Sophia Gray

Sophia (Sophy) Gray (Easington, Yorkshire, Engeland, 5 Januarie 1814Bishopscourt, Kaapstad, Kaapkolonie, 27 April 1871) was ’n Suid-Afrikaanse argitek, kunstenaar, Anglikaanse sekretaresse en boekhouer van Britse herkoms wat verantwoordelik was vir die ontwerp van minstens 35 Anglikaanse kerke in Suid-Afrika, hoewel geen van haar planne behoue gebly het nie.[1]

Sophia Gray.

As eggenote van die Kaap se eerste Anglikaanse biskop, Robert Gray, het sy die bisdom, wat gestrek het tot in die Oranje-Vrystaat en Natal en selfs tot op Tristan da Cunha en St. Helena, help vestig, sy geldsake gereël en sy kerke, skole en ander geboue ontwerp of bestaande ontwerpe by plaaslike omstandighede aangepas. Sy was ook verantwoordelik vir die organisasie van sinodes, vergadering en amptelike geleenthede en het noukeurig rekord daarvan gehou. Sonder haar voortdurende raad en praktiese bystand sou biskop Gray nie sy monumentale taak kon bemeester nie.[2] Met haar en haar man se koms na die Kaap die Goeie Hoop was daar net 10 Anglikaanse kerke, maar onder hul bekwame leiding het dit binne 25 jaar tot 63 vermeerder.

Herkoms en lewe in Engeland

Sophia Gray was die vyfde kind van die landheer Robert Wharton Myddleton van Durham en Yorkshire en sy tweede vrou, Elizabeth Sophia Pococke. Sy en haar twee suster het grootgeword in ’n begaafde gesin wat landgoedere in North Riding en Durham besit het. Hulle was wel belese en reeds van ’n vroeë ouderdom bedrewe ruiters, eienskappe wat hul vriendskap met die jong eerw. Robert Gray aangewakker het.

Ná ’n ses maande lange verlowing is Sophia op 6 September 1836 getroud met eerw. Gray, rektor van Whitworth, Durham. Hul huwelik het haar ’n voorsmakie van hul lewe saam gegee toe Sophia en Robert te perd besoek afgelê het aan familie-eiendom in twee counties. Uit dié huwelik is een seun en vier dogters gebore, van wie een, Sophia Louis (21 September 18374 November 1869) getrou het met eerw. Edward Glover, die eerste hoof van die Zonnebloem-kollege in Kaapstad en later aartsdeken van George.

Eerw. Gray het in November 1845 predikant in die stadsgemeente Stockton-on-Tees geword en onder aandag van die biskop van Durham gekom vanweë sy werk in belang van die Society for the Propagation of the Gospel in Foreign Parts. As sekretaris van die plaaslike tak is hy trou bygestaan deur sy vrou, wat ondanks haar gebrek aan ’n streng godsdienstige agtergrond, haar eie belange ondergeskik gestel het aan haar man s’n sodat sy hom sy gemeentewerk en pligte kon help.

In 1846 het Sophia by haar man aangedring om die beroep na die bisdom aan die Kaap die Goeie Hoop te aanvaar nadat hy op 'n kortlys van drie geplaas is om nuwe koloniale bisdomme tot stand te bring. So het die gesin op 20 Desember 1847 aan boord van die Persia na die Kaap vertrek, waar hulle op 24 Februarie 1848 aangekom het. Omdat hulle gewoond was aan die hoë lewenspeil wat biskoppe destyds geniet het, onder meer ’n episkopale paleis, het die Grays na die Kaap verhuis met ’n klein geselskap bediendes, meubels en selfs ’n episkopale koets. Sy aanstelling aan die Kaap was grootliks te danke aan die vrygewigheid van die filantropiese miljoenêres Angela Burdett-Coutts, wat geld geskenk het vir die koloniale bisdom.

Aan die Kaap

Die Anglikaanse kerk St. Peter op Cradock, opgerig in 1857.
Die Anglikaanse kerk All Saints in Uniondale se hoofstraat.
Die Anglikaanse kerk St Jude, Oudtshoorn.

