André Stander

André Stander (194613 Februarie 1984) was 'n Suid-Afrikaanse polisieoffisier en 'n bankrower. Hy het as 'n kaptein by die polisiestasie in Kempton Park gewerk. In die 1970's begin hy om banke te beroof. Hy was in die media bekend as die leier van die Stander-bende en was berug vir die gewaagde wyse waarop hy misdade gepleeg het. Soms het hy banke oor sy middagete beroof, en is dikwels as 'n ondersoekbeampte na dieselfde toneel terug.[1]

André Stander
Gebore1946
Sterf13 Februarie 1984 (op 38)
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepPolisieoffisier
Bekend virVerskeie bankrowe
EggenootLeonie (Bekkie)
Ouer(s)Genl. Frans Stander

Vroeëre lewe en eerste rooftogte

André Stander word 'n polisieman nadat hy matriek druip, en vorder fluks deur die range. Sy pa was 'n gesiene man en 'n generaal by die Suid-Afrikaanse Departement van Korrektiewe Dienste. André het twee keer met Leonie (Bekkie) getrou. Sy het in Oktober 1992, etlike jare na sy dood, haar eie lewe geneem weens depressie.

Stander pleeg sy eerste bankroof in 1977. Hy vlieg op 'n afdag van Johannesburg na Durban, vermom homself, huur 'n motor en versoek die bankkassiere om sy sak vol geld pak. Daarna sê hy dankie en stap doodluiters uit voordat enigiemand iets agterkom. Dit het later 'n gewoonte geraak en 'n veiligheidswag het op 'n keer selfs die deur vir hom oopgehou terwyl hy uitloop.

Later praat hy sy mond verby terwyl hy dronk is. Hy spog oor sy 40 rooftogte by 'n vriend en voormalige spioen van die Buro vir Staatsveiligheid, Corrie van Deventer. Van Deventer agtervolg hom en in Januarie 1980 sien hulle hoe Stander iets uit ’n motor op die Johannesburgse lughawe haal. Die volgende oggend is daar weer ’n bankroof in Durban. Met sy terugkeer vind die polisie R4 000 en 'n vuurwapen in sy koffer. Stander is summier in hegtenis geneem.[2]

Die Stander-bende

Die Zonderwater-gevangenis in Cullinan, Gauteng.

Op 6 Mei 1980 word Stander tot 75 jaar gevangenisstraf gevonnis.[1] Sommige van die vonnisse moes gelyktydig uitgedien word en hy sou effektief 17 jaar sit.[3] In die tronk ontmoet Stander twee prisoniers, Allan Heyl en Patrick Lee McCall.[1] Op 11 Augustus 1983 word Stander en McCall, saam met vyf ander prisoniers, vanaf die Zonderwater-gevangenis vir 'n fisioterapie-afspraak geneem. Hier oorval Stander en McCall die fisioterapeut en ontsnap. Die ander gevangenes het geweier om aan die ontsnapping deel te neem en het agtergebly.[4] Stander en McCall keer op 31 Oktober 1983 terug na Zonderwater om Heyl, wat met 'n vaktoets besig was, vry te stel. Vanaf dié datum tot die einde van Januarie 1984 het die drie saam banke beroof. Die media het die driemanskap die Stander-bende gedoop.

McCall is op 30 Januarie 1984 dood na 'n klopjag op die bende se wegkruipplek in Houghton. Hy het nog gelê en slaap toe die polisie die huis omsingel en skokgranate deur die vensters gooi. Een van die granate het langs hom op die matras geval, wat hy toe opgeraap en teruggegooi het. Hy pleeg selfmoord deur homself te skiet voordat hy gearresteer kon word.[2]

Heyl vlug na Griekeland, daarna na Engeland, dan Spanje en uiteindelik terug na Engeland. Hier is hy gevang, verhoor en vir 9 jaar gevonnis vir roof en ander vuurwapen-verwante oortredings. Na sy vonnis in die Verenigde Koninkryk is hy aan Suid-Afrika uitgelewer, waar hy tot 'n verdere 33 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Hy is op 18 Mei 2005 op parool vrygelaat.

Terwyl die polisie op McCall se spoor in Suid-Afrika was, was Stander in Fort Lauderdale, Florida in die Verenigde State van Amerika. Hier het hy probeer om vasmeerplek vir sy bende se onlangs aangeskafte seiljag, die Lilly Rose te bekom. Die seiljag was bedoel vir hulle finale ontsnapping sodra hulle genoeg geld gehad het.

Sy dood in Amerika

Terwyl Stander in die Verenigde State was, is internasionale lasbriewe vir sy inhegtenisneming uitgereik. Stander het vir homself 'n vals identiteit geskep, dié van 'n Australiese skrywer genaamd "Peter Harris", en het daarbenewens sy paspoort en rybewys vervals. Hierna het hy 'n tweedehandse motorhandelaar besoek en 'n Ford Mustang by die verkoopsman, Anthony Tomasello, gekoop. Op 10 Februarie 1984 trek die polisie Stander af en neem hom in hegtenis vir die bestuur van 'n ongeregistreerde voertuig. Hy oorhandig sy ID-boekie aan die polisie, wat dit as 'n vervalsing identifiseer en konfiskeer, maar hulle laat hom vry omdat hulle sy storie oor sy identiteit glo.

Na sy vrylating is hy dieselfde aand na die polisie se skut en steel sy Mustang van die polisie af terug. Die volgende oggend besoek hy dieselfde tweedehandse motorhandelaar, en vra die verkoopsman om die motor 'n ander kleur te spuitverf. Die handelaar, Tomasello, het egter pas die storie oor die Stander-bende in 'n plaaslike koerant gelees. Hy stem in om Stander te help, neem sy inligting, en bel sy prokureur nadat Stander die perseel verlaat. Tomasello se prokureur adviseer hom om die polisie onmiddellik in kennis te stel.

Die polisie se taktiese eenheid omsingel Stander se woonstel op 13 Februarie 1984, maar hy was nie tuis nie. Hy het vir homself 'n fiets aangeskaf wat hy gebruik het terwyl sy voertuig oorgeverf word. Nadat hy per fiets na sy woning terugkeer, herken 'n polisiebeampte, Michael van Stetina, hom en probeer hom stop. Hy gee aanvanklik oor, maar spring dan op en neem die polisieman se haelgeweer van hom af en 'n skoot word in die proses afgevuur. Die polisieman retireer tot teenaan 'n heining, sy eie geweer nou op hom gerig. Hy pluk sy .38-pistool uit en skiet Stander vier keer. Stander val op die woonstelkompleks se oprit neer. Stetina ontbied 'n ambulans en probeer noodhulp toepas. Stander bloei egter dood voordat die ambulans daar opdaag.[2]

Sien ook

Verwysings

  1. The police officer turned bank robber op CNN
  2. Anti-held soos min... André Stander[dooie skakel], Rapport, 22 Februarie 2013
  3. Marsh, Rob. "The Stander Gang" (in Engels). Rob Marsh. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Julie 2019. Besoek op 11 Mei 2011.
  4. "The Stander Gang". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Julie 2019. Besoek op 19 Januarie 2014.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.