Sewanmeer
Die Sewanmeer (Armeens Սևանա լիճ, Sevana lich) is die grootste meer in Armenië en die Kaukasusgebied met 'n wateroppervlakte van 940 km² en 'n watervolume van 34 miljard m³. Sy bekken beslaan sowat 5 000 km². Met tussen 1 900 en 2 000 meter bo seevlak is dit een van die grootste bergmere ter wêreld wat deur 28 riviere en bergstroompies gevoed word. Net sowat tien persent van die natuurlike waterafvoer word deur die Hrazdan-rivier gedreineer. Die oorgrote res verdamp.
Saam met die Van- en die Urmiameer is die Sewanmeer oorspronklik as een van die drie groot mere van die historiese Koninkryk Armenië beskou. Tans is dit die enigste van hierdie drie waterliggame wat nog op die staatsgebied van die huidige Republiek van Armenië geleë is. Die Sevanavank-skiereiland was vroeër 'n eiland naby die noordelike oewer wat vir sy gelyknamige klooster en as bedevaartsoord bekend staan.
Vandag is die Sewanmeer 'n gewilde bestemming vir toeriste en bewoners van Jerewan wat van die somerhitte wil ontsnap. Langs sy oewer het 'n toeristiese en geneeskundige infrastruktuur met hotelle, sanatoriums, somerhuise en watersportgeriewe ontstaan. Die watertemperatuur beweeg in die somermaande tussen 17 en 24 °C. Die meerwater is deursigtig tot 'n diepte van elf meter.
Ligging
Die Sewanmeer is in die provinsie Gegharkunik in Sentraal-Armenië geleë. Die meer het in die krater van 'n uitgedoofde vulkaan gevorm en word omring deur hoë bergpieke. Dit bestaan uit twee dele, die Groot Sewanmeer (met 'n maksimale diepte van 58,7 m) en die Klein Sewanmeer (met 'n maksimale diepte van 98,7 m).
Die natuurlike ekostelsel van die meer is deur die mens ingrypend verander nadat meer water vir besproeiingsdoeleindes en kragopwekking gebruik is. So was die oorspronklike oppervlakte dekades gelede nog meer as 1 300 km² met 'n gemiddelde waterdiepte van 95 m, 'n oewerlyn van 260 km en 'n watervolume van 58 km³.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Sewanmeer. |