Kort ná hul aankoms het Sophia op Protea (Boschheuwel), Claremont, die biskoplike woning in ’n huurhuis ingerig en haar aan die geestelike, finansiële en administratiewe pligte van die Kaapstadse bisdom gewy. Sy het ook onderrig in die Sondagskool gegee en ’n aandskool vir bruin mense op die landgoed gereël. Uit die skooltjie wat sy op die landgoed begin het vir die opvoeding van haar eie en vriende en bure se kinders, het die spog- privaat seunskool Biskoppe mettertyd ontstaan.

Reeds in Engeland het sy baie belanggestel in die Gotiese argitektuur. Die Grays het planne en skets uit Engeland met hulle saamgebring van kerkboukuns wat geskik sou wees dat Sophia Gray dit kon aanpas by plaaslike omstandighede en die beskeie behoeftes van nuwe gemeentes. Hoewel sy geen formele opleiding in die argitektuur gehad het nie,[3] kon sy in Suid-Afrika haar belangstelling in kerkargitektuur prakties toepas in die ontwerp van kapelle, kerke en pastorieë. Daar was waarskynlik meer as 50 sulke geboue, waarvan baie vandag nog bestaan en wat van 1848 af opgerig is as deel van die Anglikaanse Kerk se omvangryke gemeente-uitbreidingsprogram onder leiding van biskop Gray. Van haar mees tipiese, tydlose Gotiese kerke is dié op Caledon, Knysna, die St. Mark-katedraal in George, Pietermaritzburg se Anglikaanse katedraal en die St. Saviour-kerk in Claremont, Kaapstad, wat sedertdien ingrypend verander is. Verreweg die meeste van haar kerke was in die Gotiese herlewingstyl, gekopieer en aangepas van ontwerpe van Engelse kerke. Dié kerke is dikwels opgerig met gedresseerde klip en was soortgelyk aan die kerke van die middel 19de-eeuse Engeland. Hoewel sy vir die kerke se ontwerp verantwoordelik was, het sy blykbaar die tegniese vaardighede kortgekom om die planne self te teken en het sy die hulp van G. Evans, 'n siviele ingenieur, hierin gehad, ten minste in sommige gevalle.[4]

Wanneer sy af en toe wel kon ontspan, het sy potlood- en waterverfsketse gemaak van argitektoniese belang. Meer as 150 daarvan kan nog nagespoor word. Sy het ’n aangebore tekentalent gehad en landskappe duidelik en presies geskets. Lewenslank het sy sketse gemaak waar sy ook al gereis het en so ’n aanskoulike rekord van haar reise gehou.

In September 1849 het sy haar eggenoot so ver as Plettenbergbaai op huisbesoek vergesel en, afgesien van sy toer van nege maande in 1850 en sy reis na Tristan da Cunha, daarna elke huisbesoek in die uitgebreide bisdom meegemaak. Sy was ’n bedrewe ruiter en het haar man selfs tot in die Oranje-Vrystaat en Natal vergesel. Sy het die bouers bestraf waar nodig, tegniese probleme uitgestryk en, indien nodig, die raad van die landmeter-generaal, Charles Bell, ingewin. Hoewel sy tydens hierdie reise baie ontberings moes verduur, het sy 'n intieme kennis van sowel die land as die administrasie van die Anglikaanse Kerk opgedoen, en haar eggenoot voortdurend van raad bedien. In haar lywige brieweboek kom 'n mens talle van die destyds bekende en kleurryke persoonlikhede teë, byvoorbeeld John Montagu, David Livingstone, lady Grey en die Xhosa-profetes Nonquase.

Op sy toer in 1850 na die buitedistrikte het biskop Gray van sy vrou se kerkplanne met hom saamgeneem vir die kerke wat hy op die afgeleë dorpe in die vooruitsig gestel het en talle briewe aan haar geskryf waarin hy haar ingelig het oor die probleme met plaaslike boukomitees.

