Senegal

Senegal (Arabies: السنغال, al-Sinigāl; Frans: Sénégal, ; Pulaar: 𞤅𞤫𞤲𞤫𞤺𞤢𞥄𞤤𞤭, Senegaali; Serer: Senegaal; Wolof: Senegaal), amptelik die Republiek Senegal (Arabies: جمهورية السنغال, Jumhūriyya al-Sinigāl; Frans: République du Sénégal; Pulaar: 𞤈𞤫𞤲𞤣𞤢𞥄𞤲𞤣𞤭 𞤅𞤫𞤲𞤫𞤺𞤢𞥄𞤤𞤭, Renndaandi Senegaali; Wolof: Réewum Senegaal), is 'n land suid van die Sénégalrivier in Wes-Afrika. Senegal word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste, Mauritanië in die noorde, Mali in die ooste en Guinee en Guinee-Bissau in die suide. Gambië vorm 'n enklawe binne Senegal om die Gambiërivier vir meer as 300 km in die binneland in. Die Kaap Verde-eilandgroep lê ongeveer 560 km wes van die Senegalese kus af.

Nasa-Satellietbeeld van Senegal
Republiek Senegal
جمهورية السنغال
Jumhūriyya al-Sinigāl (Arabies)
République du Sénégal (Frans)
𞤈𞤫𞤲𞤣𞤢𞥄𞤲𞤣𞤭 𞤅𞤫𞤲𞤫𞤺𞤢𞥄𞤤𞤭
Renndaandi Senegaali (Pulaar)
Réewum Senegaal (Wolof)
Vlag van Senegal Wapen van Senegal
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Un Peuple, Un But, Une Foi
(Frans vir: "Een volk, een doel, een geloof")
Volkslied: Le Lion rouge
(Frans vir: "Die rooi leeu")
Ligging van Senegal
Hoofstad Dakar

14°40′N 17°25′W

Grootste stad Dakar
Amptelike tale Frans
Nasionale tale: Arabies, Jola-Fonyi, Mandinka, Pulaar, Serer, Soninke en Wolof[1]
Regering

President
Eerste Minister
• President van die
Nasionale Vergadering
Unitêre presidensiële
grondwetlike republiek
Bassirou Diomaye Faye
Ousmane Sonko

Amadou Mame Diop
Onafhanklikheid
• Republiek
• van Frankryka
• van Frankrykb
• Onttrekking aan die
Mali-Federasie
• Ontbinding van
Senegambië
• Huidige grondwet

25 November 1957
4 April 1960
20 Junie 1960

20 Augustus 1960

30 September 1989
22 Januarie 2001
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
196 722[2] km2  (88ste)
75 955 myl2
2,1
Bevolking
 - 2023-skatting
 - 2016-sensus
 - Digtheid
 
18 384 660[2] (67ste)
16 627 000
68,7 / km2 (134ste)
177,9 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$87,412 miljard[3] (106de)
$4 684[3] (156ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$35,185 miljard[3] (111de)
$1 886[3] (157ste)

MOI (2022) 0,517[4] (169ste)    laag
Gini (2021) 36,2[5]   medium
Geldeenheid CFA-frank (XOF)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
nie toegepas nie (UTC±0)
Internet-TLD .sn
Skakelkode +221
a. met Frans-Soedan binne die Mali-Federasie.
b. as Frans-Soedan met Senegal binne die Mali-Federasie.

Senegal beslaan 'n oppervlakte van 196 712 km² en het 'n bevolking van 17 923 036 in 2022 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Dakar aan die westelikste punt van die Afrikavasteland. Sedert 2014 word in Diamniadio 'n tweede regeringsetel opgerig.[6] Ander belangrike stede sluit in Thiès en Touba. Senegal vorm die mees westelike land op die vasteland van die Ou Wêreld en Afrika-Eurasië.[7] Die kremetartboom en die leeu vorm die twee nasionale simbole van Senegal; albei is in erkenning aan dié land se ryk natuurlewe gekies.[8]

