vainah.info. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2014. Besoek op 2014-03-14.
  13. Оценка численности населения на 1 января 2014 года и в среднем за 2013 год Geargiveer 19 Oktober 2015 op Wayback Machine (ru)

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.