Simferopol
Simferopol (Russies: Симферополь; Oekraïens: Сімферополь; Krim-Tataars: Aqmescit) is die hoofstad van die Outonome Krimrepubliek op die Krim-skiereiland in Oekraïne. Die stad self vorm 'n distrik binne die outonome republiek en is ook die bestuurlike sentrum van die gelyknamige Simferopol-distrik rondom die stad. Simferopol is langs 'n klein rivier, die Salgir, aan die noordekant van die Krimgebergte geleë. Die stad het 362 366 inwoners (2013).
Simferopol • Aqmescit | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Oekraïne(de-jure) Rusland(de-facto) |
Republiek | Krim |
Stigting | 1784 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 107 vk km |
Hoogte bo seevlak | 350 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2013) | 362 366 |
- Bevolkingsdigtheid | 3 183,17/vk km |
Tydsone | MSK / UTC +4 |
Burgemeester | Wiktor Ageef |
Amptelike Webwerf | simferopol-rada.gov.ua Geargiveer 22 Mei 2009 op Wayback Machine |
Geskiedenis
Binne die stadsgrense is die beroemde argeologiese reste van die Skitiese stad, Neapolis. Nadat die Skitiërs deur die Gote verdryf is, stig die Krim-Tatare die stad Aqmescit.
Die Krim word later onder leiding van Katharina II deur Rusland verower en die stad se naam word in 1784 na Simferopol verander. Die naam kom van die Griekse Sympheropolis (Συμφερόπολις).
In 1802 word Simferopol die administratiewe sentrum van die Taurida-regering. Gedurende die Krimoorlog (tussen 1854 en 1856) was Russiese soldate en 'n hospitaal hier gesetel. In die tyd is meer as 30 000 Russiese soldate in en om die stad begrawe.
Gedurende die twintigste eeu word Simferopol weereens deur oorloë geteister. Aan die einde van die Russiese Burgeroorlog was die hoofkwartier van generaal Pjotr Wrangel, die leier van die anti-Bolsjewistiese Wit Weermag hier geleë. Op 13 November 1920 verower die Rooi Leër die stad en op 18 Oktober 1921 word Simferopol die hoofstad van die Krimse Outonome Sosialistiese Sowjetrepubliek.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die stad tussen 1 November 1941 en 13 April 1944 deur die Duitse weermag beset. Nazi-Duitsland maak homself aan 'n massaslagting skuldig deur 22 000 inwoners om die lewe te bring. Op 'n enkele dag, op 13 Desember 1941, is 14 300 inwoners deur die Einsatzgruppen D onder leiding van Otto Ohlendorf gedood.
Nadat die Sowjetsoldate die stad weer in April 1944 herower, word die Krim-Tatare op 18 Mei van dieselfde jaar onder dwang na Sentraal-Asië gedeporteer.
Na die oorlog is Simferopol op 26 April 1954 deur Nikita Chroesjtsjof (saam met die res van die Krim) van Rusland na Oekraïne oorgedra. Die Sowjetunie stort egter in 1991 ineen en Simferopol word die hoofstad van die Outonome Krimrepubliek binne 'n onafhanklike Oekraïne.
In 2014 is die stad, met die res van die Krim, weereens deur Rusland geannekseer. Dit volg nadat die plaaslike bevolking 'n referendum uitgeroep en oorweldigend ten gunste van hereniging met Rusland gestem het.
Demografie
Die inwoners van Simferopol is merendeels etniese Russe. Daarnaas het die stad ook 'n groot Oekraïense en Tataarse minderhede. Nadat die Krim-Tatare in die jare negentig vanuit ballingskap teruggekeer het, het verskeie nuwe Krim-Tataarse voorstede ontstaan.
- Russe 66,7%
- Oekraïners 21,3%
- Krim-Tatare 7%
- Wit-Russe 1,1%
Vervoer
Die stad het 'n treinstasie wat deur miljoene toeriste per jaar gebruik word. Dit beskik ook oor 'n internasionale lughawe. Die wêreld se langste Trolliebuslyn (86 km) loop van Simferopol na Jalta.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Simferopol.