Toelsidas

Toelsidas (ook Toelasidas, Goswāmī Toelsīdās of Toelasī Dāsa) (15321623) Dewanāgarī: तुलसीदास) was 'n groot Awadhi bhakta (of volgeling), filosoof, komponis, en die outeur van Ramtjaritmanas, 'n epiese gedig en geskrif gewy aan die Hindoegod Rama.

Toelsidas
Goswami Toelsidas, Hindi-digter en samesteller van die Ramtjaritmanas
Agtergrondinligting
GeboortenaamGoswāmī Toelsīdās
Ook bekend asToelasidas, Toelasī Dāsa
Gebore1532
Rajapur, Oetarpradesj
Sterf1623
Delhi
Beroep(e)filosoof, komponis, outeur

Geboorte

Volgens die Indiese datumstelsel is Toelsidas gebore op Sjraawan Sjoekla Saptami, Wikrami Samwat 1554, d.w.s. 1498 n.C. volgens die Christendatering. Hy is gebore in Tjitrakoetdistrik, Oetarpradesj, Indië,[1] tydens die regering van Akbar, as seun van Hoelsi en Atmaram Doebei. Die gebruiklike aanduiding in hierdie verband is dat Toelsidas 'n sarjoeparien Brahmin was van die Parasjara gotra (of stamlyn).

"पन्द्रह सौ चौवन बिसै कालिन्दी के तीर |
श्रावण शुक्ला सप्तमी तुलसी धरे शरीर ||"

Inkarnasie van Walmiki

Toelsidas word beskou as 'n inkarnasie van die groot wysgeer Walmiki. In Bhawisjjottar Poerana, vertel heer Sjiwa vir Parwati hoe Walmiki deur Hanoeman begunstig is om die heerlikheid van heer Rama in die volkstaal te besing in die Kali-joega (of Kali-era). Daar word geglo dat hierdie profesie van heer Sjiwa verwerklik is op die Sjraawan Sjoekla Saptami, Wikrami Samwat 1554, toe Walmiki gereïnkarneer is as Toelsidas.

"वाल्मीकिस्तुलसीदासः कलौ देवि भविष्यति |
रामचन्द्रकथामेतां भाषाबद्धां करिष्यति ||"
– Bhawisjjottar Poerana, Pratisarga Parwa, 4.20

Nabhadas, 'n tydgenoot en groot aanhanger van Toelsidas, beskryf Toelsidas eweneens as 'n inkarnasie van Walmiki in sy werk Bhaktmaal. Selfs die Ramanandi-sekte, waaraan Toelsidas ook behoort het, glo vas dat dit Walmiki self was wat Toelsidas in die Kali-joega (of Kali-era) gereïnkarneer het.[2]

Etimologie

Die ligging van Waranasi in Oetarpradesj, bekend as die stad van geleerdheid, waar Toelsidas Sanskrit geleer het en sy laaste dae deurgebring het.[3]

Sy naam kan op verskillende wyses geskryf word. Dit word tweeledig geskryf as Toelasī Dāsa wanneer die naam getranslitereer word uit die Dewanagari-briewe (soos gebruiklik in meeste biblioteek-katalogusstelsels) om die Sanskrit-uitspraak van die letters weer te gee, of as Toelsidas wanneer dit 'n transkripsie is van die Hindi-uitspraak). Ongeag die wyse waarop dit geskryf word, is die naam 'n samestelling van twee woorde: Toelasī, naamlik 'n Indiese variant van die basilikumkruid, en Dāsa, wat "dienaar" beteken, of by implikasie, "volgeling".

