Trekarbeid

'n Trekarbeider is 'n rondtrekkende werker wat slegs vir 'n bepaalde en gewoonlik kort tydperk vir 'n spesifieke taak by 'n bepaalde werkgewer in diens geneem word. Hy gaan dus van 'n plek waar geen aanvraag vir sy arbeid bestaan nie na 'n plek waar daar 'n groot aanvraag bestaan. Dit is 'n internasionale verskynsel en bestaan nog altyd. As dit nie op 'n vrywillige basis geskied nie, noem ons dit slawerny.

Trekarbeiders in Kalifornië, 1935
'n Familie van trekarbeiders, Kalifornië, 1936

Kenmerke van trekarbeid in Suid-Afrika

Trekarbeid het 'n onmisbare hoeksteen en kenmerk van die Suid-Afrikaanse ekonomie geword en is beskou as 'n bron van goedkoop arbeid. Dit word sterk geassosieer met die beleid van apartheid, alhoewel dit reeds teen die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika bestaan het. Dit het tradisie onder die swartmense van die stamgebiede geword om vir 'n tydperk die tradisionele lewe te verlaat en in die stedelike gebiede vir kontant te gaan werk. Hierdie praktyk het die werker se drang na avontuur in 'n ander kultuuromgewing bevredig en aan hom sosiale aansien verskaf. Mans (en seuns van selfs 15 jaar) tot 65 het hulle aangemeld, maar meestal was hulle nie ouer as 50 jaar nie. Op die myne was die duur van die kontrakte gewoonlik 15 maande lank, maar in ander bedrywe soms tot 26 maande lank. Werkskontrakte het verskil na die aard van die soort werk, die behoeftes van die werker, die salaris daaraan verbonde en sy huislike omstandighede. Die geld wat verdien is, is gewoonlik teruggeploeg in die boerdery op sy stukkie stamgrond. So kon meer beeste vir lobola, en ook Westerse klere, komberse, meubels, voedsel en vuurwapens aangekoop word. Ook het dit die vrouens beïndruk.

Herkoms

Die arbeiders op die myne het gewoonlik uit die Transkei, Ciskei, Venda en Natal gekom, en ook uit die buurstate Namibië, Botswana, Lesotho en Mosambiek en selfs verder noord. Die Kamer van Mynwese het 'n spesiale werwingskantoor bekend as Wenela daarvoor gestig. Weens die groot uitvloei van Zoeloe-arbeiders na die Vrystaatse en Randse myne het Natal so 'n tekort aan werkers ondervind dat Indiër-immigrante gewerf moes word.

Ekonomiese sektore

Trekarbeiders was in groot getalle werksaam op die diamant-, goud- en steenkoolmyne, maar ook op plase, hawens en in fabrieke. 'n Goeie voorbeeld van trekarbeid op plase is die skeerspanne (die karretjiemense) wat van plaas tot plaas gaan. So word ook in die oestyd van sagtevrugte deur boere ekstra seisoenwerkers in diens geneem om te help met die pluk en verpakking van die vrugte. Op suikerplantasies word seisoenwerkers ook aangetref.

Kampongs

Duisende manlike swart trekarbeiders is in oorvol slaapsale, barakke, kampongs en hostelle by die myne saamgetrek. Om diefstal van diamante te voorkom, is hierdie kampongs soms omhein om te verhoed dat die mynwerkers diamante na buite smokkel. Die mans was saamgehok soos in 'n konsentrasiekamp en dit het tot allerhande ongewenste sosiale euwels gelei. Voedselvoorsiening aan die arbeiders was soms swak, siektes het floreer, mediese dienste was ontoereikend en die sterftesyfer hoog.

