Trienke Laurie
Trienke Laurie (10 Mei 1946 – 2 Oktober 2023) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer.[1][2][3] Sy is in 1999 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.
Trienke Laurie | |
Trienke Laurie op die strand. | |
Geboortenaam | Catherine Elizabeth Opperman |
---|---|
Geboorte | 10 Mei 1946 Kaapstad |
Sterfte | 2 Oktober 2023 (op 77)[1][2] Franskraal, Wes-Kaap |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Ouers | D.J. Opperman Marié van Reenen |
Beroep | Skrywer, skilder |
Eerbewyse | Ingrid Jonker-prys |
Huweliksmaat | Dirk Laurie |
Kind(ers) | 5 |
Lewe en werk
Catherine Elizabeth (Trienke) Laurie is op 10 Mei 1946 in Kaapstad gebore. Sy was die oudste kind en een van drie dogters van D.J. Opperman,[4] die bekende digter, en Marié van Reenen, bekende skryfster van Zoeloe-sprokies. Haar susters is Heila Marié en Diederi Joanne. Haar ma vind die naam Catherine te Engels en noem haar dus Trienke, wat daarna haar noemnaam word. Sy gaan skool aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en matrikuleer in 1963 aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch. Hierna studeer sy vanaf 1964 verder in veral kunsmetodiek aan die Universiteit van Stellenbosch,[5] waar sy 'n B.A.-graad en Onderwysdiploma behaal en haar as hoërskoolonderwyser in Afrikaans, Geskiedenis en Kuns bekwaam. In hierdie tyd vorm sy ook deel van haar pa se bekende Letterkundige Laboratorium.
Sy hou 'n jaar lank skool op Vredendal, waarna sy op 21 Desember 1968 trou met die wiskundige, Dirk Laurie, 'n huwelik waaruit vyf seuns (Henri, Diederik, Dirk Pieter, Van Reenen en Kestell) gebore is. Na die troue word sy 'n tuisteskepper en behalwe kinders grootmaak, hou sy haar besig met skilder, die gee van kunsklasse en sy skryf ook kinderverse. Die gesin woon vir vyftien jaar in Pretoria en verhuis dan na Vanderbijlpark, waar haar man hoogleraar in Wiskunde aan die Vaaldriehoekse kampus van die Potchefstroomse Universiteit is. Hier bly hulle vir sewentien jaar. Nadat die kinders groot is, begin sy in 1990 weer studeer aan die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans en Nederlands, wat sy in 1991 met lof behaal aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.[6] Sy is ook welbekend as skilder en het reeds verskeie uitstallings van haar kunswerke gehou. Na aftrede verhuis sy en haar man na Somerset-Wes.
Haar man, Dirk, sterf in 2019.[1] Sy sterf Maandag, 2 Oktober 2023 op Franskraal in die Wes-Kaap op die ouderdom van 77 jaar.[2]
Publikasies
Gedurende haar skooljare begin sy reeds dig en dra onder andere verskeie kleuterverse by tot haar vader se versamelbundel “Kleuterverseboek”. Ook as student dig sy, maar begin hierdie ambag eers ernstig beoefen wanneer sy besig is met haar Honneurs-studies. Aanvanklik verskyn haar gedigte in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde.
