Smarag Boeddha

Die Smarag Boeddha (พระแก้วมรกต, Phra Kaeo Morakot, of พระพุทธมหามณีรัตนปฏิมากร, Phra Phuttha Maha Mani Rattana Patimakon) is 'n standbeeld van 'n mediterende Gautama Boeddha in die lotusposisie wat gemaak is van 'n groen halfedelsteen (jaspis eerder as smarag of jade; die woord "smarag" verwys na die kleur). Dit is in goud geklee[1] en is sowat 66 cm hoog.[2] Dit word as die heilige beskermingsbeeld van Thailand beskou[3][4] en word gehou in die Tempel van die Smarag Boeddha (Wat Phra Kaew) op die terrein van die Groot Paleis van Bangkok.[1]

Die Smarag Boeddha in sy winteruitrusting.

Geskiedenis

Historiese bronne dui aan die standbeeld het in 1434 in die Koninkryk Lan Na van Noord-Thailand sy verskyning gemaak. Volgens een weergawe van sy ontdekkingsverhaal het weerlig die chedi in Wat Pa Yia (die Bamboeswoudklooster, later hernoem tot Wat Phra Kaew) in Chiang Rai raak geslaan en die Boeddha binne-in ontbloot, bedek met pleisterkalk. Die beeld is in die kloostervader se huis geplaas en hy het agtergekom die pleisterkalk op die neus skilfer af en onthul 'n groen kleur daaronder. Hy het die pleisterkalk verwyder en ontdek die Boeddha is van 'n groen halfedelsteen gemaak. Dit het bekend geword as die Phra Kaew Morakot, of Smarag Boeddha in Afrikaans. ("Smarag" verwys na sy groen kleur in Thai, nie die naam van die steen nie.)[5][6] Sommige kunshistorici beskryf die beeld as van die Chiang Saen-styl van die 15de eeu, wat sou beteken dit is van Lan Na-oorsprong.

Volgens die legende wou koning Sam Fang Kaen van Lan Na dit hê vir sy hoofstad, Chiang Mai, maar die olifant waarop dit vervoer is, het op drie geleenthede daarop aangedring om eerder na Lampang te loop. Dit is beskou as 'n goddelike teken en die Smarag Boeddha is vir die volgende 32 jaar gehou in 'n spesiaal geboude tempel (nou bekend as Wat Phra Kaeo Don Tao). In 1468 het koning Tilokaraj dit na Chiang Mai laat skuif, waar dit in 'n nis in 'n groot stoepa met die naam Chedi Luang gehou is.[7]

In 1552 is dit na Luang Prabang verskuif, op daardie stadium die hoofstad van die Laosiaanse koninkryk Lan Xang. 'n Paar jaar later is die kroonprins van Lan Xang, Setthathirath, genooi om die koning van Lan Na te word, want sy moeder was die dogter van die koning van Chiang Mai wat sonder 'n erfgenaam gesterf het.[7] Hy het later ook koning van Lan Xang geword toe sy vader, koning Photisarath, oorlede is. Hy het teruggekeer huis toe en die Boeddhabeeld saam met hom geneem.

In 1564 het koning Setthathirath dit na Vientiane verskuif nadat hy dit sy nuwe hoofstad gemaak het, en dit is gehuisves in die Haw Phra Kaew.[8] Dit sou 214 jaar daar bly.[7]

In 1779 het die Siamese generaal Chao Phraya Chakri Laos binnegeval, Vientiane verower en die Boeddhabeeld na Siam geneem. Dit is geplaas in 'n heiligdom naby Wat Arun in Thonburi, die nuwe hoofstad van Siam. Chao Phra Chakri het toe self die troon oorgeneem en die Chakri-dinastie van die Koninkryk Rattanakosin gestig, waar hy later koning Rama I geword het. Hy het sy hoofstad oor die Chao Phrayarivier geskuif na sy huidige ligging in Bangkok en die Groot Paleis laat bou, met die Wat Phra Kaew binne sy mure. Op 22 Maart 1784 is die Smarag Boeddha geskuif na die Ubosot van die Wat Phra Kaew-tempelkompleks.[4]

Tempels van die Smarag Boeddha

'n Foto van die Smarag Boeddha sonder sy versierings (1932).

Beskrywing

Die Boeddha is van 'n halfedelsteen gemaak[3] wat soms as jaspis en soms as jade beskryf word. Dit is nie van smarag nie;[1][9] die "smarag" in die naam verwys bloot na die beeld se kleur en nie sy samestelling nie.[10] Die beeld is nog nie ontleed om vas te stel watter soort steen dit is nie.