Toe Protea in 1851 aangekoop en tot Bishop's Court verdoop is, het sy die landgoed van 120 ha as 'n lonende onderneming bestuur. Tydens haar man se biskoplike besoeke aan Brittanje het sy toere beplan en gehelp om geld vir die bisdom in te samel; aan die Kaap het sy die Sinode georganiseer en die tertafellegging van verslae en statistiek asook die notules van vergaderings gehanteer. Hierdie bedrywighede het haar vanselfsprekend verhinder om aan die sosiale lewe deel te neem, alhoewel sy alom bekend was as 'n knap gasvrou. Sy het ook noukeurig boekgehou van al die sake wat met die bisdom verband gehou het en self tyd ingeruim om haar man aan die slaap te lees.

Haar doelgerigte ondersteuning van haar eggenoot se beleidsrigtings (wat sy sterk beïnvloed het) het hom in staat gestel om talle moeilikhede te oorbrug, byvoorbeeld die geval van die geskil oor biskop J.W. Colenso, en sy het Gray oor die algemeen gehelp om die Church of the Province of South Africa te konsolideer.

Waardering

Sophia Gray was lank, met 'n pragtige gelaatskleur en 'n welige bos rooibruin hare. Sy was ook buitengewoon alsydig en kon praktiese probleme doeltreffend hanteer. Met haar dood is haar onontbeerlike bydrae wyd erken. Sy word herdenk deur die kloktoring en 'n muurtablet in die St. Saviour-kerk, Claremont, wat sy ontwerp het en in wie se begraafplaas sy en haar man ter ruste gelê is, maar ook die episkopale paleis by Bishopscourt wat deur haar toedoen tot stand gekom het.

Individuele kerke

St. George-kerk, Knysna

Die Anglikaanse kerk St. George, Knysna.

John Rex het die hoeksteen van dié kerk in 1849 gelê. Dis gebou op grond wat sy vader, George Rex, die stigter van Knysna, geskenk het. Bouwerk het in 1850 begin en was gegrond op ’n plan wat Sophia Gray aangepas het by die plaaslike gemeente se behoeftes. Dis so ontwerp dat die basiese kerk later vergroot kon word namate die lidmate toegeneem het. Dit het toe nie gebeur nie omdat ’n nuwe kerk in 1919 gebou is, maar die oue behoue gebly het. Dis ingewy op 30 Oktober 1855.[5]

All Saints, Somerset-Oos

Die All Saints-kerk, Somerset-Oos (1854).

Tydens sy reise deur die Oostelike Provinsie in 1848 het biskop Gray besoek aan Somerset gebring. Die tekort aan predikante het hom ontstel, want op sy reis van sowat 1 500 km deur die destydse Kaapkolonie het hy net een van sy kerk se predikante teëgekom. Hy het toe gereël dat 20 Anglikaanse predikante uit Engeland emigreer en omdat hy geglo het dat daar genoegsame Engelse setlaars in die kolonie was, het hy ook onderneem om die gebied van 'n geskikte rektor te voorsien. Sowat sewe jaar later, in 1855, is die klein Anglikaanse kerk (volgens Sophia Gray se plan) en die Anglikaanse kerkhof (in Pauletstraat) ingewy. Die kanselruimte en die konsistorie is in 1883 by die oorspronklike gebou aangebou. Die All Saints-kerk het pragtige gedenkventers. Belanghebbendes probeer om dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar te kry.

St. Saviour, Claremont

Die behoefte aan 'n gemeentelike kerk vir Claremont, waarbinne die biskopwoning Protea (die ou Boschheuwel wat later Bishopscourt geword het) geval het, het geruim tyd reeds bestaan toe Sophie Gray die plan vir die kerk opgetrek het. 'n Geskikte perseel is uitgesoek en die grond geskenk deur ene Rice Jones. Die fondamente is gegrawe en die bouwerk kon in September 1850 begin. Die oorspronklike St. Saviour-kerk was net groot genoeg om 40 tot 50 kerkgangers te huisves. Gray het die Engelse argitek Willliam Butterfield (1814–1900) geken en een van sy standaardplanne gebruik. Die boukoste het sowat £625 beloop. Die stene het gekom uit 'n groef sowat 15 km vanaf die kerk, wat indertyd beskryf is as "'n baie fraai Gotiese Episkopale kerkie". Sophie Gray het amper elke dag van Protea af na Claremont gestap of gery om die bouwerk te inspekteer en teen 13 November 1850 het die bouwerk genoegsaam gevorder sodat die hoeksteen gelê kon word. St. Saviour is ingewy tydens Paasfees 1854.