Lering

नानापुराणनिगमागमसम्मतं यद् (RCM Balkand, sewende vers)

Soos Ramanoedja, glo Toelsi in 'n persoonlike opperwese, wat beskik oor alle salige kwaliteite (sadghoena), benewens die kwaliteitlose (nirghoena), ongeslagtlike en onpersoonlike Brahman van Sankaratjarja; hierdie heer self, sou eens die menslike vorm aangeneem het, en vlees geword het tot seëning van die mensdom, as Rama. Die liggaam is daarom te vereer, en nie veragtelik nie. Die heer kan genader word uit geloof (bhakti), winslose eerbetuiging en oorgawe van die self in volmaakte liefde, met alle aksies gesuiwer van persoonlike belange, in oordenking van die heer. Liefde is aan alle skepsels te betoon, sodat jy gelukkig sal wees; want deur liefde vir alle dinge, bemin jy die heer, want hy is alles in alles. Die siel is van die heer, en is in hierdie lewe onderworpe aan die gebondenheid aan werke (karma); die mensheid, in hul weerbarstigheid, verknoop hulself in die net van aksies, en ten spyte van hul aanhoor en kennis van die geluksaligheid van dié wat geloof in die heer het, versaak hulle die enigste middel tot verlossing. Die heil wat die siel verkry deur die uitdelging van begeerte, in die salige tuiste, is nie opname in die heer self nie, maar 'n unie met hom in 'n beruste eiesoortigheid. Dit is bevryding (moekti) van die las van geboorte en hergeboorte, en die hoogste vreugde. Toelsi, as 'n sarjoeparien Brahmin, vereer die hele Hindoe-pantheon, en is veral sorgsaam dat Sjiwa, oftewel Mahadewa, die spesiale godheid van die Brahmins, sy eer toekom. Insgelyk leer hy dat geen teenstrydigheid tussen toewyding aan Rama en getrouheid aan Sjiwa bestaan nie (Ramajana, Lankakanda, Doha 3). Maar die praktiese doelstelling van al sy geskrifte is om bhakti, gerig op Rama, in te gryn as die vernaamste middel tot heil en verlossing van die ketting van sterfte en hergeboorte, 'n redding wat net so toeganklik en gratis bekombaar is vir persone van die laagste kaste, as vir die Brahmins.

Dit is nietemin belangrik om te verstaan dat die "doktrine" vir Toelsidas van mindere belang is. Van veel groter belang is praktyk, die gebruik van die herhaling van die Rama-Nama, die naam van Rama. Selfs gaan Toelsidas sovêr as om te sê dat die naam van Rama groter is as Rama self (कहउँ नामु बड़ राम तें निज बिचार अनुसार[4]). Waarom is die naam van Rama groter as Rama? Want "Rama" is 'n mantra, 'n geluid, waarvan die herhaling kan lei tot hoër vlakke van bewussyn. Want die naam self omvat heer Rama. Rama self beteken dié een wat teenwoordig is in elke atoom van hierdie heelal (Ramta sakal djahan).

Die letterkundige waarde van Toelsidas is beklemtoon deur Atjarja Ram Tjandra Sjoekla in sy kritiese werk Hindi Sahitja Ka Itihaas. Atjarja Sjoekla het Toelsi se Lokmangal uitgebrei as 'n lering vir sosiale opheffing wat hierdie groot digter onsterflik gemaak het, en hom op 'n vlak gestel het wat vergelykbaar is met enige ander wêreldliterateur.

Literêre loopbaan

Rāmtjaritmānas

Verse uit die Ramtjaritmanas wat die Saghoena Brahman en Nirghoena Brahman gelykstel, by die ingang van 'n tempel in Bhopal
Verse uit die Ramtjaritmanas - die inleiding van die Nam-wandana wat Rama se naam aanprys, by die Manas Mandir, Tjitrakoet, Indië

Ramatjaritmanas, 'n epiese gedig gewy aan Rama, was die Awadhi-weergawe van die Ramajana van Walmiki. Hiermee word nie die huidige "Awadhi-weergawe" bedoel nie, maar die wel die oorspronklike. Benewens "Awadhi", word drie ander tale aangetref in die epiese Ramtjaritmanas, naamlik "Bhojpoeri", "Brijbhasa" en "Boendeli". Soos baie vertalings van die oorspronklike Sanskrit Ramajana, word dit met groot ontsag gelees en vereer in menige Hindoehuishoudings in Indië. Die inspirerende boek bevat koeplette in die sogenaamde tjaupai versvorm.

