Sita

Sita was die skuilnaam van Sara Susanna Bosman (10 Junie 1898, Potchefstroom – 10 Mei 1987, Bronkhorstspruit), Afrikaanse skrywer van kinderverhale, jeugverhale, dramas en romans. Sy is ook verantwoordelik vir die opstel van die Bosman- en De Kock-familieregisters.[1]

Sita

Lewe en werk

Herkoms en vroeë lewe

Sara Susanna ("Sita") Bosman was die oudste van ses susters en is op 10 Junie 1898 op die ou Voortrekker-erfplaas Hoogekraal naby Potchefstroom gebore. Hier vloei die waters van die Mooirivier en die Vaalrivier ineen. Haar pa was die onderwyser en boer Lourens Dirk Cornelis (Louw) Bosman en haar ma was Elizabeth Johanna Maria Pienaar. Haar susters is Abelina Jacoba, Lourensa Elizabeth, Gertruida Aletta, Elizabeth Johanna Maria en Anna Debora.[2] Sita is gebore twee jaar nadat die runderpes die Oranje-Vrystaatse en Transvaalse boere verarm het en hulle groot getalle vee aan die siekte moes afstaan. Verarm deur hierdie swaar terugslae, moes baie boere van meet af ’n bestaan probeer maak.

Anglo Boereoorlog

Hulle was skaars weer op die been toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek. Haar vader sluit hom by die Boeremagte aan onder generaal Cronjé en hy neem deel aan verskillende veldslae, onder andere Magersfontein. Ná die Slag van Paardeberg word hy saam met Cronjé en sy burgers gevange geneem en na St. Helena verban. Voor die oorlog was hy reeds ’n onderwyser en hy het sy studie in ballingskap voortgesit en sy matrikulasie-eksamen op St. Helena afgelê.

Sita word saam met haar moeder gevange geneem en word eers aangehou in die konsentrasiekamp op Vyfhoek naby Potchefstroom. Later is hulle op steenkooltrokke na die konsentrasiekamp Merebank in Natal geneem. Met hulle terugkoms op die plaas was daar niks nie, slegs puinhope. ’n Buurman maak van die verbrande sinkplate wat op die werf rondgelê het ’n skerm teen een van die mure wat nog gestaan het. Dit was vir eers hulle woning. Sita se vader het geweier om die eed van getrouheid aan Engeland te onderteken en kom dus eers lank na die ander burgers tuis. Hy bou ’n buitehuis van rou kleimure, waar die gesin bly tot die groot plaaswoning voltooi is toe Sita reeds ses jaar oud was. Die tweede suster is gebore toe Sita vyf jaar oud was en daarna nog vier ander susters. Die jongste suster is op sewejarige ouderdom oorlede en die tweede jongste, Bets, is later met die bekende beeldhouer Coert Steynberg getroud.

Skoolloopbaan

Op hulle plaas Hoogekraal word ’n plaasskool opgerig, waar Sita se oupa en later haar pa skoolmeester is. Onder die Milner-bewind is Engelse onderwyseresse uit Engeland na Suid-Afrika gebring en ’n Miss Moore en daarna ’n Miss White hou ook op Hoogekraal skool. Nie een van die twee kon ’n woord Afrikaans praat of verstaan nie, met die gevolg dat hierdie plattelandse kinders ’n deeglike onderrig in Engels ontvang het. Sita se pa se grootste belangstelling was musiek en van kleins af word gereelde musiekaande by hulle huis gehou. Hierdie belangstelling het regdeur Sita se lewe ’n impak op haar en haar gesin en vind neerslag in die werk wat sy en later haar kinders doen. Haar hoërskoolopleiding ontvang sy aan die Girls High School op Potchefstroom en sy behaal dan in 1921 die B.A.-graad aan die Potchefstroomse Universiteitskollege. Deur privaatstudie behaal sy deur die Vere Stent College of Journalism and Short Story Writing ’n diploma in joernalistiek en ’n diploma in kortverhaalskryf. Sy lees van kleinsaf alles wat sy in die hande kan kry, so-ook Die Brandwag en veral die kinderrubriek van Tannie van die Brandwag wat van haar briefies publiseer. Sy trou op 26 Maart 1921 met die onderwyser Arend Josias de Kock en hulle het twee seuns, die bekende radio-omroeper, musikant en hoof van TRUK Bosman de Kock en Silvan de Kock.

