Stilbaai
Stilbaai, ook bekend as die Baai van die slapende skoonheid, is 'n dorp langs die suidelike kus van Suid-Afrika, tussen Riversdale en Albertinia, 26 km van die N2 nasionale hoofweg, en ongeveer 4 ure se motorrit vanaf Kaapstad. Dit word met die N2 verbind met die R305-streeksroete. Dit is deel van die Hessequa-munisipaliteit in die Wes-Kaapprovinsie. Die strand by Lappiesbaai is as 'n blouvlagstrand gesertifiseer en bevat ook die sogenaamde Preekstoel, 'n kenmerkende rots wat uit die sand steek. Die Goukourivier verdeel die dorp in twee, naamlik Stilbaai-oos en Stilbaai-wes, met die hawe geleë op die westelike oewer. Die rivier kan vir ongeveer 15 km bevaar word.
Stilbaai | |
---|---|
Dorp | |
Die Goukourivier skei Stilbaai in 'n oostelike en westelike deel. | |
Byname: Baai van die slapende skoonheid | |
Stilbaai | |
Koördinate: 34°22′6″S 21°24′40″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distriksmunisipaliteit | Tuinroete |
Plaaslike Munisipaliteit | Hessequa |
Hoogte | 0 m (0 ft) |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Poskode | 6674 |
Webwerf | http://www.stilbaaitourism.co.za/ |
Groot-Jongensfontein is ongeveer 10 km suidwes.
Geskiedenis
Die eerste erwe is in 1894 uitgemeet. In 1930 is die twee dele met 'n pont verbind wat later in 1955 met 'n brug vervang is.
Wapen
Stilbaai se munisipale raad het in 1975 'n wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer : In silwer, 'n golwende dwarsbalk van blou vergesel in die skildhoof van 'n skulp en in die skildvoet van 'n anker, alles rooi, die anker gekabel van swart; die skild aan weerskante rond uitgesny van blou, elk belaai met 'n regop swemmende vis van goud. Die helmteken was 'n seilboot, en die wapenspreuk "Otium maritimum".[1]
Klimaat
Stilbaai het 'n matige klimaat en die gebied kry bykans eweveel reën in al vier seisoene, met hoogtepunte wat bereik word in herfs en lente.
Temperatuur wissel gemiddeld tussen 20° en 28° Celsius in die somer en tussen 12° en 20° Celsius in die winter. Die reënval is gemiddeld 639,2 mm per jaar.[2]
Natuurreservate
Stilbaai het 'n aantal natuurreservate. Aan die oostekant is Pauline Bohnen-natuurreservaat, 'n groot reservaat met verskeie staproetes. Die Skulpiesbaai-natuurreservaat is naby die hawe geleë en strek tot by die Noordkapperpunt-visvywers. Die Geelkrants-natuurreservaat is langs die "Preekstoel" geleë.
Oorlede
- Gerrit Viljoen (2009), voormalige kabinetsminister en lid van die destydse Nasionale Party.
Eksterne skakels
Verwysings
- National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry.
- Die Burger 1996. Geraadpleeg 7 Januarie 2012