Traangas
Traangas, formeel bekend as 'n traanmiddel of traanrook (van die Latynse lacrima, wat "traan" beteken), is 'n chemiese wapen wat ernstige oog, asemhaling – en vel irritasie, pyn, braking en selfs blindheid veroorsaak. Dit stimuleer die senuwees van die traanklier in die oog om trane te produseer. Algemene traanmiddels sluit pepersproei (OC gas), 'CS gas', 'CR gas', 'CN gas' (fenasielchloried), nonivamide, bromo-asetoon, xillielbromied, syn-propanethial-S-oksied (afkomstig van uie), en Mace ('n handelsnaammengsel).
Traanwekkende agense word algemeen gebruik vir onlusbeheer. Die gebruik daarvan in oorlogvoering is verbied deur verskeie internasionale verdrae. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was toenemend giftige traangasmiddels gebruik.
Uitwerking
Traangas werk deurdat dit die slymvliese in die oë, neus, mond en longe irriteer en veroorsaak huil, nies, hoes, moeilike asemhaling, pynlike oë en tydelike blindheid. Met CS gas verskyn simptome van irritasie binne 20-60 sekondes vanaf blootstelling[1] en dit klaar gewoonlik op binne 30 minute vandat mens die gebied verlaat het.[2] Met pepersproei is die aanvang van simptome, insluitende die verlies van motoriese beheer, byna onmiddellik.[2] Daar kan aansienlike variasie in weerstand en reaksie wees volgens die National Research Council (US) Committee on Toxicology.[3]
Die Kaliforniese Gif Beheerstelsel het 3,671 verslae ontleed van pepersproeibeserings tussen 2002 en 2011.[4] Ernstige simptome wat mediese evaluering benodig het, is gevind in 6.8% van die mense, met die mees ernstige beserings aan die oë (54%), respiratoriese stelsel (32%) en die vel (18%). Die ergste beserings is opgedoen tydens wetstoepassing opleiding, wanneer mense opsetlik buite aksie gestel is en tydens wetstoepassing (hetsy tov individue of skare beheer).[4]
Daar word geglo dat traanwekkende middels optree deur sulfhidriel-groepe in ensieme aan te val.
Risiko's
Soos met alle niedodelike of minder dodelike wapens is daar 'n risiko van ernstige permanente beserings of dood wanneer traangas gebruik word.[5][6] Dit sluit die risiko in om deur die traangashouers getref te word wat erge kneusing, verlies van sig, skedel frakture of selfs die dood tot gevolg kan hê.[7] 'n Insident van ernstige vaskulêre besering a.g.v. traangasdoppe is berig uit Iran, met hoë vlakke van geassosieerde senuweebeserings (44%) en amputasie (17%),[8] sowel as gevalle van kopbeserings in jong mense.[9]
Hoewel die mediese gevolge van die gasse self gewoonlik beperk is tot geringe dermatitis, kan vertraagde komplikasies ook voorkom: mense met vooraf bestaande respiratoriese toestande soos asma, wat 'n verhoogde risiko het, is geneig om mediese aandag te benodig[1] en kan soms hospitalisasie of selfs respirasie-ondersteuning benodig.[10] Velblootstelling kan chemiese brandwonde [11] of allergiese kontakdermatitis veroorsaak.[1][2] Wanneer persone op 'n kort afstand getref word of uitermate blootgestel word, kom oogbeserings voor en littekens van die kornea kan lei tot permanente verlies van gesigskerpte.[12]
Gebruike
Oorlogvoering
Die gebruik van traangas is verbode in talle lande maar die gebruik daarvan deur die polisie en vir persoonlike selfverdediging word nie op dieselfde manier uitgesluit nie. Gewapende magte kan traangas wettig gebruik tydens oefensessies (met die gebruik van gasmaskers) en vir onlusbeheer. In 1914 is xillielbromied as 'n gewilde traanmiddel gebruik omdat dit maklik was om voor te berei.
Die Amerikaanse Chemical Warfare Service het in 1919 traangasgranate ontwikkel om in onlusbeheer te gebruik.[13]
Oproer beheer
Sekere traanwekkende agense word dikwels deur die polisie aangewend om inskiklikheid teweeg te bring, veral traangas word gebruik.[6] In sommige lande soos Finland, Australië en die Verenigde State word Mace algemeen gebruik. Die Mace-tipe selfverdedigingswapen het 'n pepersproeibasis en kom in klein spuitkannetjies daarteenoor word middels wat CS bevat vir die polisie vervaardig.[14]
Tipiese vervaardiger waarskuwings op traangas lui: "Gevaar: moenie direk na persone afvuur nie. Ernstige besering of dood mag voortspruit".[15] Sodanige waarskuwings word nie noodwendig gerespekteer nie. In die 2013-oproere in Turkye is honderde beserings onder betogers wat met traangasprojektiele geteiken is, aangemeld. In die Israelies-besette gebiede word dit gereeld gedokumenteer deur die Israeliese menseregtegroep dat Israeliese soldate traangashouers direk naby aktiviste afvuur – sommige het tot sterftes gelei.[16][17]
Traangasgewere het egter nie 'n verstelling wat met die hand gedoen kan word om die trefafstand aan te pas nie. Die enigste manier om die projektiel se trefafstand aan te pas is om teen die regte hoek na die grond te vuur. Om verkeerd korrel te vat sal die kapsules wegstuur van die teikens af, wat 'n risiko veroorsaak vir nieteikens.[18] Dit het gebeur tydens die 2013 betogings in Brasilië en die 2014-Hong-Kong-oproer.