Ná die koms van die spoorlyn het die woonbuurte van Claremont aansienlik ontwikkel en is besluit om die kerk te vergroot as 'n huldeblyk aan Sophy en Robert Gray wat onderskeidelik in 1871 en 1872 enkele maande ná mekaar oorlede is. Butterfield het weer die plan voorsien en het die twee plaaslike argitekte, Adolphus Ackermann en Thwaites, van breedvoerige raad bedien. Die aanbouings het die kloktoring ingesluit en biskop het die inwyding op 22 Oktober 1880 waargeneem. Aan die einde van die 19de eeu het die kerk weer ontoereikend geword vir die immergroeiende gemeente. Die biskoplike argitek sir Herbert Baker het die plan vir die tweede vergroting van St. Saviour voorsien, wat die sloping van Gray se oorspronklike gebou behels het sodat die kerk herbou kon word volgens sy ontwerp. Sy plan is uitgevoer en amper niks van die oorspronklike kerkie het oorgebly nie. Die nuwe St. Saviour-kerk is ingewy op 17 April 1904.

St. Mark-katedraal, George

Die St. Mark-katedraal in George is in die vroeë 1900's aansienlik vergroot en verander.

Sophy Gray het die hoeksteen van die kerk wat sy self beplan het op 23 Oktober 1849 in gietende reën gelê. Haar model was die vroeë Engelse kerk in Littlemore, Oxfordshire. Skotse messelaars, wat biskop Gray spesiaal vir die oprigting van nuwe kerke na die Kaap laat kom het, was verantwoordelik vir die bouwerk, onder andere Alexander Bern, Alexander en Colin Lawrence en die bedrewe skrynwerker William Page. Aanvanklik het die St. Mark-kerk net uit 'n basies ontwerp bestaan. Met die inwyding in 1850 het biskop Gray opgemerk: "Dis verblydend om te sien hoe ons ou Engelse kerke in hierdie land herhaal word." Eers in 1911 het St. Mark die status van 'n katedraal verkry en tydens die vroeë 20ste eeu is talle verbouings en veranderings deur F.K. Kendall, 'n vennoot in die argiteksfirma van sir Herbert Baker, die biskoplike argitekte, uitgevoer.

St. Augustine-kerk, Fraserburg

Die Afrikaanse Protestantse kerk, Fraserburg, in 1870 opgerig as die Anglikaanse kerk St. Augustine volgens Gray se plan.

Die Engelssprekende bevolking van die Karoodorp Fraserburg was altyd betreklik klein, maar reeds in die eerste twee dekades van die dorp se bestaan het hulle hul eie Anglikaanse gemeente tot stand gebring. Die kerkie is in 1870 opgerig deur Adam Jacobus Jacobs en is dus een van Sophy Gray se laaste ontwerpe en ook een van dié wat nie in later jare vergroot is nie. 'n Jaar op twee later het biskop Gray self die kerkie ingewy. Op 27 September 1963 het Die Burger as volg berig oor die moontlik sloping van die kerkie. "Hierdie kerkie van St. Augustinus staan langs een van Fraserburg se strate wat verbreed moet word. Presies die helfte van die gebou staan in die pad. Die gemeente bestaan al langer as 'n eeu sedeer die dae toe die Korannas nog in dié geweste geswerf het. Die gemeente het ook sendingwerk onder hulle gedoen. Op Fraserburg was vroeë so 'n groot Engelse gemeenskap dat die kerk in 1870 gebou is. ou is net vier lidmate oor. Die gemeente is van Beaufort-Wes af bedien. Die dominee het te perd gery en langs die pad huisbesoek gedoen. As die straat verbreed word, sal die geboutjie gesloop moet word en die gemeente het nie geld om 'n nuwe kerk te bou nie."