Die gebied van Senegal vorm sedert die 12de eeu deel van die Islamitiese wêreld en is sedertdien deur verskeie Afrikaryke oorheers. In 1895 het dit 'n Franse kolonie geword en in 1946 deel van die Franse Unie. Op 4 April 1959 het Senegal saam met Mali die Mali-Federasie gevorm en op 4 April 1960 van Frankryk onafhanklik geword, maar dié federasie is reeds op 20 Augustus 1960 weer ontbind. Op 1 Februarie 1982 het Senegal saam met Gambië die Senegambiese Konfederasie gestig, wat op 30 September 1989 weer ontbind is nadat Gambië geweier het om nader aan 'n unie te beweeg. Senegal spog met 'n stabiele demokrasie en ekonomiese groei. Dit is 'n lid van die Afrika-unie, die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS) en die Organisasie van Islamitiese Samewerking (OIS).

Etimologie

Die landsnaam is afgelei van die Sénégalrivier wat dié land in die noorde en ooste begrens. Die naam "Senegal" is dalk ontleen aan die Wolof-woord Sunuu Gaal wat "ons boot" beteken. Volgens 'n ander teorie het die naam sy oorsprong in 'n Portugese transliterasie van die Zenaga, ook bekend as Sanhaja, se naam of 'n kombinasie van die opperste godheid in die Serer-godsdiens (Rog Sene) en o gal wat "waterliggaam" in die Serer-taal beteken.[9]

Geskiedenis

Prehistoriese megaliete in Senegal
Kaart van Wes-Afrika in 1625
Kaart van Senegambië in 1707
Slawehandelaars op Gorée, 18de eeu
Senegal se Gorée-eilandhawe net suid van Dakar, vroeër die sentrum van slawehandel in Wes-Afrika

Argeologiese ontdekkings in die hele gebied dui aan dat Senegal in prehistoriese tye bewoon was. Islam, die dominante geloof in Senegal, kom vir die eerste keer na die gebied in die 11de eeu, toe die Almoravide-dinastie van Noord-Afrika veldtogte in die hedendaagse Senegal geloods het. Vandag is 95% van die land se bevolking Moslems. In die 13de en 14de eeue kom die gebied onder die invloed van die Mandingo-ryke oos daarvan; die Jolof-ryk van Senegal word ook in die tydperk gestig. Van die ander mededingende ryke sluit in Mali en Songhai. Verskeie Europese moondhede soos Portugal en Nederland kom na die gebied vanaf die 15de eeu, totdat Frankryk in besit kom van wat 'n belangrike vertrekpunt binne die Atlantiese slawehandel sou word. Geriewe op die eiland Gorée net suid van Dakar getuig tot vandag toe daarvan.

Tydens die Sewejarige Oorlog (1756–1763) is die gebied van Senegal deur die Koninkryk van Groot-Brittanje beset en met die daaropvolgende Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk afgestaan. Nadat Frankryk die jonge Verenigde State van Amerika tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog (1775–1783) teen die Verenigde Koninkryk ondersteun het, het Senegal met die Vrede van Parys in 1783 'n Franse kolonie geword, terwyl Gambië by die Britse Ryk ingelyf is. Tussen 1902 en 1904 het die kortstondige Senegambië en Niger onder Franse koloniale gesag bestaan.

In Januarie 1959 smelt Senegal en Frans-Soedan saam om die Mali-Federasie te vorm wat ten volle onafhanklik word op 20 Junie 1960, as 'n uitvloeisel van die "Onafhanklikheid en oordrag van mag"-ooreenkoms wat op 4 April 1960 met Frankryk geteken is. As gevolg van politieke struikelblokke ontbind die Federasie op 20 Augustus 1960. Senegal en Frans-Soedan (herdoop tot die Republiek Mali) verklaar onafhanklikheid. Léopold Sédar Senghor word in Augustus 1960 verkies as Senegal se eerste president. Hy het die teks van die Senegalese volkslied, Le Lion rouge ("Die rooi leeu"), persoonlik geskryf.