- 1997 – Skietspoel
- 1999 – Ek sien 'n rooi bul storm
- 2001 – Uitroep
- 2007 – Sonskyf
- 2010 – Van my ouma 'n groet (Kinderboek met verse, prosa en illustrasies)
- 2017 – Koebesie (Reisverse oor Europa- met illustrasies)
Skietspoel
Haar debuutbundel, “Skietspoel”,[7][8][9][10] maak indruk met die afgerondheid van die verse, waarvan die bestes handel oor die bekende dinge van ons land, soos die natuur en die mense, deurentyd met 'n sterk godsdienstige aanslag.[11] Hierin verskyn 'n breë register van temas en versvorme. Temas wat aangespreek word is Namibië en die grootsheid van die woestyn, die natuur en die aarde met sy bome, minerale en mense.[12] Die titel verwys enersyds na fotografie (waar die beste foto’s dikwels die “maklikste” lyk) en andersyds die apparaat wat in weefwerk gebruik word, wat vaardigheid, fyn afwerking en geduld vereis – so word dit dan metafoor van die poësie self. Die bundel word in sewe afdelings verdeel. Die eerste afdeling is “Namib” en bevat verse oor hierdie landstreek, met “Hans Merensky” 'n huldedig aan hierdie bekende geoloog. “Sand en steen” is die tweede afdeling, waarin veral die ontdekking van die natuur se wonders ondersoek word. “Delf” gee met fyn klankbinding 'n boeiende perspektief op die tot niet gaan van dinge en die daaropvolgende navorsing en ontleding, 'n siklus wat homself oneindiglik herhaal. “Getem” se tema is die skilder se vermoë om wilde en gevaarlike voorwerpe en natuurverskynsels in die kunswerk vas te vang en so te tem. Die afdeling “Vlerk” bevat gedigte oor vlieg en metafore daarvan, met “Die laaste skoenlapper” wat 'n gedig van Pavel Friedmann vertaal oor die laaste skoenlapper wat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Joodse interneringskamp Terezin in Tsjeggo-Slowakye gesien het. “Skollie” se speelse seksualiteit bekoor ook. Die afdeling “Inslag” bestaan hoofsaaklik uit herinneringsverse, waar sy in “Afvlerk”, opgedra aan haar pa, dig oor sy fisiese onvermoë na 'n beroerte-aanval en inspeel op sy gedig “Kanarie”. Die gedigte in “Web” trek disparate dinge soos in 'n web saam, met “Arena” wat gebaseer is op 'n gedig van Federico Garcia Lorca. “Bioom” bevat gedigte oor die ekologie en “Skering” se gedigte is meer religieus van aard. In 1999 word hierdie bundel met die Ingrid Jonker-prys bekroon.[13]
Ek sien 'n rooi bul storm
Die rooi bul in “Ek sien 'n rooi bul storm”[14][15] verwys na die Engelse troepe wat in die Anglo-Boereoorlog uit die Vrystaat na die Transvaal opgeruk het. Die bundel is gebaseer op Siener van Rensburg se profesieë en veral Adriaan Snyman se boek daaroor, “Siener van Rensburg: Boodskapper van God”. Talle van Siener se voorspellings oor die oorlog word in die bundel ingewerk, asook iets van sy eie lewe en ervaringe en sy Christelik-gelowige insigte en vermaninge oor hoe om as volk en individu op te tree. Die aard van die stof bring mee dat 'n groot deel van die gedigte mededelend en verklarend van aard is, eerder as beskrywend.
Uitroep
“Uitroep”[16][17] beslaan sewe afdelings, waarin 'n verskeidenheid van temas behandel word, soos die natuur, ander digters en kunstenaars. Daar is onder meer gedigte oor haar ma se dood, oor Namibië en oor die bekende kunstenaar van die Uilhuis op Nieu-Bethesda, Helen Martins. Die eerste afdeling is “Sossus”, met verwysing na hierdie natuurbaken in Namibië, met die gedig “Eden – Sossusomgewing” wat hierdie gebied vergelyk met die Paradys van die Bybel. “Versteende woud” beeld die geleidelike aftakeling en verstening van die woud uit met treffende beelding. Die afdeling “Uilvrou” handel oor Helen Martins, met gedigte waarin die digter die strakke beelde in woorde ewenaar. Die afdeling “Kruik van ivoor” is veral interessant omdat die digter hier vertellings van haar vader oor sy reis na Malawi en sy onvoltooide finale bundel, “Sonklong oor Afrika”, as beginpunt neem om in “verbeeldingspel” gedigte te skryf hieroor soos sy vermoed hy sou wou gedoen het. Die afdeling “Ma se laaste jare” bring in 'n aantal verse hulde aan 'n moeder wat oud en vergeetagtig is, maar steeds as leermeester probeer optree (“Trompie”). “Teenstem” bevat betrokke verse, met “Jan Afrika” ('n skuilnaam van Breyten Breytenbach) wat 'n ritueel uit sy gevangenisskap uitbeeld en “Lied van die koekoeke” wat na aard en vorm herinner aan Uys Krige se “Lied van die Fascistiese bomwerpers”. Die afdeling “Dier en ster” se temas is reeds in die titel saamgevat, met “Die sardientjie” se speelsheid en herhaling wat herinner aan die bekende Engelse volkslied “There was an old woman who swallowed a fly”. Hierdie afdeling is besonder bekoorlik weens sy ratsheid en vloei en vernuftige hoewel eenvoudige woordgebruik. Die slotafdeling “Stalagmiet” beeld kuns uit, hetsy dit deur kunstenaars of deur die natuur voortgebring word.
