Tartare
Die Tartare of Tatare (Russies: татары; Tartaars: татарлар) is 'n Turkse etniese groep inheems aan die Europese deel van Rusland en die Wolga se middelloop.[1] Hulle praat Tartaars, 'n Turkse taal, as moedertaal en Russies as tweede taal. Die Tartare is hoofsaaklik aanhangers van die Soennitiese Islam, gevolg deur 'n klein minderheid Oosters-Ortodokse Christene.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Tartaars.
Tartare | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 6 800 000 |
Belangrike bevolkings in: | Rusland (uitsluitende die Krim) 5 319 877 Oesbekistan 477 875 |
Taal: | Tartaars, Russies |
Geloofsoortuiging: | Soennitiese Islam, Oosters-Ortodokse Kerk |
Verwante etniese groepe: | Ander Turkse volke soos Azerbeidjanners, Basjkiriërs, Gagaoesiërs, Karakalpakke, Kasakke, Kirgisiërs, Oeigoere, Oesbeke, Tsjoewasjiërs, Turke en Turkmene; Russe; Ander Tartare soos Dobroedja-Tartare, Krim-Tatare, Siberiese Tartare en Wolga-Tartare |
Tartare vorm die tweede grootste etniese groep in Rusland na die Russe en maak sowat 3,9% van dié land se bevolking volgens die sensus van 2010 uit. Die meeste Tartare leef in die outonome republieke Tartarstan en Basjkortostan (Rusland), gevolg deur Oesbekistan, Oekraïne, Kasakstan en Turkye. In Oekraïne bly Tartare veral in die outonome republiek Krim (Krim-Tatare) en in Rusland naas die westelike deel (Wolga-Tartare) veral in Siberië (Siberiese Tartare).
Die eerste verwysing na Tartare verskyn op die Kul Tigin-monument in die Oud-Turkse skrif as 𐱃𐱃𐰺. Histories verwys die term na 'n verskeidenheid van Turko-Mongoolse semi-nomadiese ryke, wat die Tartarye se uitgestrekte gebied oorheers het. Na die Mongoolse Ryk, wat in 1206 deur Djengis Khan gestig is, en die daaropvolgende Goue Horde is deur Europeërs as Tartare verwys. Die term Tartare is 'n vermenging van die Turkse volk se eienaam en Tartaros uit die Griekse mitologie.[2]
Verwysings
- (en) "Tatar". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Mei 2020. Besoek op 18 Augustus 2020.
- (de) Stephan Theilig (2011). Historische Konzeptionen von Körperlichkeit. Frank & Timme GmbH. p. 109. ISBN 978-3-86596-333-8. Besoek op 2 Maart 2020.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Tartare.