Ná die ontbinding van die Mali-Federasie regeer president Léopold Sédar Senghor en eerste minister Mamadou Dia saam in 'n parlementêre stelsel. In Desember 1962 lei hulle politieke wedywering tot 'n staatsgreeppoging deur eerste minister Dia. Hoewel dit sonder bloedvergieting onderdruk is, word Dia gearresteer en tronk toe gestuur. Senegal neem 'n nuwe grondwet aan wat die president se mag konsolideer. In 1980 besluit president Senghor om uit die politiek te tree en handig die leisels in 1981 aan sy keuropvolger, Abdou Diouf, oor.

Senegal verenig met Gambië in 'n nominale konfederasie, Senegambië, op 1 Februarie 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike separatistegroep in die Casamance-omgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Abdou Diouf was president tussen 1981 en 2000. Hy moedig breër politieke deelname aan, verminder regeringsbetrokkenheid by die ekonomie en verbreed Senegal se diplomatieke betrekkinge, veral met ander ontwikkelende lande. Binnelandse politiek loop per geleentheid oor tot straatgeweld, grensspanning en 'n gewelddadige separatiste beweging in die suidelike streek, Casamance. Nogtans versterk Senegal sy verbintenis tot demokrasie en menseregte. Diouf dien vier termyne as president. In die presidensiële verkiesing van 2000 word hy verslaan, in 'n vrye en regverdige verkiesing, deur opposisieleier Abdoulaye Wade. Senegal ondervind sy tweede vreedsame oorgang in mag en die eerste van een politieke party tot 'n ander. Op 22 Januarie 2001 is die vierde en huidige grondwet van Senegal na 'n referendum goedgekeur.

Op 30 Desember 2004 kondig president Abdoulaye Wade aan dat hy 'n vredesverdrag met die separatistegroep in die Casamancegebied sou teken. President Macky Sall het in Desember 2012 vredesgesprekke met rebelle in Rome gevoer.[10]

In Maart 2012 is Macky Sall tot nuwe president van Senegal verkies en het Abdoulaye Wade opgevolg. Hierdie vreedsame en demokratiese oorgang is deur baie buitelandse waarnemers, soos die Europese Unie, verwelkom en as 'n voorbeeld vir Afrika geloof.[11] Tydens die 2019-verkiesings is Sall herkies vir 'n verminderde termyn van vyf jaar.[12]

Van 3 Maart 2021 is Senegal deur massaproteste geraak ná die inhegtenisname van Ousmane Sonko weens beweerde verkragting en mishandeling tydens die Covid-19-pandemie. In Junie 2023 het die reaksie op die proteste verskerp, volgens Amnestie Internasionaal is 23 mense dood, waarvan die meeste deur polisiepatrone of gewapende polisiemedewerkers.[13] Die 2024-presidentsverkiesing is deur Bassirou Diomaye Faye, wat pleks van die geskorste Sonko gestaan het, van die PASTEF gewen en hy is op 2 April 2024 ingesweer.[14] Een dag later het die nuwe president die opposisieleier Ousmane Sonko tot nuwe eerste minister benoem.[15]

Geografie

Kaart van Senegal

Senegal is geleë aan die weste van die Afrika-vasteland. Die Saharawoestyn is net noord een oos van van Senegal geleë en word deur die gelyknamige rivier van dié land geskei; Senegal maak dus deel uit van Afrika suid van die Sahara. Die noorde word deur die minder droë en meer vrugbare Sahel gekenmerk en die suide deur die Soedangebied. Laasgenoemde ontvang meer reënval as die Sahel en is geskik vir landbou.

Die Senegalese landskap bestaan hoofsaaklik uit golwende sanderige vlaktes van die westelike Sahel wat tot voetheuwels in die suidooste styg. Hier word ook Senegal se hoogste punt aangetref, 'n andersins naamlose 581 m hoë punt naby Nepen Diakha. Die noordelike grens word gevorm deur die Sénégalrivier, ander riviere sluit in die Gambia en die Casamancerivier. Die hoofstad Dakar lê op die Cap-Vert-skiereiland, die mees westelike punt van die Afrikavasteland.