Dit staan ook bekend as die Toelsi-krit Ramajan en is alombekend onder Hindisprekende Hindoes van Indië. Vele van die verse daarvan het algemene gesegdes van die streek geword. Toelsidas se frases is in die volksmond opgeneem, en word deur miljoene Hindisprekers gebruik (en selfs sprekers van Oerdoe), selfs wanneer die sprekers nie met die gesegde se oorsprong vertroud is nie. Sy gesegdes bly nie blote spreuke nie; sy doktrine tel onder die mees invloedryke geloofsleringe in hedendaagse Hindoeïsme; en, alhoewel hy nooit 'n skool gestig het nie, en nooit as 'n goeroe of meester bekend was nie, word hy alom aanvaar as digter en heilige; 'n geïnspireerde en gesaghebbende gids wat godsdiens en lewenswandel betref.

Toelsidas het homself beskou as die nederige navolger van sy leraar, Narhari Das, van wie hy as 'n seun in Soekar-khet, oorspronklik die verhaal van Rama se omswerwinge gehoor het, wat die onderwerp van die Rāmtjaritmānas sou vorm. Narhari Das was die sesde navolger in die geestelike opeenvolging van Ramananda, 'n stigter van gewilde Waisjnawisme in noord-Indië, wat eweneens om sy beroemde gedigte bekend was.

Daar is talryke verskille tussen die Toelsi-Rāmtjaritmānas en Walmiki-Ramajana. Een voorbeeld is die toneel waarin Kaikaji haar eggenoot dwing om Rama te verban. In Toelsi Das word dit meer psigologies en met groter omhaal aangebied, met die aanwending van intense karakterisering en briljante vergelykings.

Ander werke

Benewens die Rāmtjaritmānas, was Toelsidas die outeur van vyf langer en ses korter werke, meeste daarvan op die tema van Rama, sy dade en sy verering. Onder die eersgenoemdes is:

  1. die Dohawali, bestaande uit 573 diverse doha- en sortha-verse; hiervan word 'n duplikaat in die Ram-satsai aangetref, 'n samevatting van verse uit sewe eeue, waarvan die oorgrote meerderheid ook in die Dohawali en ander werke van Toelsi aangetref word,
  2. die Kabitta Ramajan of Kawitawali, 'n geskiedenis van Rama in die kawitta, ghanaksjari, tjaupaï en sawaija versmaat; soos die Rāmtjaritmānas, is dit in sewe kandas of kanto’s onderverdeel, en is daarop gemik om die luisterryke aspek van Rama se karakter uit te lig,
  3. die Gitawali, ook in sewe kandas, gemik op die beskrywing van die tere aspek van die heer Rama se lewe; die versmaat is vir sang aangepas,
  4. die Krisjnawali of Krisjna gitawali, 'n versameling van 61 liedere tot eer van Krisjna, in die Kanaudji-dialek van Hindi: daar bestaan twyfel oor die toeskryfbaarheid van hierdie werk,
  5. die Winaja Patrika, of Boek van petisies, 'n reeks gesange en gebede waarvan die eerste 43 aan die mindere gode gewy word, naamlik Rama se hofhouding en lyfeienes, en die origes, nommers 44 tot 279, aan Rama self.

Sy mindere werke sluit in die Barawai Ramajana, Djanaki Mangal, Ramalala Nahatjhu, Ramadjna Prasjna, Parwati Mangal, Krisjna Gitawali, Hanoeman Bahoeka, Sankata Motjana en Wairagja Sandipani.[5] Van die kleiner komposisies is die mees interessante die Wairagja Sandipani, of Verkryging van besadigdheid, 'n gedig oor die aard en grootsheid van 'n heilige man, en die ware vrede wat hy verkry.

Toelsidas se mees beroemde en gelese literatuurstuk naas die Ramajana is die "Hanoeman Tjalisa", 'n gedig wat lof bring aan Hanoeman. Vele Hindoes resiteer dit daagliks as 'n gebed.

Die volkome versameling komposisies deur Toelsi Das, bestaande uit 13 boeke, is deur Binda Prasad Khattri (1898-1985) na Engels vertaal, as gedigte. Hierdie werk bly egter steeds ongepubliseerd.