- Traangas word afgevuur om betogers uiteen te dryf buite die regeringshoofkwartier tydens 2014-Hong-Kong-oproer – 28 September 2014. 87 traangasbomme is afgevuur na betogers op Harcourtweg.
- Traangasgranaat word teruggeslinger na Israelisoldate tydens Palestynse oproer in Ni'lin, Julie 2014
Teenmaatreëls
'n Verskeidenheid van beskermende toerusting kan gebruik word as teenwigte in traangas aanvalle, insluitend gasmaskers en respirators. Tydens oproerigheid gebruik betogers soms toerusting (afgesien van eenvoudige lappe of klere oor die mond) soos swembrille en aangepaste waterbottels om hulself teen traangas te beskerm.[19]
Behandeling
Daar is geen spesifieke teenmiddel vir algemene traangas nie.[1] Om van die gas weg te kom en vars lug te kry is die eerste aksie.[1] Dit is raadsaam om klere wat begas is, te verwyder en om nie besmette handdoeke te deel met ander mense nie – dit kan velirritasie verminder.[20] Dit word ook aanbeveel om kontaklense onmiddellik te verwyder.[20]
Sodra 'n persoon eens aan traangas blootgestel is, is daar 'n verskeidenheid van metodes om so veel as moontlik chemikalieë te verwyder en die simptome te verlig.[1] Die standaardnoodhulp vir oë wat brand is om dit uit te spoel met water.[1][21] Daar is egter berigte dat water die pyn van CS gas kan vererger.[22][23] Sommige bewyse dui daarop dat 'n Diphoterine[24]-oplossing, 'n noodhulpproduk vir chemiese bespatting, kan help met okulêre brandwonde of chemikalieë wat in die oog gekom het.[21][25]
Aktiviste in die Verenigde State van Amerika, die Tsjeggiese Republiek, Venezuela en Turkye het berig dat hulle na traangasaanvalle van teensuurmiddel gebruik maak soos Maalox wat met water verdun is.[26][27][28] Daar is ook berigte van hierdie teensuurmiddels nuttig is vir die newe-effekte van traangas,[22] en vir kapsikum-geïnduseerde pyn op die vel.[29] Groente-olie en asyn word ook as oplossing voorgehou om die brand te verlig wat veroorsaak word deur pepersproei.[20]
Verwysings
- Schep, LJ; Slaughter, RJ; McBride, DI (Dec 30, 2013).
- Smith, J; Greaves, I (March 2002).
- National Research Council (US) Committee on Toxicology (2011).
- Kearney, T; Hiatt, P; Birdsall, E; Smollin, C (Jul–Sep 2014).
- Heinrich U (September 2000).
- Hu H, Fine J, Epstein P, Kelsey K, Reynolds P, Walker B (August 1989).
- Clarot F, Vaz E, Papin F, Clin B, Vicomte C, Proust B (October 2003).
- Wani, ML; Ahangar, AG; Lone, GN; Singh, S; Dar, AM; Bhat, MA; Ashraf, HZ; Irshad, I (Mar 2011).
- Wani, AA; Zargar, J; Ramzan, AU; Malik, NK; Qayoom, A; Kirmani, AR; Nizami, FA; Wani, MA (2010).
- Carron, PN; Yersin, B (19 June 2009).
- Worthington E, Nee PA (May 1999).
- Oksala A, Salminen L (December 1975).
- Jones DP (April 1978).
- "Mace pepper spray" Geargiveer 5 Augustus 2013 op Wayback Machine.
- Smith E (2011-01-28).
- "Israeli soldiers continue firing tear gas canisters directly at human targets, despite the army's denials".
- "Israeli MAG Corps closes file in Mustafa Tamimi killing, stating the tear-gas canister that killed him was fired legally".
- Turkish Doctors' Association, 16 June 2013, TÜRK TABİPLERİ BİRLİĞİ’NDEN ACİL ÇAĞRI !
- "Gezi park protesters bring handmade masks to counter police tear-gas rampage".
- Yeung, MF; Tang, WY (6 November 2015).
- Chau JP, Lee DT, Lo SH (August 2012).
- Carron, PN; Yersin, B (19 June 2009).
- Brvar, M (24 March 2015).
- Diphoterine
- Viala B, Blomet J, Mathieu L, Hall AH (July 2005).
- David Ferguson (2011-09-28).
- "Medical information from Prague 2000" Geargiveer 18 Oktober 2014 op Wayback Machine.
- Ece Temelkuran (2013-06-03).
- Kim-Katz, SY; Anderson, IB; Kearney, TE; MacDougall, C; Hudmon, KS; Blanc, PD (June 2010).
- Agence France-Press.
- Megan Doyle (24 June 2013).
- Tim Arango (15 June 2013).
- Gareth Hughes (25 June 2013).
- Toxic Use Reduction Institute.