Skrywer

Die meeste van haar lewe bring sy deur in die Potchefstroom-omgewing, waar haar man vir veertig jaar onderwys gee en hulle op die plaas Wilgeboom bly. Na haar huwelik verrig Sita allerhande los werkies om ekstra geld in te bring. Sy boer met hoenders en varke, word verkoopsagent vir stoomkastrolle en radiotoestelle, maak hoede en rokke en verkoop blomme, blomplantjies, saad, bolle en groente. Haar skryfwerk sorg egter vir die meeste van haar inkomste. Met die verhuising van Die Vaderland vanaf Pretoria na Johannesburg word sy aangestel om die kinderdeel van die jeugblad waar te neem. Vanaf 1936 tot 1947 behartig sy ook Die touleiertjies, die kinderrubriek in Die Brandwag. Daarna is sy vir ’n jaar redaktrise van die kinderdeel van Boerebelange, terwyl sy ook op die redaksie van Avontuur dien. Sy reis baie en besoek meer as 25 lande. In 1948 onderneem sy ’n uitgebreide reis van vyf maande deur Europa en besoek onder andere die Britse Eilande, Nederland, Frankryk, Switserland, België, Italië en dan verder noord die Skandinawiese lande Swede, Denemarke, Finland, Lapland en Noorweë. In Engeland maak sy by die BBC ’n nadere studie van die radiowese en doen ook deeltydse werk vir hierdie organisasie, terwyl sy in Europa veral ondersoek instel na die leefwyse van die mense op die platteland. Sy bring ook besoeke aan Suid-Amerika, waar sy Argentinië, Uruguay en Brasilië verken, terwyl sy ook reis deur Israel en die Midde-Ooste. In die Verre Ooste besoek sy lande soos Singapoer, Hongkong, Japan, China, Indonesië en Bali en in Afrika doen sy ook by Suidwes-Afrika, Rhodesië en Zambië aan.

Latere jare en sterfte

Na aftrede verhuis sy en haar man na die Suidkus van Natal, waar hy aangestel word as Afrikaans-onderwyser aan die Kingsway High School in Amanzimtoti en Sita privaatlesse in Afrikaans gee. Na drie jaar verhuis hulle na Pretoria, waarna hulle op Donkerhoek bly en hulle dan op Bronkhorstspruit vestig. Teen die einde van haar lewe trek sy saam met haar man by die Ons Herberg-tehuis vir bejaardes op die dorp in. Sy is op 10 Mei 1987 op Bronkhorstspruit aan hartversaking oorlede.[3][4]

Skryfwerk

Prosa

Nog voordat Sita kon lees en skryf begin sy reeds stories opmaak, wat sy dan aan almal wat wou luister, vertel. Terwyl sy op laerskool is, verskyn die eerste Die Brandwag en Tannie van die Brandwag skryf vir die kinders briefies daarin en plaas en beantwoord briefies van die kinders. Sita bestook Tannie met briefies, waarvan ’n aantal geplaas word. Intussen skryf sy kort-kort toneelstukkies wat sy en haar maatjies opvoer as hulle konsert hou in die groot populierbos van haar ouma se tuin. Sy skryf in hierdie tyd ook reeds verhaaltjies in Engels. Toe Sita ongeveer elf jaar oud was, wen sy ’n prys vir ’n opstel oor Ou Bles, hulle hond wat in die oorlog dood is. Later is die stukkie opgeneem in ’n bundel modelopstelle. Daarna wen sy nog baie pryse vir haar opstelle. Op twaalfjarige ouderdom skryf sy reeds ’n Engelse roman, ’n stroperige liefdesverhaal, maar sy vernietig later die manuskrip. Haar skrywersloopbaan begin egter eers in erns toe ’n skets van haar op 24 Maart 1924 in Die Huisvrou gepubliseer word, waarna hulle ook haar vervolgverhaal Die gebed van ’n moeder (onder die skuilnaam X) plaas. In 1925 wen sy die Kersverhaalwedstryd van hierdie tydskrif. Later publiseer sy ook in Die Huisgenoot, Die Boerevrou, Die Brandwag en Rooi Rose. Met die geld wat sy vir hierdie verhale kry, koop sy haar eerste tikmasjien.