Dié moontlike sloping is afgeweer, maar nadat die gemeente ophou bestaan het, het die Afrikaanse Protestantse Kerk die gebou oorgeneem en in 'n stadium sowat 80 lidmate gehad, wat teen 2014 teruggesak het tot net sowat 30, hoewel hulle nog gereeld in die kerkie bymekaarkom vir eredienste.

Kerke deur haar ontwerp

KerkPlekJaarLigging
St Paul-kerkEersterivier, Kaapstad1848
St James-kerkGraaff-Reinet184832.25090°S 24.53671°O / -32.25090; 24.53671
St Paul-kerkRondebosch, Kaapstad184933.962111°S 18.469283°O / -33.962111; 18.469283
St George-kerkKnysna184934.03536°S 23.05027°O / -34.03536; 23.05027
SkoolkapelBeaufort-Wes1849
Christ-kerkColesberg1849
St Mark-kerkGeorge184933.95771°S 22.45844°O / -33.95771; 22.45844
Holy Trinity-kerkCaledon1850
St Saviour-kerkClaremont Kaapstad185033.983850°S 18.464919°O / -33.983850; 18.464919
Holy Trinity-kerkBelvidere, Knysna1851
St Peter-kerkPietermaritzburg1851
Christ-kerkSwellendam1852
Christ-kerkBeaufort-Wes1852
St James the Great-kerkWorcester185233.64579°S 19.44524°O / -33.64579; 19.44524
St John the Baptist-kerkPlaas Louvain, Schoonberg naby Herold185333.811265°S 22.645788°O / -33.811265; 22.645788
All Saints-kerkSomerset-Oos1854
St Paul-kerkNoordeinde, Port Elizabeth1854
St Matthew-kerkRiversdal1854
SkoolkapelMosselbaai1855
Nuweland-kapelNuweland, Kaapstad1856
Armstrong-gedenkkerkSt. Andrew-kollege, Grahamstad1856
St Peter-kerkCradock1857
Church of St Mary the VirginWoodstock, Kaapstad1859
All Saints-kerkBredasdorp1859
St Andrew-kapelCeres1860
St Jude-kerkOudtshoorn1860
Constantia-kapelKaapstad1860
All Saints-kapelDurbanville1860
St Mary-kerkRobertson1861
St Thomas-sendingstasieRondebosch, Kaapstad1864
St John-kerkClanwilliam1864
St Mark-kapelDistrik Ses, Kaapstad1865
St Patrick-kerkUmzinto KwaZulu-Natal1868
St Augustine-kapelFraserburg186931.916598°S 21.513118°O / -31.916598; 21.513118
St Luke-sendingkerkSwellendam1869
St John-kerkVictoria-Wes1869
All Saints-kerkUniondale1869
St Mildred-kapelMontagu1870
St Peter-kerkPlettenbergbaai1879
St Matthew-kerkWillowmore1880

Galery

Bronne

  • (af) Kotzé, D.A. 1951. Die Gemeente Fraserburg. 'n Eeufees-gedenkboek (1851-1951). Fraserburg: NG Kerkraad.
  • (af) Langham-Carter, R.R. in Beyers, C.J. (hoofred.) 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek deel IV. Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) (Edms.) Bpk.
  • (en) Picton-Seymour, Désirée. 1989. Historical Buildings in South Africa. Cape Town: Struikhof Publishers.
  • (en) Gutsche, Thelma in Potgieter, D.J. (hoofred.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa volume 5. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  • (af) Martin, D. in Gaum, dr. Fits (hoofred.) 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM en Bybelkor.

Verwysings

  1. (en) Haar lewensverhaal op die argitektuurwebtuiste Artefacts.co.za. URL besoek op 13 Oktober 2015.
  2. (en) Gutsche, Thelma in Potgieter, D.J. (hoofred.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa volume 5. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  3. (af) Martin, D. in Gaum, dr. Fits (hoofred.) 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM en Bybelkor.
  4. (en) Haar lewensverhaal op die argitektuurwebtuiste Artefacts.co.za. URL besoek op 13 Oktober 2015.
  5. (en) Besonderhede en foto's op die argitektuurwebtuiste Artefacts.co.za. URL besoek op 13 Oktober 2015.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.