Klimaat

Klimaatsones in Senegal volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
Die Gambiërivier kronkel deur die Niokolokoba Nasionale Park, Senegal

Senegal beskik oor 'n tropiese klimaat met aangename warmte dwarsdeur die jaar met goed gedefinieerde droë en vogtige seisoene wat die gevolg is van noordoostelike winterwinde en suidwestelike somerwinde. Die droë seisoen (Desember tot April) word oorheers deur warm en droë harmattan-winde.

Dakar se jaarlikse reënval van omtrent 600 mm kom tussen Junie en Oktober voor wanneer die gemiddelde temperature wissel tussen maksimaal 30 °C (86 °F) en minimaal 24,2 °C (75,6 °F); die kwik bereik tussen Desember en Februarie 'n maksimum van 25,7 °C (78,3 °F) en 'n minimum van 18 °C (64,4 °F).[16]

Binnelandse temperature is hoër langs die kus (byvoorbeeld is die gemiddelde daaglikse temperatuur in Kaolack en Tambacounda 30 °C (86 °F) en 32,7 °C (90,9 °F), onderskeidelik, vergelyk met Dakar se 23,2 °C (73,8 °F),[17] en die reënval styg aansienlik verder suid, met jaarliks hoogstens 1500 mm (59,1 in) in sommige gebiede.

In die verre binneland van Tambacounda, veral langs die grens met Mali waar die woestyn begin, kan die kwik tot 54 °C (129,2 °F) styg. Die noordelikste gedeelte van die land beskik amper oor 'n warm woestynklimaat, die sentrale gedeelte het 'n warm halfdroë-klimaat en die suidelikste gedeelte 'n tropiese nat en droë-klimaat. Senegal is hoofsaaklik 'n sonnige en droë land.

Administratiewe verdeling

Die 14 Senegalese streke of regions
Die Conseil Régional-gebou in Ziguinchor. Streke, in teenstelling met departmente of arrondissements (maar soos gemeentes), definier administratiewe en politieke mag in Senegal.

Senegal is onderverdeel in 14 streke of regions,[18] elkeen word deur 'n Conseil Régional (plaaslike raad) geadministreer wat deur die bevolking op Arrondissement-vlak verkies word. Die land is verder verdeel in 45 Départements, 113 Arrondissements (geen van hulle het 'n administratiewe funksie nie) en Collectivités Locales, wat administratiewe beamptes kies.[19][20]

Tot dusver is al die streeksname van hul plaaslike hoofstede ontleen.

StreekHoofstad Oppervlakte
(km²)
Bevolking
(2013-sensus)
[21]
DakarDakar5473 137 196
ZiguinchorZiguinchor7 352549 151
DiourbelDiourbel4 8241 497 455
Saint-LouisSaint-Louis19 241908 942
TambacoundaTambacounda42 364681 310
KaolackKaolack5 357960 875
ThièsThiès6 6701 788 864
LougaLouga24 889874 193
FatickFatick6 849835 352
KoldaKolda13 771714 392
MatamMatam29 445562 539
KaffrineKaffrine11 262566 992
KédougouKédougou16 800152 357
SédhiouSédhiou7 341452 944

Plaaslike administrateurs word almal aangestel en is verantwoordelik aan die president.

Politiek

Hutte op die platteland
Die huidige president Bassirou Diomaye Faye, sedert 2024

Senegal is 'n republiek met 'n kragtige presidensie; die president is vroeër elke sewe jaar verkies – in 2001 aangepas tot elke vyf jaar – deur universele volwasse stemreg. Die huidige president en staatshoof is Bassirou Diomaye Faye.

Senegal het ook 80 politieke partye wat bydra tot die ontwikkeling van die land deur suksesvolle oorgang na demokrasie. Die eenkamer-parlement bestaan uit die nasionale vergadering met 150 lede wat afsonderlik van die president verkies word. Tussen 1999 en 2001 en weer vanaf 2007 tot 2012 het Senegal ook oor 'n senaat beskik, maar op 19 September 2012 het die wetgewers besluit om die Senegalese senaat af te skaf ten doeleinde om $15 miljoen te bespaar.[22] 'n Enkelhuiswetgewer en 'n regverdige en onafhanklike regbank bestaan ook in Senegal. Die land se hoogste howe wat met sake-aangeleenthede handel is die grondwetlike raad en die geregshof waarvan die lede deur die president benoem word.