Jeugverhale

Dit is veral met haar jeugverhale wat sy ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde maak. Haar grootste verdienste as jeugskrywer is haar vermoë om die diepste innerlike van die kind en die jongmens te verstaan en weer te gee in ’n taal wat uit die volksmond kom en by die jeug afgeluister is. In haar werk beskryf sy haar herinneringe en die Afrikanertradisies met liefde en fyn aanvoeling vir die jeug se behoeftes. En toe die prins kom: ’n verhaal van ’n Afrikaanse Aspoestertjie is haar eerste novelle, wat goed ontvang word.

In Bakvissies: ’n Kosskoolverhaal vir dogters moet Stella die ouerhuis verlaat om kosskool toe te gaan, waar die verhaal eindig met die matriekafskeid en sy as jong dame die toekoms tegemoet staar. Sita skryf ook ’n kosskoolverhaal vir seuns met die titel Groentjies: Kaskenades op ’n seunskosskool.

Janette, die dogter wat nie ’n dame wou word nie is die verhaal van Janette wat nie meer ’n ma het nie en dan vir afronding na haar tante in die stad gestuur word. Sy pas eers moeilik aan, kom nie met haar tante oor die weg nie en begaan vele sosiale flaters, wat op vermaaklike wyse beskryf word. Later maak sy tog vriende, leer die nodige sosiale kunsies aan en kan met haar broers herenig word. Hierdie boek verskyn eers as vervolgverhaal in Die Vaderland en word later in ’n toneelstuk en radiovervolgverhaal omskep.

Uit juffrou se dagboek is die verhaal van ’n nuwe onderwyseres (juffrou Bleriot) op ’n eenman plaasskooltjie, waar haar vernuf en deursettingsvermoë tot die uiterste beproef word deur die omstandighede en die agterlike, ondervoede kinders en dom-astrante ouers. Sita slaag daarin om werklike lewe in die karakters te blaas. Sy verhaal op geestige wyse die manewales van die skoolkinders en die juffrou se ontluikende romanse met ’n ryk boerseun, wat na ’n konvensionele misverstand goed op dreef kom. Hierdie verhaal verskyn aanvanklik as vervolgverhaal in Die Huisgenoot en word later as ’n radioverhaal en ook ’n toneelstuk verwerk. Die keurkommissie vir die toekenning van die Hertzogprys vir 1936 sonder dit uit as verdienstelike werk. Juffrou op reis is die opvolgboek waarin Juffrou se wittebroodsreis na Engeland en Skotland beskryf word. Onder die titel Juffrou die bruidjie is dit ook eers as vervolgverhaal in Die Huisgenoot gepubliseer.

Fleurig en keurig is ’n keur uit Sita se briewe aan haar maats, terwyl Speurder Ella ’n avontuurverhaal is vir die jeug. Bennie-Boet se verhaal gee gestalte aan die universele probleem van die begripsgaping tussen kinders en ouers en die seer wat daaruit spruit. Bennie is ’n kunstige seun wat ontuis voel in die boerderygemeenskap en daarna verlang om deur sy pa, die ruwe Karel Kruger, aanvaar te word. Bennie se ma is dood toe hy nog baie klein was en sy pa beskou sý wil en behoeftes as algemeen-geldend. Hy is teleurgesteld oor Bennie se tingerigheid en het nie geduld met sy belangeloosheid by die boerdery nie en weier ook dat hy na standerd ses verder studeer. Wanneer hy die beeld wat Bennie gemaak het, vernietig, bereik die verhouding tussen pa en seun breekpunt en Bennie loop weg. Hierdie boek is verwerk tot ’n verhoogstuk, oor die radio uitgesaai en ook in ’n rolprent omskep.

Die Mientjie-reeks beeld die plaaslewe nostalgies uit en beskryf die vakansies wat Mientjie, Spikkels en Klaas op die plaas deurbring en die avonture wat hulle dan beleef. Die problematiek van die saambestaan van wit en swart op die plaas word reeds in hierdie reeks aangeroer. Hierdie reeks bestaan uit Mientjie die meisiekind, Mientjie en die grotman, Mientjie en die aapmens, Mientjie en die tokkelossie en Mientjie en die geheime wapen. Later kom Die spookhuis ook by, wat eers oor die radio in die program Jongspanateljee van die Afrikaanse Diens van die SAUK voorgelees is.

