Taipei
Taipei (Chinees: 臺北市) is die hoofstad en tweede grootste stad van die Republiek China (Taiwan) met 2 619 920 inwoners (skatting Maart 2009). Die stad op die eiland Taiwan, wat teen die Danshueirivier lê, is die ekonomiese en kulturele sentrum van die eilandrepubliek. Die vernaamste nywerhede is elektriese en elektroniese uitrusting, tekstiele, metale, skeepsbou en motorfietse.
Taipei | |
---|---|
Kaart | Seël |
Vlag | |
Land | Republiek China |
Administratiewe gewes | Noord-Taiwan |
Koördinate | 25°2' N 121°32' O[dooie skakel] |
Stigting | 1709 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 271,8 vk km |
Hoogte bo seevlak | 10 m |
Bevolking: | |
- Totaal (Maart 2009) | 2 619 920 |
- Bevolkingsdigtheid | 9 639,2/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 10 072 918 |
Tydsone | UTC +8 (CST) |
Burgemeester | Ko Wen-je (TPP) |
Amptelike Webwerf | Taipei |
Geskiedenis
Taipei was oorspronklik die tuiste van die Ketagalan. Eers met die begin van die Ming-dinastie (1368-1644) het die immigrasie van Han-Chinese 'n aanvang geneem. In die 17de eeu het die gebied onder Spaanse en Nederlandse heerskappy gekom, tog is die Europeërs deur die Chinese veroweraar Koxinga (Zheng Chenggong) weer verdryf. Die gebied van Taipei het tydens die grootskaalse Chinese kolonisasie 'n ongerepte wildernis gebly, aangesien die setlaars van die vasteland hulle veral in die stad Tainan gevestig het.
In 1949, toe die regering van die Republiek China sy setel na Taiwan verskuif het, was Taipei nog 'n onbenullige klein stad. Vanaf die sestigerjare het dit egter tot een van die belangrikste metropole in Asië ontwikkel. Desondanks die ekonomiese groei is die Chinese karakter van die stad bewaar en lok vandag selfs toeriste uit Hongkong en Singapoer, waar die ou Chinese stadskerne grotendeels verdwyn het.
Geografie en klimaat
Taipei lê teen die Tamsoeirivier, in 'n kusvlakte van die subtropiese Noord-Taiwan. Die eiland het net twee seisoene, 'n hete tussen Mei en Oktober en 'n koue van Desember tot Maart. Die taifoenseisoen duur van Julie tot Oktober.
Besienswaardighede
- Taipei 101 is 'n finansiële sentrum en tans die tweede hoogste gebou wêreldwyd teen 508 m (ná Burj Khalifa in Doebaai, wat 828 m hoog is). Sy argitektoniese styl simboliseer die bamboesplant, terwyl die syfer "101" na die aantal verdiepings verwys. Die gebou is volgens die ou Chinese leerstellings van feng shui ontwerp. Dit neem die 63 hoëspoed-hysbakke slegs sowat 30 sekondes om die uitkykplekke bo-op te bereik. Die hysbakke is lugdig verseël om te voorkom dat die passasiers se trommelvliese ernstig beseer word.
- Die Grand Hotel in die styl van 'n ou Chinese paleis is 'n bekende baken in die noorde van Taipei.
- Oos van die Grand Hotel lê die National Revolutionary Martyr's Shrine, ter nagedagtenis van die gesneuwelde nasionale rewolusionêre van China.
- Die Nasionale Paleismuseum huisves sedert 1965 die crème de la crème van die Chinese kuns, en slegs 'n klein gedeelte van die honderdduisende kunswerke, wat die museum bewaar, word vertoon. Die skilderye, jade, porselein, kalligrafieë en ander objekte uit 1 000 jaar se geskiedenis is die oorspronklike versameling van die Chinese keisers wat voor die Japanners en kommuniste gered is.
- By die uitgestrekte Kulturele Sentrum Tsiang Kai-Sjek bekoor 'n oorwelfde poort in die Ming-styl, met 'n indrukwekkende hoogte van 30 m.
- Die Hwa-Hsi-straat bied snags die outentieke atmosfeer van 'n Chinese mark. Weens die talle slanghandelaars word die straat ook "Slangelaan" genoem. In die buurt lê ook die
- Drakensberg (Loeng-sjan)-tempel met 'n groot aantal skulpture en ander kunswerke. Sy naam is te danke aan die draakskulpture bo-op sy dak.
- Die China Ceramics Factory (Chinese keramiekfabriek) in die voorstad Peitou wys hoe die kosbare plaaslike porselein vervaardig word.
- Die Hsing-Tien-tempel in Min-Huan-Oosstraat 261 is 'n tipiese voorbeeld van Chinese tempelargitektuur. Twee miniatuurtuine simboliseer die natuur.
- Die Bao-An-tempel in Ha-Mi-straat is 'n tipiese Chinese tempel wat met sy besigheid en bontheid 'n indruk van die tradisionele Chinese godsdiensuitoefening gee.