Sentour
Sentoure, kentoure of perdmense (Grieks: Κένταυροι; Kéntauroi) is in die Griekse mitologie wesens wat half mens, half perd is. In die pottebakkerskuns van antieke Griekeland is hulle uitgebeeld met die onderlywe van perde aan hulle vas; in latere weergawes het hulle die bolyf van ’n mens en die onderlyf van ’n perd.
Hierdie uiterlike samesmelting het daartoe gelei dat baie skrywers hulle beskou het as wesens wat vasgevang is tussen die aard van die mens en dié van die perd. Hulle is uitgebeeld as óf die verpersoonliking van die ongetemde natuur, soos in hul stryd teen die Lapiete, óf as onderwysers, soos Chiron. The sentoure was meestal die kinders van Ixion en Nephele (die wolk wat gemaak is om soos Hera te lyk). Volgens ’n ander weergawe was hulle die kinders van ene Centaurus wat met die merries van Magnesië gepaar het. Sentourus was óf self die seun van Ixion en Nephele (wat ’n bykomende geslag tussenin voeg) óf van Apollo en Stilbe, dogter van die riviergod Peneus. In die latere weergawe van die verhaal is sy tweelingbroer Lapitos, voorvader van die Lapiete (dus was die strydende volke neefs.
Sentoure het die Magnesië-gebied, die berg Pelion in Thessalië, die berg Pholoe in Arkadië en die Maleaanse Skiereiland in Suid-Lakonië bewoon.
Sentoure-stryd
Die sentoure is die bekendste vir hul stryd teen die Lapiete wat ontstaan het ná hul poging om Hippodamia en die res van die Lapiete-vroue te ontvoer op die dag van Hippodamia se bruilof met Pirithous, koning van die Lapiete wat self ’n seun van Ixion was. Nes die stryd tussen die Olimpiese gode en die Titane, is dié stryd tussen die twee neefs ’n metafoor vir die konflik tussen die beskawing en barbaarsheid. Theseus, ’n held en stigter van stede wat toevallig daar was, het Pirithous gehelp en dus die stryd na die regte kant help vorder. Die sentoure is verdryf of vernietig.[1][2][3]
Die bekendste uitbeelding van die sentoure-stryd is in die Parthenon (Elgin-marmerbeelde), metope deur Phidias en ’n beeld uit die Renaissance-era deur Michelangelo.
Teorieë oor die ontstaan
Die mees algemene teorie is dat die mite van die sentoure ontstaan het weens die eerste reaksie van die plaaslike bevolking, wat nie perde geken het nie, op die perdryende nomades. Volgens dié teorie het die mense op hul perde vir die plaaslike bevolking soos half mens, half dier gelyk – soos ook met die Asteke en die ruiters van die Spaanse kavallerie gebeur het.[4] Perde is vir die eerste keer getem in die suidelike steppe van Sentraal-Asië, dalk min of meer in die hedendaagse Kazachstan.
Die Lapiete-stam van Thessalië, wat familie van die mitiese sentoure was, word deur Griekse skrywers beskou as die uitvinders van perdry. Die Thessaliese stamme beweer dan ook hul perde is afstammelinge van die sentoure.
Verwysings
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Centaur
- Plutarch, Theseus, 30
- Ovid, Metamorphoses xii. 210
- Diodorus Siculusiv. 69, 70
- Stuart Chase, Mexico: A Study of Two Americas, hoofstuk IV (University of Virginia Hypertext), URL besoek op 24 April 2006.
- Grant, M. en Hazel, J. Who's Who in Greek Mythology. David McKay & Co Inc, 1979.
- Rose, Carol (2001). Giants, Monsters, and Dragons: An Encyclopedia of Folklore, Legend, and Myth. New York, New York: W. W. Norton & Company, Inc. p. 72. ISBN 0-393-32211-4.
Eksterne skakels
- Sentoure in die letterkunde
- MythWeb Geargiveer 21 Februarie 2009 op Wayback Machine Artikels oor sentoure