Die Scheepers-prys vir jeuglektuur word in 1960 deur die Akademie aan haar toegeken vir al haar jeugboeke, in die besonder Uit juffrou se dagboek, Juffrou op reis, Bennie-Boet, Janette, Outa Fransie en ander verhale, Rollie-Pollie en die glimlagfeetjies, Mientjie die meisiekind, Mientjie en die grotman, Mientjie en die aapmens, Mientjie en die tokkelossie en Mientjie en die geheime wapen.

Skryfwerk vir jonger kinders

Vir jonger kinders skryf sy ook etlike boeke, wat insluit fantasieverhale (Rollie-Pollie en die glimlagfeetjies), geskiedenisverhale (Die ou Voortrekker-bordjie vertel), avontuurverhale (Boetman en Fanus, waarin sy avonture van twee knapies op die plaas beskryf, en Die hutjie in die populierbos) en talle verhale waarin opvoedkundige materiaal deur middel van ’n storie oorgedra word. In Japie en Pietbrak gaan op reis besoek hierdie twee reisigers al die vernaamste stede en dorpe in die land. Kortverhale vir kinders word gebundel in Outa Fransie en ander verhale (haar eerste publikasie waarin al haar kinderverhale tot in daardie stadium opgeneem is), Kleingoed van die vlaktes, Pokkie en Dorkas en Daar was eendag.

Vir kleuters lewer sy die boekies in kleur Trippel trappel toontjies (wat rympies is uit die volksmond), Touleiertjies se ABC, Touleiertjies op reis, Kom ons speel en Grootjie se ABC. Linkie-Winkie is ook kleuterrympies.

Skryfwerk vir volwassenes

Talle verhale vir volwassenes kom ook uit haar pen. Vonke is ’n bundel kortverhale waarin haar aangename verteltrant bekoor, selfs al mis die verhale sielkundige diepgang. Temas sluit in goëlery, voorbodes, dolosgooi, boererate en toneeltjies uit die kinderlewe en sketse uit die Anglo-Boereoorlog.

Nuwe more is ’n roman wat hoog aanbeveel word in ’n romanwedstryd van die Afrikaanse Pers Boekhandel.

Nig Ralie se gedoentes is ’n bundel met luimige sketse.

Die roman Uit die puine is ’n verhaal wat op outentieke briewe van die skryfster se ouers aan mekaar berus en oor die lotgevalle van ’n Boeregesin tydens die Anglo-Boereoorlog handel. Selfs in die haglikste omstandighede word hulle gees nie geblus nie en hoop hulle steeds op beter dae midde-in ’n oorlog wat vir hulle slegs dood, verwoesting en lyding bring. Hierdie roman word later verwerk en herpubliseer as [5]Wekroep. Donker magte wen die letterkundige prys van die tydskrif Avontuur.

Die buurt is eers ’n radiovervolgverhaal wat later gepubliseer word en dan in Nederlands vertaal word. Dit speel af net na die Anglo-Boereoorlog, waar Jan en Allie Verster en hulle gesin ’n bitter stryd voer om weer op die been te probeer kom. Die res van die gemeenskap in hulle verskeidenheid en die bygelowe en gebruike van ’n vergange tyd word treffend beskryf.

Die verlore droom is ’n liefdesroman, wat later as Magriet van die kinderhuis verwerk en heruitgegee word. Die naïewe Magriet het matriek geskryf en moet nou self in die stad ’n bestaan probeer maak. Sy word gekonfronteer met baie ontnugterings, maar ook ’n paar verrassings.

Klipsop is ’n bundel sketse wat sy oorspronklik vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie geskryf het.

Liefste Kadie is ’n bundel van die briewe wat Sita elke jaar op haar verjaarsdag aan haar oudste kleindogter, Karin de Kock, geskryf het en die leser kan figuurlik die dogter sien groot word en ontluik in ’n jong vrou.

Die bundel Sewe koppies rys bevat sketse oor die lewe in die ou dae, waarin sy haar herinneringe as die jong bruid van ’n onderwyser op ’n plaasskool herleef. Daar is humoristiese vertellings van die lewe van die dorpsgemeenskap, van nagmaal, die nuwe dominee, miesies Vinter, tant Dorie, die kwessie van skoonouers en die aankoms van die eerste kleingoed.