Die figuur is 48 cm breed by die skoot en 66 cm hoog.[2] Die Boeddha is in 'n sittende posisie, met sy regterbeen wat op die linkerbeen rus. Dit is 'n styl wat daarop dui dat dit in die laat Chiang Saen- of die Chiang Mai-skool gemaak is, nie veel vroeër as die 15de eeu nie. Die meditasiehouding van die beeld was egter nie in Thailand gewild nie, maar wel in Suid-Indië en Sri Lanka, wat die teorie ondersteun dat dit in een van dié lande ontstaan het.[7]

Seisoenale versierings

Die Smarag Boeddha het drie stelle goue seisoenale versierings. Twee is deur Rama I laat maak, een vir die somer en een vir die reënseisoen, en die derde een deur Rama III vir die winter, of koel seisoen.[7] In 1996 is die goue herdenking van Rama IX se bewind gevier deur 'n replika van elk van die stelle te laat maak. Die oorspronklikes, wat ouer as 200 jaar is, word nou uitgestal in die Museum van die Smarag Boeddha-tempel in die Middehof van die Groot Paleis van Bangkok.[11]

Die versierings word deur die koning van Thailand omgeruil, of andersins deur 'n senior lid van die koninghuis namens hom,[12] in 'n seremonie aan die begin van elke seisoen – omstreeks Maart, Augustus en November.[13]

Die Smarag Boeddha se drie stelle versierings is:[3][13]

  • Somer, van Maart tot Augustus – 'n gepunte kroon (makuṭa); 'n borshangertjie; 'n serp; 'n halsband, 'n paar armbande en ander koninklike items. Alles is gemaak van geëmaljeerde goud met inlegsels van edel- en halfedelstene.
  • Reënseisoen, van Augustus tot November – 'n gepunte hoofbedekking van geëmaljeerde goud met saffiere versier; 'n goudgebosseleerde monnikekleed wat oor die een skouer gedrapeer is (kasaya).
  • Winter, van November tot Maart – 'n goue hoofbedekking met diamante versier; 'n sjaal van goue maasstof en juwele wat bo-oor die klere vir die reënseisoen gedrapeer word.
Die Smarag Boeddha in die drie seisoenale uitrustings, van links: somer, reënseisoen, winter.

Seremonies

Die Smarag Boeddha is vroeg in die Bangkok-tydperk soms uitgeneem en deur die strate geparadeer om die stad en platteland van verskeie siektes te verlos, soos die pes en cholera. Rama IV het die gebruik stopgesit omdat gevrees is dat die beeld beskadig kon word en ook vanweë die koning se oortuiging dat siektes deur kieme veroorsaak word en nie deur bose geeste of omdat die Boeddha ontevrede is nie.[4]

Die Smarag Boeddha dui ook die verandering van die seisoene aan in Thailand, met seremonies wat die koning lei. In 'n ritueel wat drie maal per jaar gehou word, word die standbeeld se versierings omgeruil vir die nuwe seisoen. Die astrologiese datums vir die seremonies aan die begin van die seisoene is met die eerste afnemende maan van die maankalender in maand 4, 8 en 12 (omstreeks Maart, Julie/Augustus en November).[4][10]

Seremonies word ook op ander feesdae by die Tempel van die Smarag Boeddha gehou, soos op Chakri-dag (6 April), om die stigting van die Chakri-dinastie in 1782 te vier.[4]

Verwysings

  1. Kleiner, Fred S. (1 Januarie 2015). Fred S Kleiner (red.). Gardner's Art through the Ages: Backpack Edition, Book F: Non-Western Art Since 1300 (in Engels) (15de uitg.). Cengage Learning. p. 1045. ISBN 978-1-305-54494-9.
  2. "Chapel of the Emerald Buddha". Asia for Visitors - Your complete online travel resource for Southeast Asia (in Engels (VSA)). Besoek op 5 Maart 2020.
  3. Pī, Thailand Khana Kammakān Čhat Ngān Somphōt Krung Rattanakōsin 200 (1982). Pasit Charoenwong (red.). The Sights of Rattanakosin (in Engels). Committee for the Rattanakosin Bicentennial Celebration. pp. 85–86. ISBN 978-9747919615.
  4. Roeder, Eric (1999). "The Origin and Significance of the Emerald Buddha" (PDF). Explorations in Southeast Asian Studies. Honolulu: Center for Southeast Asian Studies, University of Hawai'i at Manoa. 3: 1, 18. Besoek op 22 Februarie 2014.
  5. Diskul (M.C.), Subhadradis (1982). History of the Temple of the Emerald Buddha (in Engels). Bangkok: Bureau of the Royal Household.
  6. Williams, China; Aaron Anderson; Brett Atkinson; Becca Blond; Tim Bewer (15 September 2010). Thailand (in Engels). Lonely Planet Publications. pp. 350–352. ISBN 978-1-74220-385-0. Besoek op 27 Maart 2010.
  7. M.C. Subhaddradis Diskul. "Wat Phra Kaew". www.cs.ait.ac.th. Besoek op 5 Maart 2020.
  8. Narula, Karen Schur (1994). Voyage of the Emerald Buddha (in Engels). Kuala Lumpur: Oxford University Press. p. 88. ISBN 978-967-65-3057-8.
  9. "Emerald Buddha (sculpture)"..
  10. "Wat Phra Kaew - Bangkok, Thailand". www.sacred-destinations.com. Sacred Destinations. Besoek op 5 Maart 2020.
  11. Ferry, Elizabeth; Vallard, Annabel; Walsh, Andrew (6 Desember 2019). Anthropology of Precious Minerals (in Engels). University of Toronto Press. p. 124. ISBN 978-1-4875-0317-8.
  12. Barrow, Richard (19 November 2013). "Cool Season Robes for the Emerald Buddha". Thaibuddhist (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Julie 2015. Besoek op 5 Maart 2020.
  13. Nam, Suzanne (31 Januarie 2012). Moon Thailand (in Engels) (5de uitg.). Avalon Publishing. p. 31. ISBN 978-1-59880-969-5.

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.