Sondvloed

Die Sondvloed, soos vertel in Genesis 6-9, is die Hebreeuse weergawe van die universele vloedmite.[1] Dit vertel van God se besluit om 'n oorstroming oor die aarde te laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, en dit opnuut deur Noag te herskep.[2]

Die vloed van Noag en metgeselle (c. 1911), deur Léon Comerre. Musée d'Arts de Nantes.

Genesis is waarskynlik omstreeks die 5de eeu v.C. geskryf,[3] hoewel sommige geleerdes glo hoofstuk 1-11, insluitende die verhaal oor die vloed, is dalk eers in die 3de eeu v.C. geskryf.[4][5] Dit steun op twee bronne en hoewel baie feite mekaar weerspreek,[6] vorm die verhaal 'n eenheid.[7]

Die wêreldwye vloed soos in die Bybel vertel, stem nie ooreen met fisieke bevindings in geologie, paleontologie en die wêreldwye verspreiding van spesies nie.[8][9][10]

Etimologie

Die woord "sondvloed" kom uit die Middelnederlandse sindtvloet, sundtfloet (1562), sindvloed, sundvloed, sondvloed (1599) = "aanhoudende vloed". Dit is afgelei van die Middelhoogduitse sinvluot of sintvluot (later Sündflut), "altyd, voortdurend, aanhoudend".[11] Omstreeks die 15de eeu is die woord deur volksetimologie verbind met die begrip "sonde", hoewel dié begrip nie in die verhaal in Genesis gebruik word nie.

Opsomming

Die Sondvloed, deur Gustave Doré (1865).

Die verhaal van die Sondvloed strek oor hoofstukke 6-9 van die eerste Bybelboek, Genesis. Tien geslagte ná die skepping van Adam het God gesien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, en Hy het besluit om te vernietig wat hy geskep het.

Maar God het een regverdige man, Noag, gevind en hom van die plan vertel: "Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg" (Genesis 6:13). Toe gee God hom opdrag om 'n ark te bou. Noag het dit in sy 600ste jaar binnegegaan, en op die 17de dag van die tweede maand van daardie jaar "het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak" (Genesis 7:11), en dit het 40 dae en 40 nagte lank gereën, sodat die water "al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het. Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek" (Genesis 7:19-20 ). Almal op aarde het omgekom, behalwe Noag en dié by hom in die ark.

Ná 150 dae "het God gedink aan Noag ... en die waters het teruggetrek" (Genesis 8:1) totdat die ark op die Araratberge tot rus gekom het, en op die 27ste dag van die tweede maand van Noag se 601ste jaar was die aarde droog. Noag het toe 'n altaar gebou en brandoffers op die altaar gebring, en God het 'n verbond met hom gesluit dat die mens enigiets wat lewe mag eet, maar nie sy bloed nie (Genesis 9:3-4), en dat God nooit weer alle lewe met vloedwaters sou uitwis nie (Genesis 9:11).[12]

Samestelling

Die bou van die ark (waterverf, c. 1896-1902 deur James Tissot).

Die konsensus onder moderne geleerdes is dat Genesis omstreeks die 5de eeu v.C. saamgestel is,[3] maar omdat die eerste 11 hoofstukke min ooreenkoms met die res van die boek toon, glo sommige geleerdes dié deel is dalk eers in die 3de eeu v.C. geskryf.[4][5]

Die geskiedenis steun op twee bronne, die "priesterlike" en "niepriesterlike" bron,[13] en hulle verwewing is duidelik in die doeblette (herhalings) wat in die finale verhaal aangetref word.[14] Baie hiervan weerspreek mekaar, soos hoe lank die vloed geduur het (40 dae volgens Genesis 7:17, 150 volgens Genesis 7:24), hoeveel diere aan boord van die ark geneem is (twee van elk in Genesis 6:19, een paar onreine diere en sewe paar reine diere in Genesis 7:2), en of Noag 'n kraai losgelaat het wat heen en weer gevlieg het totdat die water opgedroog het of 'n duif wat die derde keer nie teruggekeer het nie, of dalk albei.[6] Maar ondanks dié weersprekings vorm die verhaal 'n eenheid. Sommige geleerdes sien daarin 'n "chiasme", of oorkruising ('n letterkundige struktuur waarin die eerste item met die laaste een ooreenstem, die tweede met die tweede laaste een, ensovoorts), en baie pogings is aangewend om dié eenheid te verduidelik, insluitende om te probeer bepaal watter een van die twee bronne die oudste is en dus die ander een beïnvloed het.[7]

Vergelykende mitologieë

Geleerdes glo die vloedmite het in Mesopotamië ontstaan in die tydperk van die eerste Babiloniese dinastie (omstreeks 1880-1595 v.C.) en dat dit Sirië-Palestina in die laaste helfte van die 2de millennium v.C. bereik het.[15] Bestaande geskrifte toon drie aparte weergawes, die Sumeriese Heldedig van Ziusudra (die oudste weergawe, wat in fragmente op 'n enkele tablet oorgebly het uit omstreeks 1600 v.C., hoewel die storie self ouer is), en as episodes in twee Akkadiese eposse, die Atrahasis en die Heldedig van Gilgamesj.[16] Die naam van die held, volgens die spesifieke weergawes, was Ziusudra, Atrahasis of Utnapishtim, wat almal variasies van mekaar is.

Talle gedetailleerde parallelle maak dit duidelik dat die Genesis-vloed geskoei is op die Mesopotamiese eposse, en veral die een van Gilgamesj, wat vermoedelik van omstreeks 1300-1000 v.C. dateer.[17]

Verwysings

  1. Leeming 2010, p. 469.
  2. Bandstra 2008, p. 61.
  3. Oliver 2017, p. 12.
  4. Sailhamer 2010, p. 301.
  5. Gmirkin 2006, p. 3.
  6. Cline 2007, p. 20.
  7. Arnold 2009, p. 97.
  8. Montgomery 2012.
  9. Cohn 1999.
  10. zonvloed in etymologiebank ref. 1997 Van Dale Etymologisch woordenboek deur P.A.F. van Veen en N. van der Sijs
  11. Cohn 1999, p. 11-12.
  12. Worthington 2019, p. 147.
  13. Kaltner & McKenzie 2014, p. 74.
  14. Chen 2013, p. 1,11.
  15. Finkel 2014, p. 88.
  16. Collins 2017, p. 10-11.

Bibliografie

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.