Radiovervolgverghale

Deur die jare word talle radiovervolgverhale van haar uitgesaai, insluitende Ou-Oumatjie en Tant Poppie Kluitjiesfontein. Van haar verhale word in versamelbundels opgeneem, waaronder Uw wil geschiede in Dames 17 onder redaksie van C.J.M. Nienaber, Magersfontein in Voorsmaak, ’n bundel met die werk van Scheepersprys-wenners onder redaksie van F.V. Lategan, en Vreemder as verdigsel in Tydskrif saamgestel deur Daniel Hugo.

Samesteller

As samesteller is sy verantwoordelik vir die familiestamboom van die Bosmans (Die Bosmans van Suid-Afrika 1707–1965) en De Kocks (Die De Kocks van Heilbron) in Suid-Afrika, na intensiewe navorsing oor baie jare. Pase en Pinkster is ’n bundel met gewyde geleentheidskoorsange, wat deur Armand Preud’homme getoonset is. Sy is ook verantwoordelik vir die samestelling van Ons Kinderjaarboek se eerste sewe dele in die tydperk 1937 tot 1948.

Drama

Sy voorsien ook dramatekste aan die bedrywige Afrikaanse rondreisende toneelgeselskappe van veral die dertigerjare en daarna, soos Bennie-Boet en Janette, wat later as jeugboeke gepubliseer word. Die stiefma, of Onbekend maak onbemind en Sy les is twee eenbedrywe wat ook oor die radio uitgesaai word. Hulle word beide in die Suid-Afrikaanse toneelreeks gepubliseer. Anna Neethling-Pohl beskou in ’n artikel wat op 6 Julie 1945 in Die Huisgenoot verskyn, die ongepubliseerde Die goeie oue tyd as haar beste toneelstuk. Sy en H.A. Mulder spreek egter kritiek uit op die onbevredigende slot. Die oorspronklike slot soos Sita dit geskryf het, was egter heel anders en baie beter, maar die leier van die toneelgeselskap waarvoor sy die stuk saamgestel het (Pierre de Wet), het dit verander en ’n slot ingewerk met ’n lang sterftoneel, omrede een van sy aktrises baie mooi kon sterwe. Dit het die oorspronklike logiese en natuurlike ontwikkeling versteur met ’n sentimentele en onnatuurlike slot wat weinig verband met die res van die drama gehou het. Sita se goed gekose titel (Geen groter liefde), is verander na die onjuiste Die goeie oue tyd. Die drama kon nie eens soos dit oorspronklik was, uitgegee word nie, omdat die toneelleier al die regte daarop gehad het. Pierre de Wet maak later ’n rolprent gebaseer op die drama onder die titel Simon Beyers.

Ses vroue is ’n eenbedryf. In 1957 publiseer sy die bundel met eenbedrywe Finkel en koljander, waarin die klugte Finkel en koljander, Die Pettie-krie-koei (oor mense wat met ’n gebrek of agterstand deur die lewe sukkel), Oppie trein (wat onder andere in 1987 by die ATKV Kampustoneelfees opgevoer deur die Bronkhorstspruit Amateurtoneelspelers) en Die bordin-huis opgeneem word. Al hierdie dramas word later apart gepubliseer deur Dalro.

Haar drama ’n Man van ponde en dinge (’n Bybelskets) word deur Dalro gepubliseer en hulle bewaar ook die ongepubliseerde sketse Hintemal in die dubbeljoe en Die bondel-smous.

Radiodramas

Sy skryf ook verskeie radiodramas. Bosman de Kock, haar seun wat ’n bekende omroeper was by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, was bevriend met die bekende Vlaamse toondigter, Armand Preud’homme. Hy vertaal heelwat van Preud’homme se operettes en liedere en na Bosman se dood in 1969 sit Sita hierdie werk voort. So vertaal sy onder andere die operettes Die lewe bloei oop en Die Heiland is gebore en verskeie lirieke. Haar vertaling van Alois Verwaest se Skoothondjie van mev. Pips, waarvoor Preud'homme ook die musiek skryf, word deur Dalro gepubliseer. Sy skryf ook die oorspronklike tekste Die lied van die ou meule en Kers-sangdiens wat deur Preud’homme getoonset word. Werke vir skoolgebruik sluit in die sangspele vir laerskole Soetkoek, Potjierol en Ons wil jakker, waarvan die eerste twee deur Bosman de Kock getoonset word.

