Tegel

Tegel is 'n stadsdeel in die administratiewe distrik Reinickendorf van Berlyn. Dit staan veral bekend vanweë die internasionale lughawe Otto Lilienthal (Berlin-Tegel) en die Justizvollzugsanstalt Tegel, een van die oudste en grootste gevangenisse in Duitsland.

Tegel
Stadsdeel
Die internasionale Tegel-lughawe van Berlyn
Die internasionale Tegel-lughawe van Berlyn
Ligging in Berlyn
Ligging in Berlyn
Koördinate: 52°35′0″N 13°17′0″O
LandVlag van Duitsland Duitsland
DeelstaatBerlyn
DistrikReinickendorf
Stigting1230
Oppervlak
  Totaal33,7 km2 (13,0 vk. myl)
Hoogte
35 m (115 ft)
Bevolking
  Totaal34 868
  Digtheid1 035/km2 (2 680/vk. myl)
TydsoneUTC+1:00 (MET)
  SomertydUTC+2:00 (MEST)
Poskode
13405, 13503, 13505, 13507, 13509
Skakelkodes030

Die stadsdeel is met sy Tegelmeer (Tegeler See) en die Greenwichpromenade (wat na Reinickendorf se Engelse susterstad Greenwich vernoem is) 'n gewilde ontspanningsgebied in die noorde van die Duitse hoofstad. Die Greenwichpromenade is die beginpunt van rondvaarte in die mere en binnewaters van Berlyn.

Die bekendste argitektoniese besienswaardighede is die kasteel Schloss Tegel (Humboldt-Schloss) met sy park, die ou dorpskerk van Alt-Tegel en die Borsigwerke, 'n uitgestrekte voormalige fabrieksterrein met die Borsig-toring. Vir die internasionale argitektoniese tentoonstelling Internationale Bauausstellung 1984-1987 is die nuwe Tegel-hawe by die voormalige nywerheidshawe gebou. Hier het die nuwe Humboldt-biblioteek en woonstelprojekte van verskeie internasionale argitekte ontstaan. Die Dicke Marie in Tegel word as Berlyn se oudste boom beskou.

Op die skiereiland Reiherwerder aan die wesoewer van die Tegelmeer is naas die Villa Borsig, die vroeëre woonhuis van 'n bekende plaaslike nyweraarsgesin, ook die gastehuis van die Duitse federale regering en die Akademie Auswärtiger Dienst, 'n opleidingsentrum vir Duitse en buitelandse diplomate, geleë.

Geskiedenis

Net soos ander dorpe in die huidige Berlynse administratiewe distrik Reinickendorf is Tegel gedurende die Middeleeuse Duitse Ooskolonisasie omstreeks 1230 deur setlaars gestig. Navorsers neem aan dat vlakby die Tegelmeer 'n ouer Slawiese nedersetting geleë was.

Historiese industriële argitektuur in Tegel: ingang tot die moltreinstasie Borsigwerke, met die vroeëre Borsig-fabrieksterrein en Borsig-toring in die agtergrond

Die naam Tegel dui moontlik op Nederlandse setlaars - in Nederlands-Limburg (wat destyds deel van die Heilige Romeinse Ryk uitgemaak het) bestaan daar 'n dorp naby Venlo met die naam Tegelen. Volgens historiese dokumente is die dorp Tegel in 1361 aan die Spandause Benediktyne-vroueklooster verkoop en later met die parogie Dalldorf (Wittenau) verenig.

Ná die ontbinding van die klooster tydens die Reformasie het Tegel in 1558 'n besitting van die Keurvors van Brandenburg geword en is in 1701 aan die Pruisiese koning oorgedra. Tussen 1850 en 1920 het Tegel as 'n selfstandige landelike nedersetting bestaan wat in administratiewe opsig deel uitgemaak het van die landdistrik Niederbarnim, die administratiewe distrik Potsdam en die Pruisiese provinsie Brandenburg.

Op 1 Oktober 1920 is Tegel ingevolge administratiewe hervormings by Groot-Berlyn ingesluit en vorm sedertdien 'n stadsdeel van die Berlynse administratiewe distrik Reinickendorf. Die Sowjet-leër het Tegel op 23 April 1945 ingeneem. Vanaf Augustus 1945 tot en met 1990 het Tegel deel uitgemaak van die Franse sektor van (Wes-)Berlyn.

Verwysings

Bronliteratuur - geskiedenis

  • Klaus Schlickeiser: Spaziergänge in Tegel. Berlyn: Förderkreis für Bildung, Kultur und internationale Beziehungen 2006
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.