Tiwa

Tiwa, voorheen Toewa (Russies: Республика Тува; Республика Тыва; Tiwaans: Тыва Республика), is ’n outonome republiek in die Russiese Federasie. Die yl bevolkte gebied lê in die suidweste van Siberië noord van Mongolië. In die weste grens Tiwa aan die Republiek Altai, in die noorde aan die Republiek Chakassië, Krasnojarsk en Irkoetsk en in die weste aan die Republiek Boerjatië.

Republiek van Tiwa
Тыва Республика
Die ligging van Tiwa in Rusland.
Die ligging van Tiwa in Rusland.
Politieke status
Land Russiese Federasie
Federale distrikSiberië
Ekonomiese streekOos-Siberië
Stigting13 Oktober 1944
Regering
HoofstadKizil
LeierSjolban Kara-ool
AmpPresident
WetgewerGroot Choeral
Bevolking
Sensus2010
Totaal307 930
Volgorde77ste
Digtheid1,81/km²
Stedelik53,1%
Plattelands46,9%
Statistiek
Oppervlakte170 500 km²
Volgorde21ste
TydsoneUTC+08:00
Registrasienommer17
Amptelike taleRussies, Tiwaans
Webtuistehttp://gov.tuva.ru/
Wapen en vlag
Portaal  Portaalicoon   Rusland

Die hoofstad is Kizil. Dié stad lê volgens sommige presies op die geografiese middelpunt van Asië. Nog iets waarvoor Tiwa bekend is, is dat daar met sowel rendiere as kamele geteel word, asook die tradisionele botoonsang.

Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Tiwa word reeds baie lank bewoon en is ’n lang tyd oorheers deur ander volke. Van die 13de tot die 18de eeu val dit onder die bestuur van die Mongole, waarna dit in 1757 deur die Mantsjoe verower word. Hulle hernoem die gebied na Tannoe-Oerjantsjai. Vanaf die 19de eeu begin Russe hulle in die gebied vestig. In die begin van die 20ste eeu is dit vir 'n rukkie onafhanklik. Eindelik lei die steeds groter wordende Russiese bevolking daartoe dat tsaar Nikolaas II in 1911 troepe na die gebied stuur weens die toenemende aantal aanvalle op Russe. Twee jaar later, in 1914, word dit tot 'n protektoraat van Rusland verklaar.

Ná die Russiese Rewolusie

In 1917 breek onluste in die gebied uit tussen Mongole, Toewane, die Rooi Leër en die Wit Leër weens die magsvakuum wat ontstaan het ná die Russiese Rewolusie. In 1920 val die Rooi Leër die gebied binne en in 1921 verkry dit onafhanklikheid as die Volksrepubliek Toewa, ook bekend as Tannoe Toewa. Die republiek is kommunisties, maar verkry deur die eerste president, Koelar Dondoek, tog reeds ’n eie karakter. Hy voer die Lamaïsme in as staatsgodsdiens en probeer van die land ’n teokrasie maak. Dit was egter nie wat die kommunistiese leiers in Rusland in gedagte gehad het nie en Dondoek word vervang deur die pro-Russiese kommunis Saltsjak Toka.

Tydens die bewind van Josef Stalin word die staat in 1944 weer geannekseer en Toewa word ’n outonome oblast in die Russiese SFSR. Die leier van die voormalige volksrepubliek, Toka, word die eerste sekretaris van die Toewaanse Kommunistiese Party. Op 10 Oktober 1961 kry die republiek die status van outonome republiek binne die RSFSR. Die kommunistiese regering gaan gepaard met grootskaalse en ongewilde kollektiwisasies en die onderdrukking van die Toewaanse kultuur en godsdiens.

In 1990 ontstaan die Toewaanse Demokratiese Beweging onder leiding van Kaadyr-ool Bicheldei, ’n filoloog van die Universiteit van Kizil. Die beweging beloof loopbane en huise, wat skaars was in dié tyd. Hulle beloof ook om die posisie van die Toewaanse kultuur en taal te verbeter. Die resultaat is ’n reeks aanvalle op die Russiese minderheid in die gebied later dié jaar, wat daartoe lei dat die Russiese leër die gebied beset.