Sjrie Ramatjandra Kripaloe Bhadjaman

Die heer Rama uitgebeeld as uitgewekene in die bos, bygestaan deur sy vrou en broer

In hierdie vereringslied, bekend as 'n Bhadjan, word sy heer Rama beskryf en sy deugde geprys. Sjrie is 'n eerbare aanspreekvorm uit Sanskrit, wat oorspronklik met lig en glorie verbind is. Tjandra is die Hindi- en Sanskritwoord vir maan, asook die middelnaam van die god Rama.

O verstand! Betuig eer aan die barmhartige Sjrie Ramatjandra
Wat vrees vir die ervaringswêreld uitwis
Sy oë soos vars lotusse. Hy het 'n lotusaangesig.
Sy hande is soos lotusse, sy voete is soos lotusse.
Sy prag oortref dié van veelvuldige Cupidos,
Hy is aanvallig blougetint soos 'n wolk.
Ek buig voor die een wat die dogter van Djanaka as gade geneem het,
Wat die geel kleed dra, die suiwer een wat arrogansie uitroei.
Vereer die vriend van die armmoedige,
Die Son wat duiwelfamilies uitdelg.
Die nakomeling van Raghoe, die seun van Dasjaratha,
Die meer van saligheid, die maan van Kosala.
Vereer die een wat die kroon op sy hoof dra,
Oorornamente en skarlakenmerk op die voorhoof
Van wie elke ledemaat pragtig en ryklik versier is,
Wat hoog van statuur is, goedgebou met sterk arms,
Toegerus met boog en pyle en in oorlog seëvierend oor bose duiwels.
Só sê Toelsidas: vereer Hom wat Sjankara behaag en al die wysgere,
Bly in die lotus van my hart, delg bose emosies uit soos die sinlike.

Die Reënseisoen

In Indië bring die moesson twee reëntye, bekend as die Srawana en Bhadrapada. In Toelsidas se Manasa word hierdie jaargety deur 'n gelykenis met goddelike verering in verband gebring. In hierdie gedig word verering van sy heer Rama eweneens afgespeel teen die uitbreek van seisoenale natuurkragte en -verskynsels. Die geluid is die herhaling van Rama se naam, 'n mantra wat met 'n hoër bewussyn verbind word.

In wie verlange vir die Geliefde 'n tuiste gevind het,
Oomblik na oomblik word sy liggaam uitgemergel en ellendig.
‘n Dal trane vloei almaardeur van sy oë;
Die prang van pyne knel onverpoosd sy liggaam en verstand.
Soos riviere in Sawhan en Bhadon, oorstroom die rivier van my liefde.
Bedags en snags hunker ek na Hom en trane val soos onafgebroke reën.
Die wroeging na my Geliefde deurdring toenemend my wese, oomblik vir oomblik;
My aandag kan op niks anders as Hom gevestig word nie,
Soos die maanvoël wat deur aanskoue van die maan onversadigd bly.
Donker wolke versamel en breek uit in donder, en weerlig verbyster die oë.
Die pou kraai met behae en die reënvoël sing sy verlange.
Ek hunker immermeer na U, my liggaam kwyn deurlopend weg van verontrusting.
As ek luister na die Geluid, begewe my geduld my en ek skryf aan my Geliefde.
Met verstand en siel as my gesante, stuur ek my boodskap na Sy ontoeganklike verblyf.
As ek die tyding van Sy welstand ontvang,
Word my hart vervul met liefde en genoeë.
Sinds smagting vir die Heer van my besit geneem het,
Het ek alle verbintenis met die wêreld opgegee.

Verwysings

  1. Goswami Toelsidas Biografie deur Swami Siwananda by Divine Life Society.
  2. Manas het uit Sjrie Toelsi Pieth, in Tjitrakoet, gepubliseer
  3. Goswani Tulsidas, Hindupedia
  4. Ramatjaritamanas, Bal Kand, Doha 23
  5. Toelsidas Geargiveer 25 Maart 2009 op Wayback Machine www.ramcharitmanas.iitk.ac.in.


This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.