Sonskyf
Hierna volg “Sonskyf”,[18][19] wat uit ses afdelings bestaan met die son as deurlopende tema. In die verskillende afdelings kom onder meer die Suid-Afrikaanse natuurlewe soos verteenwoordig in die seediere, plante, voëls en diere aan die bod. Die aanbidding van die son in Antieke Egipte en argeologiese opgrawings word ook tematies ontgin. Die eerste afdeling, “Sonbesie”, bevat gedigte oor 'n aantal diere en plante. “Lens” bevat gedigte oor kunstenaars en hul werk, met “Songod” wat 'n reeks gedigte bevat oor die Egiptiese farao Achnaton. Hy was verantwoordelik vir die invoering van die monoteïstiese kultus van Aten, die stralende sonskyf, waaraan die bundel sy titel te danke het. Die sonskyf staan vir lig as lewensgewende krag. In hierdie afdeling word die son as motief in die Christelike tradisies van onder andere Franciscus ook bespreek. “Soveel onder die son” bevat gedigte oor beelde en indrukke om sodoende die merkwaardige onder die son raak te vat. Die omslae van haar digbundels bevat telkens 'n afdruk van 'n skildery van haar. Haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte”, “Nuwe verset”, “Kleuterverseboek” en “Nuwe Kleuterverseboek”. In 2020 word haar gedig ‘Ongevraagd kind van ongehude ouers’ in Vers en vrou opgeneem.[20]
Van my Ouma 'n groet
“Van my Ouma 'n groet” is gemik op 9-12-jariges en bevat briefies, gediggies en prente, gerig aan die kleinkind. In gemaklike geselstrant word kennis oorgedra van wonderlike dinge soos goue wawielspinnekoppe, die buffelwewer en 'n janfrederik. Volkleurprente deur Trienke self illustreer die stories.
Bronne
- Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 3” Van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 2006
- Fourie, Elkarien “Dirk se digterdogter” “Rooi Rose” November 1999
- Le Roux, Mari “Met debuutbundel volg Trienke in haar pa se spore” “Die Burger” 11 Junie 1997
- Facebook: https://www.facebook.com/trienke.laurie
- Tempelhoff, Elise (2 Augustus 1997). "Trienke Laurie is digter in eie reg; Sy tree in dié bundel in gesprek met haar pa". Beeld (bl. 8). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2016. Besoek op 25 Februarie 2016.
- Versindaba: http://versindaba.co.za/gedigte/trienke-laurie/ Geargiveer 5 Augustus 2016 op Wayback Machine
- "Digter stel nuwe bundel bekend". Volksblad. 13 Mei 1998. p. 9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2016. Besoek op 25 Februarie 2016.
Verwysings
- Digter en skilder Trienke Laurie (77) sterf | Netwerk24
- D.J. Opperman se digter-dogter sterf op 77 jaar. Beeld, 3 Oktober 2023
- Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria; Eerste uitgawe 2005
- LitNet: http://www.litnet.co.za/author/trienke-laurie/ Geargiveer 29 November 2017 op Wayback Machine
- Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/lauriet.html Geargiveer 17 Maart 2016 op Wayback Machine
- Nieuwoudt, Stephanie. Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1999/05/28/14/15.html Geargiveer 22 Mei 2009 op Wayback Machine
- Le Roux, Mari Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/06/11/18/2.html
- Cloete, T.T. “Beeld” 14 Julie 1997; Hambidge, Joan “Die Burger” 11 Junie 1997
- Hambidge, Joan “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 35 no. 4, Augustus 1997; Kannemeyer, J.C. “Rapport” 1 Junie 1997
- Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-uitgewers. Eerste uitgawe. 1998
- Nieuwoudt, Stephanie “Godsdiens anker haar sê digter” “Plus” 28 Mei 1999
- Tempelhoff, Elise “Die natuur léwe in Laurie se digkuns” “Naweek-Beeld” 2 Augustus 1997
- Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1999/03/22/13/1.html Geargiveer 25 Februarie 2014 op Wayback Machine
- Cloete, T.T. “Rapport” 7 November 1999; Grové, A.P. “Beeld” 27 September 1999
- Hambidge, Joan Woorde wat weeg: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/03/trienke-laurie-ek-sien-n-rooi-bul-storm.html Geargiveer 29 Desember 2016 op Wayback Machine
- Esterhuizen, Louis Die Burger: http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger/2001/10/08/7/1.html Geargiveer 13 Augustus 2010 op Wayback Machine
- Odendaal, Bernard Volksblad: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2001/11/19/6/4.html Geargiveer 18 November 2011 op Wayback Machine
- Hambidge, Joan. Woorde wat weeg: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/02/trienke-laurie-sonskyf-2007.html Geargiveer 29 Desember 2016 op Wayback Machine
- Odendaal, Bernard “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 45 no. 2, Lente 2008
- De Wet, K. (samest.) Vers & vrou. Kaapstad: Human & Rousseau. 2020