Senegal het 'n reputasie vir deursigtigheid in regeringsoptrede. Die vlak van ekonomiese korrupsie wat die ontwikkeling van die ekonomieë in ander dele van die wêreld benadeel het is laag. Vandag het Senegal 'n demokratiese politieke kultuur gebou op een van die mees suksesvolle demokratiese oorgange in Afrika. Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies. Volgens Transparency International se ranglys van korrupsie kon Senegal sy posisie as een van min Afrikalande sedert 2012 verbeter en word nou op dieselfde vlak as Hongarye en Belarus geplaas.[23] In 2008 is Senegal op die 12de plek binne die Ibrahim Indeks van Afrika-regering geplaas. Toe die Noord-Afrikaanse lande in 2009 by die Indeks ingesluit is, het Senegal se posisie in 2008 effens versleg tot die 15de plek (met Tunisië, Egipte en Marokko wat hoër geranglys is). In 2012 het Senegal se plek in die Ibrahim Indeks van Afrika-regering om een punt op die 16de van 52 Afrikalande plek versleg. Volgens die 2018-indeks vir 2017 het Senegal op die 10de plek geëindig.[24]

Buitelandse betrekkinge

Senegal se Ministerie van Buitelandse Sake in Dakar

Senegal geniet 'n hoë reputasie in baie internasionale organisasies en was tweemaal 'n niepermanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, in 1988–1989 en 2015–2016. Dit is verkies tot die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie in 1997. Senegal beskik oor goeie verhoudinge met Westerse lande, veral Frankryk en die Verenigde State, en dié land is ook 'n kragtige voorstander daarvan dat ontwikkelde lande die Derde Wêreld meer sal ondersteun.

Senegal is deel van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS). Daarbenewens is Senegal ook 'n lid van die Afrika-unie (AU) en die Gemeenskap van Sahel-Sahara-state, en vervolgens geïntegreer in die hoofliggame van die internasionale gemeenskap.

Ekonomie

Straatverkopers in Senegal

Senegal se ekonomie steun veral op mynbou, konstruksie, toerisme, vissery en landbou wat die vernaamste bronne van inkomste vorm. In 2017 het die ekonomie met omtrent 7% tenoor 2016 gegroei. Van die belangrikste handelsvennote vir uitvoer (2017-syfers) sluit in Mali (14,8%), Switserland (11,4%), Indië (6%), Ivoorkus (5,3%), Verenigde Arabiese Emirate (5,1%), Gambië (4,2%) en Spanje (4,1%). Vennote vir invoer is Frankryk (16,3%), Volksrepubliek China (10,4%), Nigerië (8%), Indië (7,2%), Nederland (4,8%) en Spanje (4,2%).[2]

Senegal het in 2017 goedere ter waarde van $2,362 miljard uitgevoer – in vergelyking met 2016 se $2,498 miljard. Die vernaamste uitvoere sluit in vis, grondboontjies, ruolieprodukte, fosfate en katoen. In dieselfde jaar het Senegal goedere ter waarde van $5,217 miljard ingevoer, tenoor 2016 se $4,966 miljard. Die belangrikste invoere is kos en drank, kapitaalgoedere en brandstowwe.[2]

In Januarie 1994 onderneem Senegal 'n moedige en ambisieuse ekonomiese hervormingsprogram met die ondersteuning van die internasionale donateur gemeenskap. Die hervormings neem 'n aanvang met 'n 50 persent devaluasie van Senegal se geldeenheid, die CFA-frank, wat teen 'n vaste koers met die voormalige Franse franc en tans die euro gekoppel is. Regeringsprysbeheer en subsidies word stelselmatig afgetakel. Nadat die land se ekonomie in 1993 met 2,1 persent gekrimp het, voer Senegal 'n belangrike ommekeer uit, danksy die hervormingsprogram, met reële groei in BBP van gemiddeld vyf persent per jaar in die periode 1995–2001. Jaarlikse inflasie is verminder na onder een persent, maar styg weer na 'n geskatte 3,3 persent in 2001. Beleggings styg stewig van 13,8 persent van BBP in 1993 tot 16,5 persent in 1997.