Russiese Federasie

Ná die ontstaan van die Russiese Federasie op 31 Maart 1992 word ’n nuwe grondwet op 22 Oktober 1993 vir Toewa opgestel. Die amptelike naam word van Toewa (Тува) in Tiwa (Тыва) verander. In die grondwet staan onder meer dat Tiwa die reg het om van Rusland af te skei indien die bevolking dit verkies. Die eerste president, Sjerig-ool Oorzjak, word in 1992 verkies.

China en Taiwan erken tot vandag toe nie Russiese soewereiniteit oor dié gebied en oor Buite-Mongolië nie en op sommige kaarte uit dié lande val die gebiede onder die "Chinese grondgebied".

Geografie

Die republiek lê aan die boloop van die Jenisejrivier. Sowel die Groot- as die Klein-Jennisei begin in die gebied. Daar is ongeveer 6 700 mere, waaronder baie gletsermere. Tiwa lê op die kruising van die Siberiese taiga en die Sentraal-Asiese woestyn en steppe. Wat die reliëf betref, kan die gebied ingedeel word in twee gebiede: die ooste, wat 80% uitmaak en berg- en bosagtig is, en die weste, wat die droë en laerliggende woestyn en steppes bevat.

Bevolking

Die gebied word bewoon deur Boeddhistiese Tiwane wat Tiwaans, ’n Turkse taal, praat en sterk verwant is aan ’n ander volk, die Tofalari. Die Tiwane vorm die meerderheid van die 305 000 inwoners; 70,02% van die bevolking (2002). Russe maak 20,11% uit. Die bevolking is besig om te verstedelik. Die geloof is oorwegend Tibettaanse Boeddhisme. Dit is jare lank onderdruk, maar het ná die ontstaan van die nuwe Rusland ’n nuwe hupstoot gekry.

Die bevolking van Tiwa is baie arm. Meer as 70% leef onder die armoedegrens: Dit is die armste gebied in Rusland. Die gemiddelde leeftyd is 48,8 jaar vir mans en 60,4 vir vroue. In Rusland is dié getalle onderskeidelik 58,8 en 72 jaar.

Kultuur

Die Tiwane het ’n sterk volkstradisie. Hulle is baie goed met die maak van voorwerpe van silwer, brons, hout en klip. Hulle is egter meestal bekend vir hul botoonsang (keelsang), ’n vorm van sing waarby lae tone voortgebring word en tegelykertyd ook baie hoë fluitende tone. Eers het net mans dit beoefen aangesien daar geglo is dat dit vroue onvrugbaar kan maak. Tans beoefen vroue dit egter ook.

Ekonomie

Die ekonomie is sterk op landbou toegespits. Die Tiwane teël met onder meer vee, perde, skape, rendiere en kamele in die bergagtige steppe en met beeste in die noordooste. In die laagland word graan verbou met behulp van besproeiing.

Die nywerheid is veral in die stede gekonsentreer, veral in Kizil. Die belangrikste sektore is die voedingsnywerheid, die looi van leer, houtbewerking en die verwerking van delfstowwe soos (goud, haliet, steenkool en asbes).

'n Kaart van Tiwa en sy bure.

Distrikte (kozjuuns):

  • Baroen-Chemtsjik (Барун-Хемчикский)
  • Bai Taiga (Бай-Тайгинский)
  • Dzoen-Chemtsjik (Дзун-Хемчикский)
  • Erzin (Эрзинский)
  • Kaa-Chem (Каа-Хемский)
  • Kyzyl (Кызыльский)
  • Mongoen-Taiga (Монгун-Тайгинский)
  • Oeloeg-Chem (Улуг-Хемский)
  • Owjoer (Овюрский)
  • Pii-Chem (Пий-Хемский)
  • Soet-Chol (Сут-Хольский)
  • Tandi (Тандинский)
  • Tere-Chol (Тере-Хольский)
  • Tes-Chem (Тес-Хемский)
  • Todzja (Тоджинский)
  • Tsjaa-Chol (Чаа-Хольский)
  • Tsjedi-Chol (Чеди-Хольский)

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.