Eerbewyse

Benewens haar boekpryse ontvang sy ook letterkundige toekennings van Die Suid-Afrikaanse Letterkundige Vereniging en van die Dietse Federasie. In 1986 word sy deur die Kultuurraad van Bronkhorstspruit aangewys as die dorp se kultuurpersoonlikheid van die jaar, waarin hulle hulde bring aan haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Publikasies

Werke wat uit haar pen verskyn sluit in:[6]

Jaar Publikasies
1930 Outa Fransie en ander verhale
En toe die prins kom
1931 Vonke
Die stiefma of Onbekend maak onbemind
Sy les
1933 Bakvissies
1934 Kleingoed van die vlaktes
Uit juffrou se dagboek
1935 Pokkie en Dorkas
1937 Janette
Juffrou op reis
Rollie-Pollie en die glimlagfeetjies
1938 Die ou Voortrekker-bordjie vertel
1939 Boetman en Fanus
1941 Groentjies: kaskenades op ’n seunskosskool
1944 Trippel trappel toontjies
Touleiertjies se ABC boekie
Touleiertjies op reis
Kom ons speel
Grootjie se ABC
1945 Miempie en haar sustertjie
1946 Nig Ralie se gedoentes
Twee mense
Nuwe môre
Daar was eendag
1947 Speurder Ella
1949 Sy held en twee ander verhaaltjies
1950 Loon van die sonde
1951 Soetkoek: ’n sangblyspel vir laerskole (saam met Bosman de Kock)
In die aandkoelte
Fleurig en keurig
Bennie-Boet
Japie en Pietbrak gaan op reis
1952 Uit die puine
Soos ’n kosbare kleinood
1953 Verre horison
1954 Mientjie die meisiekind
Mientjie en die grotman
1955 Mientjie en die aapmens
Die hutjie in die populierbos
1956 Linkie-Winkie
Mientjie en die tokkelossie
1957 Finkel en koljander: vier klugspeletjies
Potjierol
Mientjie en die geheime wapen
1958 Ses vroue
1967 Die buurt
1970 Kers-sangdiens
Die lied van die ou meule
Die verlore droom
1973 Sewe koppies rys
Die spookhuis
1977 Liefste Kadie
Wekroep
Klipsop
1978 Finkel en koljander
Die Pettie-krie-koei
Oppie trein
1982 Die bordin-huis
Mientjie-hulle
1985 Magriet van die kinderhuis
1986 ’n Man van ponde en dinge
As samesteller
1937–1948 Ons kinderjaarboek
1968 Die Bosmans van Suid-Afrika 1707–1965
1972 Die De Kocks van Heilbron
1974 Pase en Pinkster
Vertaler
1971 Skoothondjie van mev. Pips – Alois Verwaest
1972 Die heiland is gebore – Armand Preud’homme
1975 So sing ons saam – Armand Preud’homme

Bronnelys

Boeke

  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica. Pretoria en Kaapstad.  Tweede druk, 1984.
  • Lategan, F.V. Voorsmaak. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Eerste druk, 1972.
  • Nienaber, P.J. Die Hertzogprys Vyftig Jaar. Nasionale Boekhandel. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1965.
  • Nienaber, P.J,; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Tweede hersiene uitgawe, 1963.
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
  • Schoonees, P.C. Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk).
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1998.
  • Wybenga, Gretel en Snyman, Maritha (reds.) Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Lapa-Uitgewers. Eerste uitgawe. Tweede druk, 2005.

Tydskrifte en koerante

  • Anoniem. Sita – Geliefde skryfster. Die Huisvrou, 16 Augustus 1949.

Internet

Ongepubliseerde dokumente

Verwysings

  1. Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Sita
  2. Geni: https://www.geni.com/people/Sara-Susanna-Sita-de-Kock/6000000034106841236
  3. Anoniem. Sita oorlede ná siekbed. Die Vaderland, 11 Mei 1987.
  4. Anoniem. Sita (88) in Transvaal oorlede. Die Burger, 12 Mei 1987.
  5. Pretorius, J.C. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 15 no. 2, Mei 1977
  6. Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ADe+Kock%2C+Sita.&qt=hot_author
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.