As 'n lid van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS) werk Senegal vir groter streeksintegrasie met gelykvormige eksterne tariewe. Senegal het ook reeds teen 1996 volle Internetverbinding bewerkstellig en daardeur 'n miniopbloei in inligtingstegnologie-gebaseerde dienste bewerkstellig. Privaat aktiwiteit bedra nou 82% van BBP. Aan die negatiewe kant staar Senegal die ernstige stedelike probleme in die gesig van kroniese werkloosheid, strydlustige vakunies, jeugmisdaad en dwelmverslawing.[25]

Demografie

Senegal se bevolkingsgroei (1961–2003)
Kerk in Popenguine

Senegal het 'n bevolking van sowat 18 miljoen, waarvan ongeveer 70% in landelike gebiede bly. Digtheid in die gebiede wissel tussen omtrent 77 km² in die wes-sentrale gebied tot 2 km² in die droë oostelike deel.

Etnisiteit

Die Wolof is die grootste enkele groep in Senegal met 37,1%, ander etniese groepe sluit in Fula (26,2%), Serer (17%), Mandinka (5,6%), Jola (4,5%), Soninke (1,4%), naas talle kleiner gemeenskappe.[2] Omtrent 50 000 Europeërs (meestal Franse) en Libanese woon in Senegal, hoofsaaklik in die stede. Onder dié in die stede tel ook enige Han-Chinese en Viëtnamese minderhede.

Tale

Senegal het 'n wye verskeidenheid etniese groepe en gevolglik word veelvuldige tale gepraat. Frans is die amptelike taal maar slegs die geletterde minderheid gebruik dit gereeld. Van die ander tale sluit in Wolof, Fula, Jola, Mandinka, Serer en Soninke[2] wat almal in die grondwet as nasionale tale erken word.[1] In die suidooste word ook Bambara gebesig. 'n Groeiende Senegalese nasionalistiese taalbeweging het vir die erkenning van Wolof in die nasionale grondwet gepleit.[26]

Hoewel Frans die amptelike taal van Senegal vorm, word dit min in die alledaagse lewe gebruik. Die meeste etniese groepe gebruik hul eie moedertale vir kommunikasie. In die hoofstad Dakar vorm Wolof die lingua franca. Fula word deur die Fula en Toucouleur gebesig. Serer word deur beide Serer en nie-Serer gebesig. Jola-tale word veral in die Casamance-streek gebesig, waar ook Portugees voorkom, veral deur immigrante uit die aangrensende Guinee-Bissau. Arabies word min gebesig en word veral deur Moslems as 'n liturgiese taal gebruik.

Godsdiens

Senegal is volgens sy grondwet van 2001 'n sekulêre staat.[27] Vervolgens word alle kulture, gelowe en tradisies erken en gerespekteer. Islam is die oorheersende geloof, gevolg deur ongeveer 94 persent van die land se bevolking; die Christelike gemeenskap, teen vier persent van die bevolking, sluit Rooms-Katolieke en diverse Protestante kerke in. Klein godsdienstige groepe sluit in Judaïsme, Boeddhisme en Baha’i. Sommige Serer is ook aanhangers van die Serer-godsdiens.[28] Boukout is een van die Jola se godsdienstige seremonies.

