Terugflits (narratief)

'n Terugflits is 'n ingevoegde toneel wat 'n narratief terugneem na 'n gebeurtenis wat voor die huidige punt in die verhaal afgespeel het.[1] Terugflitse word dikwels gebruik om gebeure weer te gee wat voor die verhaal se primêre verloop van gebeure plaasgevind het om sodoende noodsaaklike agtergrondinligting te verskaf.[2] Aan die ander kant word 'n vorentoeflits (of prolepsis) gebruik om te verklap wat in die toekoms gaan gebeur.[3] Terug- sowel as vorentoeflitse word gebruik om 'n verhaal saam te bind, 'n karakter te ontwikkel of struktuur aan die narratief te gee. In letterkunde is interne analepsis 'n terugflits na 'n vroeëre punt in die vertelling; eksterne analepsis is 'n terugflits na 'n tyd voordat die narratief begin het.[4]

In rolprente en televisie is daar verskillende kamerategnieke en spesiale effekte wat die kyker daarop wys dat die betrokke toneel 'n terugflits of 'n vorentoeflits is; die rand van die beeld kan byvoorbeeld wasig wees; die fotografie kan stamperig of onegalig wees; daar kan ook van 'n ander kleur gebruik gemaak, soos sepia of swart-en-wit terwyl die res van die verhaal in volkleur is.

Vername voorbeelde

Letterkunde

'n Vroeë voorbeeld van analepsis is in die Ramayana en Mahabharata waar die primêre verhaal binne 'n kaderverhaal vertel word wat op 'n latere tydstip afspeel. Nog 'n antieke voorbeeld is in die Odussee, waarin Odusseus die hoofgebeure aan 'n luisteraar vertel.

Nog 'n vroeë gebruik van hierdie tegniek in 'n raaiselverhaal was in "Die Drie Appels", 'n storie in die Duisend-en-een NagDie verhaal begin met die ontdekking van 'n jong vrou se lyk. Wanneer die moordenaar na vore kom, deel hy die redes vir die moord deur middel van in 'n reeks terugflitse wat tot die ontdekking van haar liggaam aan die begin van die verhaal lei.[5] Terugflitse word ook in verskeie ander verhale in die Duisend-en-een Nag gebruik, soos "Sinbad die Matroos" en "The City of Brass".

Analepsis is gereeld deur die outeur Ford Madox Ford, en die digter, outeur, historikus en mitoloog Robert Graves gebruik.

Die 1927-boek The Bridge of San Luis Rey deur Thornton Wilder is die voorloper van die moderne rampverhaal in letterkunde en rolprentvervaardiging. In sulke verhale word die slagoffers deur 'n spesifieke ramp bymekaargebring en word hulle lewens dan deur middel van terugflitse ondersoek .

Analepsis is ook in Night deur Elie Wiesel gebruik.

Indien terugflitse omvangryk en in chronologies is, kan daar gesê word dat die terugflitse die teenwoordige verhaal vorm terwyl die res van die verhaal uit vorentoeflitse bestaan. Indien terugflitse nie chronologies aangebied word nie, kan die tyd waarin die verhaal afspeel, dubbelsinnig of onduidelik wees. 'n Voorbeeld van so 'n verhaal is Slaughterhouse-Five waar die narratief heen en weer spring en daar geen werklike teenwoordige tyd is nie.

Die Harry Potter-reeks maak gebruik van 'n Pensieve, 'n magiese voorwerp wat die aard van terugflitse verander. In plaas van 'n bloot narratiewe metode is dit 'n gebeurtenis wat direk deur die karakters ervaar word en dus as kommentaar kan dien.[6]

Os Lusíadas is 'n verhaal oor Vasco da Gama se seereis na Indië en terug. Die vertelling begin waar hulle in Afrika aankom, maar flits vinnig terug na die begin van die verhaal toe hulle Portugal verlaat het.[7]

Rolprente

Die skepper van die terugflitstegniek in die rolprentbedryf was D.W. Griffith.

Terugflitse is vir die eerste keer gedurende die klank-era in Rouben Mamoulian se 1931-film City Streets aangewend, maar is selde gebruik tot ongeveer 1939 toe, in William Wyler se Wuthering Heights (nes in Emily Brontë se oorspronklike verhaal), die huishoudster Ellen die hoofverhaal aan 'n besoeker, Mr. Lockwood, vertel nadat hy Heathcliff se frenetiese agtervolging van wat oënskynlik 'n spook was, gesien het. 'n Meer bekende voorbeeld, ook in 1939, is Marcel Carne se rolprent Le jour se lève wat amper heeltemal in terugflitse afspeel: die verhaal begin met die moord van 'n man in 'n hotel. Terwyl die moordenaar, gespeel deur Jean Gabin, deur die polisie omsingel word, is daar verskeie teruglitse wat verklaar waarom hy die man aan die begin van die film doodgemaak het.

Een van die bekendste voorbeelde van terugflitse is in Orson Welles se fliek Citizen Kane (1941). Die protagonis, Charles Foster Kane, sterf aan die begin van die verhaal, en net voordat hy doodgaan, prewel hy die woord Rosebud. Die res van die film speel binne die raamwerk van 'n verslaggewer se onderhoude met Kane se vriende en vennote af in 'n vergeefse poging om uit te vind wat die woord vir Kane beteken het. Namate die onderhoude vorder, ontvou stukkies van Kane se lewe in terugflitse. Daar is egter gevoel dat Welles se gebruik van hierdie onkonvensionele terugflitse deur William K. Howard se The Power and the Glory beïnvloed is.