Voordelige gevolge

Die stelsel van trekarbeid het vir die werknemers besliste voor- en nadele ingehou. In die stamgebiede was die lewenstandaard oor die algemeen laag en die lewensbehoeftes min. Die gebiede was dig bevolk, die plase klein, die boerderymetodes swak en oeste was maar karig. In die gebiede was daar geen werksgeleenthede waar kontantgeld verdien kon word nie. Deur die aanraking met die Westerse kultuur het die behoeftes toegeneem en daarvoor was die kontant nodig wat op die myne en plase verdien kon word. Geld en goedere het na die stamgebiede gestroom. Hierdeur is die verwestering aangehelp ten koste van die tradisionele leefwyse. Die werk het ook vaardigheidsontwikkeling verskaf en hierdie opleiding en ervaring kon later in 'n ander werkkring teen 'n groter salaris aangewend word. Dit was 'n leerskool in die kapitalistiese ekonomie. Sommige jongmense het trekarbeid gesien as 'n ontvlugting van die onderdukkende stamtradisies en stamverpligtinge. Baie van die mans het die arbeidstelsel waardeer, hul belang in die stamgebiede gekoester en hulle gesinne in die stabiele maatskaplike orde van die stamgebiede agtergelaat. Ook het die stelsel dit moontlik gemaak om na die tradisionele leefwyse terug te keer wanneer hulle nie meer in die stad wil werk nie of wil aftree. Vir die burgers van die buurstate was die salaris 'n broodnodige bron van buitelandse valuta vir hul land.

Nadele

Groot getalle mans was in die produktiefste jare van hul lewens nie by hul gesinne en gemeenskappe nie en kon dus nie daar 'n beduidende bydrae tot die ontwikkeling daarvan speel nie. Die lang afwesigheid van die man het 'n gebrek aan 'n stabiele gesinslewe veroorsaak. Kinders het dikwels sonder 'n vaderfiguur opgegroei. Hulle het nie meer die tradisionele respek vir ouer mense in hul samelewing ontwikkel nie. 'n Gevolg hiervan was groot groepe ongedissiplineerde seuns. Mans het ook dikwels vervreemd geraak van hulle gesinne en het nuwe verhoudings in die stad aangeknoop. Dit het soms gebeur dat mans nie teruggekeer het nie en sy vrou en kinders in armoede in die platteland agtergelaat is. Inwoners van die platteland het afhanklik geraak van die geld wat aan hulle gestuur is. Stadig het die veestapel te groot geword. Dit het gelei tot die agteruitgang van die landbou en verarming. Dus was daar 'n verswakking in die landelike ekonomie. Op die platteland het geen stede of groot dorpe ontwikkel nie weens die trekkrag wat die reeds bestaande groot stede gehad het. Permanente vestiging in die groot stede is deur die staat teengewerk deur sy beleid van instromingsbeheer. As alternatief het die regering begin om fabrieke op die grense van die stamgebiede te vestig, die sogenaamde grensnywerhede. Al hierdie nadelige gevolge van trekarbeid het gelei tot 'n ontevredenheid met die tradisionele leefwyse.

Europa

In die periode 1960 tot 1975 was daar 'n groot ekonomiese oplewing in Noord-Europa. Daar was 'n groot tekort aan arbeiders en veral Duitsland, Noorweë, Swede, Finland, Denemarke, Nederland en België het groot getalle arbeiders uit veral Turkye, Tunisië en Marokko ontvang. In die destydse Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) was daar van hierdie arbeidsmigrante (in Duits bekend as Gastarbeiter) afkomstig van ander lande agter die Ystergordyn en uit Viëtnam, Noord-Korea, Kuba, Angola en Mosambiek. Hulle kontrakte was vasgepen op 3 jaar en hulle het ook in enkelgeslag hostelle gewoon. Kontak tussen hulle en die burgers van Oos-Duitsland is ontmoedig. Seksuele verhoudings met Duitsers het gelei tot deportasie van die trekarbeider. Sou 'n trekarbeider swanger raak, is sy verplig om 'n aborsie te ondergaan.

Museum

Lees ook

Bibliografie

  • Olivier, N.J.J.: Ons Bantoegebiede. Johannesburg: S.A.U.K., 1961
  • Pretorius, F. (red.): Geskiedennis van Suid-Afrika – van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, 2012. ISBN 978-0-624-05466-5
  • Ross, Robert: A concise history of South Africa. Cambridge: C.U.P., 2002. ISBN 0-521-57578-8
  • Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 2. Kaapstad: Nasou, 1970
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.