Papegaaiduif
'n Papegaaiduif (Treron calvus) is 'n voël wat 25–28 cm lank word. Die volksnaam is besonder gepas om dié papegaai-agtige voël te beskryf wat dikwels onderstebo aan takke hang op soek na kos. Hulle is besonders lief vir vye.
Papegaaiduif | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | Treron |
Spesie: | T. calvus |
Binomiale naam | |
Treron calvus (Temminck, 1808) | |
Algemeen
- Beskrywing: Wanneer mens hom in die boom sien klouter, is die onmiddellike indruk dié van 'n groen, papegaai-agtige voël. Van naderby is hierdie spesie onmiskenbaar met sy groen en geel verekleed en die kastaiingbruin onderstertvere. Wanneer hy kos soek, klouter hy rond in bome wat vrugte dra en hang soms onderstebo aan takke. Jong voëls het olyfkleurige skouervlekke.
- Habitat: Woude, bosveld, savanne; altyd in die omgewing van bome wat vrugte dra, veral vye.
- Status: Algemene standvoël, onderhewig aan plaaslike beweging.
- Soortgelyke soorte: Meer as 'n dosyn rasse is beskryf in die wye voorkomsgebied wat strek van Suid-Afrika tot Senegal. Die genus Treron het 'n oorwegend Asiatiese verspreiding, waarvan 5-6 spesies in Afrika, Madagaskar en aanliggende eilande tuis is.
- Roep: Verskil van ander duiwe in die streek; 'n reeks vloeiende fluite, ‘thweeeloo, thweeeoo’.
- Dieet: Hoofsaaklik vrugte, veral wildevye, maar vreet ook aas.
Broeigewoontes
- Plek: In 'n mik van 'n boomtak met 'n goeie uitsig op die omliggende gebied.
- Nes: 'n Swak stokkerige nes. Die mannetjie maak die nesmateriaal bymekaar waarmee die wyfie dan die nes bou.
- Seisoen: Enige maand van die jaar, maar meestal in die somer
- Getal eiers: 1-2
- Broeitydperk: 13-14 dae
- Kuikenstadium: Sowat 12 dae
In die tuin
- Habitat: Dié voël sal voorkeur gee aan die blaarkruine in 'n tuin, veral waar daar vrugtebome is. Hulle besoek nie voëlbadjies nie.
- Kosvereistes: Papegaaiduiwe is vrugtevreters en is besonder lief vir wildevye, soos die Ficus sycomorus en Ficus sur. Hulle vreet ook die vruggies van die Transvaalsaffraan (Cassine transvaalensis), doppruim (Pappea capensis), blinkblaar-wag-'n-bietjie (Ziziphus mucronata), waterbessie (Syzygium cordatum) en jakkalsbessie (Diospyros mespiliformis).
Papegaaiduiwe sal ook aangeplante vrugte, soos moerbei en lukwarte eet. In sommige gebiede besoek papegaaiduiwe gereeld die voertafel. 'n Verskeidenheid vrugte wat aan dorings aan bome vasgesteek word of tussen die skubbe van 'n dennebol ingedruk word, sal benut word.
- Nesmaak: Papegaaiduiwe sal in tuine nesmaak, en soms bou etlike pare hulle neste naby mekaar. Hulle verkies immergroen bome, aangesien hulle begin broei voor die bladwisselende bome weer blare kry.
Sien ook
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.