Alhoewel dit dikwels gebruik word om 'n intrige of agtergrondverhaal te verhelder, kan terugflitse ook as 'n onbetroubare verteller optree. In Alfred Hitchcock se Stage Fright van 1950 is daar 'n berugte terugflits wat nie die waarheid vertel nie, maar waarin 'n leuen van 'n getuie gedramatiseer word. Die veelvuldige en teenstrydige rekonstruksies van 'n misdaad in Errol Morris se 1988-dokumentêr, The Thin Blue Line, word as terugflitse aangebied wat op uiteenlopende getuienisse gebaseer is. In Akira Kurosawa se Rashomon (1950) word die mees bekroonde fiktiewe gebruik van teenstrydige getuienisse aangetref.

Soms word 'n terugflits in 'n film gebruik ongeag of daar een in die oorspronklike bron was waarop die film gebaseer is. Die 1956-rolprentweergawe van Rodgers en Hammerstein se musiekblyspel Carousel het 'n terugflitstegniek gebruik wat die impak van 'n baie dramatiese ontwikkeling later in die film versag het. Dit is gedoen aangesien die intrige van Carousel op daardie stadium as ongewoon sterk vir 'n rolprent-musiekblyspel beskou is. In die rolprentweergawe van Camelot (1967), is daar, volgens Alan Jay Lerner, 'n terugflits bygevoeg, nie om die skok te versag nie, maar aangesien die verhoogweergawe daarvoor gekritiseer is dat die stemming te skielik van amper-komies na tragies oorgegaan het.

'n Goeie voorbeeld van 'n terugflits sowel as vorentoeflits kom in die eerste toneel van La jetée (1962) voor. Soos ons 'n paar minute later uitvind, is dié toneel 'n terugflits na die verlede aangesien die rolprent se vertelling direk na afloop van die Tweede Wêreldoorlog afspeel. Heel aan die einde van die rolprent ontdek die kyker egter dat die toneel ook as 'n prolepsis dien, aangesien die sterwende man wat deur die seun gesien word, in werklikheid die seun self is. Met ander woorde, hy sien sy eie dood. Ons het dus 'n analepsis en prolepsis in presies dieselfde toneel.

By geleentheid kan daar 'n terugflits binne 'n terugflits wees. Die vroegste bekende voorbeeld het in Jacques Feyder se L'Atlantide verskyn. Little Annie Rooney (1925) bevat 'n terugflitstoneel in 'n Chinese waskamer, met 'n terugflits binne daardie terugflits in die hoekie van die skerm. In John Ford se The Man Who Shot Liberty Valance (1962) word die hoofgebeurtenis van die rolprent in 'n terugflits vertel, met die toneel van Liberty Valance se moord wat as 'n terugflits binne daardie terugflits gebruik word. Ander voorbeelde waar terugflitse binne terugflitse voorkom is in die Japannese rolprent Lone Wolf Isazo (1968)[8] en in 2004 se The Phantom of the Opera, waar so te sê die hele rolprent (wat in 1870 afspeel) as 'n terugflits uit 1919 (in swart-en-wit) vertel word en ander terugflitse bevat; een so 'n voorbeeld is waar Madame Giry die Phantom van 'n fratsskou red. 'n Uiters kronkelende verhaal kan terugflitse binne terugflitse binne terugflitse bevat, soos in Six Degrees of Separation, Passage to Marseille en The Locket. Hierdie tegniek is 'n kenmerk van die Kannada-regisseur Upendra wie se futuristiese fliek Super (2010) in 2030 afspeel en verskeie terugflitse uit 2010 tot 2015 bevat waarin 'n utopiese Indië uitgebeeld word.

Satyajit Ray het inThe Adversary (Pratidwandi, 1972) met terugflitse geëksperimenteer deur vir die eerste keer van fotonegatief-terugflitse gebruik te maak.[9]

Televisie

Die televisiereekse Quantico, Kung Fu, Psych, How I Met Your Mother, Grounded for Life, Once Upon a Time en I Didn't Do It gebruik terugflitse in elke episode. Terugflitse was ook 'n oorwegende kenmerk van die televisieprogram Lost. Baie speurverhale gebruik terugflitse in die laaste toneel om die skuldige se dade aan die lig te bring, byvoorbeeld Murder, She Wrote, Banacek, Columbo.

Verwysings

  1. Pavis, Shantz (1998). Dictionary of the Theatre: Terms, Concepts, and Analysis. University of Toronto Press. p. 151. ISBN 0-8020-8163-0.
  2. Kenny (2004). Teaching Tv Production in a Digital World: Integrating Media Literacy. Libraries Unltd Incorporated. p. 163. ISBN 1-59158-199-0.
  3. http://www.thefreedictionary.com/flash-forward
  4. Jung (2010). Narrating Violence in Post-9/11 Action Cinema: Terrorist Narratives, Cinematic Narration, and Referentiality. VS Verlag für Sozialwissenschaften. p. 67. ISBN 3-531-92602-0.
  5. Pinault, David (1992), Story-Telling Techniques in the Arabian Nights, Brill Publishers, p. 94, ISBN 90-04-09530-6
  6. Pensieve Flashback @ TV Tropes wiki
  7. Os Lusíadas
  8. http://www.japansociety.org/event_detail?eid=134fbb96.
  9. http://www.villagevoice.com/2009-04-15/film/first-light-satyajit-ray-from-the-apu-trilogy-to-the-calcutta-trilogy.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.