Stabat Mater (Haydn)

Stabat Mater Hob. XXa:1 is in komposisie deur Joseph Haydn. Hy het dit in 1767 gekomponeer vir sopraan-, alt-, tenoor- en bassolis, gemengde koor, 2 hobo's (wat albei Engelse horing verdubbel in die gedeeltes wat in E-majeur getoonset is), strykers en orrel-continuo. Die eerste uitvoering het glo op 25 Maart 1768 in Wene plaasgevind met soliste Anna Maria Scheffstoss en Carl Friberth, met Haydn wat van agter die klavesimbel gedirigeer het.[1] Die dirigent Jonathan Green stel voor dat 'n fagot bygevoeg moet word om die baslyn te verdubbel en die strykers moontlik verminder moet word tot net een speler vir elke strykparty.[2]

Haydn het die werk in 13 bewegings verdeel:

  1. "Stabat Mater dolorosa" – Largo, in G-mineur en 4/4-tyd
  2. "O quam tristis et afflicta" – Larghetto affettuoso, in E-mol-majeur en 3/8-tyd
  3. "Quis est homo qui non fleret" – Lento, in C-mineur en 4/4-tyd
  4. "Quis non posset contristari" – Moderato, in F-majeur en 4/4-tyd
  5. "Pro peccatis suae gentis" – Allegro ma non troppo, in B-mol-majeur en 4/4-tyd
  6. "Vidit suum dulcem natum" – Lento e mesto, in F-mineur en 4/4-tyd
  7. "Eja Mater, fons amoris" – Allegretto, in D-mineur en 3/8-tyd
  8. "Sancta Mater, istud agas" – Larghetto, in B-mol-majeur en 2/4-tyd
  9. "Fac me vere tecum flere" – Lagrimoso, in G-mineur en 4/4-tyd
  10. "Virgo virginum praeclara" – Andante, in E-mol-majeur en 3/4-tyd
  11. "Flammis orci ne succendar" – Presto, in C-mineur en 4/4-tyd
  12. "Fac me cruce custodiri" – Moderato, in C-majeur en 4/4-tyd
  13. "Quando corpus morietur" – Largo assai, G-mineur en 4/4-tyd
    —"Paradisi gloria" – G-majeur in 2/2-tyd

Pergolesi se toonsetting van die Stabat Mater was reeds in Haydn se tyd gewild, ondanks kritiek dat dit nie ernstig genoeg was nie. In sy eie toonsetting het Haydn gepoog om ernstiger te wees, terwyl hy Pergolesi se toonsetting as 'n model in sommige dele gebruik het. 'n Voorbeeld hiervan is sy weergawe van "Vidit suum" waarin hy Pergolesi naboots wat betref melodie, ritme en die dun tekstuur. Haerts dui aan dat Haydn, soos Traetta, 'n kenmerk van Pergolesi se tekstoonsetting gebruik het: die opbreek van die woorde "dum e-mi-sit spiritum" (die laaste woorde van "Vidit suum dulcem natum") deur middel van russe om die laaste asemgrepe van die sterwende Christus te simboliseer.[3]

Die Duitse komponis Hasse – wat in daardie tyd baie beroemd was en aan wie Haydn 'n afskrif van sy eie Stabat Mater gestuur het – was baie beïndruk met Haydn se poging. Dit was vir hom 'n bykomende bevestiging van die Napolitaanse styl (van Pergolesi) wat Hasse meer as enigiemand anders in Sentraal-Europa laat bloei het.[4] Volgens Haydn self was vier uitvoerings van sy Stabat Mater in Parys baie suksesvol.[5]

Green beskou Haydn se Stabat Mater as geskik vir 'n Goeie Vrydag-program.[2]

Opnames

  • 1979 – Arleen Auger (sopraan), Alfreda Hodgson (alt), Anthony Rolfe Johnson (tenoor), Gwynne Howell (bas) – Londense Kamerkoor, Academy of St. Martin in the Fields, László Heltay (Decca)
  • 1983 – Sheila Armstrong (sopraan), Ann Murray (kontraal), Martin Hill (tenoor), Philippe Huttenlocher (bas) – Ensemble Vocal de Lausanne, Lausaanse Kamerorkes, Michel Corboz (Erato)
  • 1989 – Patricia Rozario (sopraan), Catherine Robbin (kontrato), Anthony Rolfe Johnson (tenoor), Cornelius Hauptmann (bas) – The English Concert & Choir, Trevor Pinnock (Argiv Produktion)
  • 1995 – Barbara Bonney (sopraan), Elisabeth von Magnus (kontrato), Herbert Lippert (tenoor), Alastair Miles (bas) – Arnold Schoenberg-koor, Concentus Musicus Wien, Nikolaus Harnoncourt (Telarc)

Verwysings

  1. Green, J.D. 2002. A conductor's guide to choral-orchestral works, Classical period: Volume 1: Haydn and Mozart. Lanham: Scarecrow Press, bl. 3.
  2. Green, J.D. 2002. A conductor's guide to choral-orchestral works, Classical period: Volume 1: Haydn and Mozart. Lanham: Scarecrow Press, bl. 4.
  3. Heartz, D. 1995. Haydn, Mozart, and the Viennese School: 1740 — 1780. New York: WW Norton & Co, bl. 306.
  4. Heartz, D. 1995. Haydn, Mozart, and the Viennese School: 1740 — 1780. New York: WW Norton & Co, bl. 307.
  5. Webster, J. 2006. Haydn's sacred vocal music and the aesthetics of salvation. In Sutcliffe, W.D. (Ed.). Haydn Studies. Cambridge: Cambridge University Press, bl. 36.

Bronnelys

  • Green, J.D. 2002. A conductor's guide to choral-orchestral works, Classical period: Volume 1: Haydn and Mozart. Lanham: Scarecrow Press.
  • Heartz, D. 1995. Haydn, Mozart, and the Viennese School: 1740 — 1780. New York: WW Norton & Co.
  • Hugues, R. 1974. Haydn. Londen: JM Dent & Sons Ltd.
  • Schenbeck, L.1996.Joseph Haydn and the Classical Choral Tradition. Lawrence: Hinshaw Music.
  • Webster, J. 2006. Haydn's sacred vocal music and the aesthetics of salvation. In Sutcliffe, W.D. (Ed.). Haydn Studies. Cambridge: Cambridge University Press.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.