Islam

Grande Mosquee de Ouakam, Senegal
Op die strand by Mbour
Mark in Dakar

Islamitiese gemeenskappe is in die algemeen georganiseer rondom een van verskeie Soefiordes of broederskappe, onder leiding van 'n khalif (xaliifa in Wolof, van Arabies khalīfah), wat gewoonlik 'n direkte nasaat is van die groep se stigter. Die grootste en mees prominente Soefiordes in Senegal is die Tijaniyya, waarvan die grootste deelgroepe gesetel is in die stede Tivaouane en Kaolack, en die Mur diyya (Murid), gesetel in die stad Touba. Die Halpulaar, 'n wydverspreide etniese groep wat al langs die Sahel van Tsjad tot Senegal aangetref word, verteenwoordigend 20 persent van die Senegalese bevolking, was die eerste om hulle tot Islam te bekeer. Die Halpulaar, saamgestel uit verskeie Fula-etniese groepe, genaamd Peul en Toucouleur in Senegal. Baie van die Toucouleurs, of gevestigde Halpulaar van die Senegalriviervallei in die noorde, het sowat 'n millennium gelede na Islam oorgeskakel en dra later by tot die verspreiding van Islam regoor Senegal. Meeste gemeenskappe suid van die Senegalrivervallei het egter nie geheel en al verislam tot die negentiende en vroeë twintigste eeue nie. Tydens die middel-negentiende eeu word Islam 'n belangrike vaandel waaronder weerstand teen die tradisionele aristokrasieë en Franse kolonialisme gevoer word, en Tij_n_ leiers Al-Hajj Umar Tall en Màbba Jaxu Ba vestig kortstondige, maar invloedryke Islamitiese state. Beide sterf egter in oorlog en hulle ryke word deur die Franse geannekseer.

Die uitbreiding van formele Koranskole (genaamd daara in Wolof) tydens die koloniale tydperk, vermeerder grootliks as gevolg van die werk wat deur die Tijaniyya gedoen is. In Murid-gemeenskappe, wat meer klem lê op die werksetiek as op letterlike Koranstudies, word die term daara gereeld toegepas op werkgroepe toegewy aan werk vir 'n godsdienstige leier. Ander Islamitiese groepe sluit die veel ouer Qadiriyya-orde en die Senegalese Laayeenorde in, wat prominent is onder die kus-Lebu. Vandag studeer meeste Senegalese kinders verskeie jare lank by daaras en memoriseer soveel van die Koran as wat hulle kan. Sommige sit hulle godsdienstige studie voort by informele Arabiese skole (majlis) of by die groeiende aantal privaat Arabiese skole en publiek befondsde Franko-Arabiese skole.

Christendom

Klein Rooms-Katolieke gemeenskappe word hoofsaaklik aangetref in kus-Serer, Diola en Balant-bevolkings, en in oosterse Senegal onder die Bassari en Coniagui. In Dakar word Katolieke en Protestantse gebruike ook gehoorsaam deur 'n gedeelte van die Libanese, Kaap Verdiese, Europese en Amerikaanse immigrante bevolkings, en onder sekere van die inwoners van elders in Afrika. Alhoewel Islam Senegal se meerderheid godsdiens is, was Senegal se eerste president, Léopold Sédar Senghor, 'n Katolieke Serer.

Kuns en kultuur

Senegalese griot-musici, 1890

Senegal is veral bekend vir die Wes-Afrikaanse tradisie van vertelkuns deur griot (Frans: [ɡʁi.o]), wat die Wes-Afrikaanse geskiedenis oor eeue heen met woorde en musiek lewendig gehou het. Die griot-werk word van geslag tot geslag oorgedra en vereis jare se opleiding en vakleerlingskap in genealogie, geskiedenis en musiek. Griots hou generasies van die Wes-Afrikaanse samelewing se ou verhale lewendig.[29]

Gasvryheid word as 'n baie belangrike deel van die Senegalese kultuur geag en algemeen beskou as deel van die nasionale identiteit. Teranga is die Wolof-woord vir "gasvryheid".[29]

Ousmane Sembène, die Senegalese skrywer en rolprentregisseur, word beskou as die "vader van die Afrikafilm". Ander vername skrywers sluit in Nafissatou Dia Diouf, Khady Hane en Khady Sylla.

Die "Afrika Renaissance-monument" is tussen 2006 en 2010 in Dakar opgerig en is tans die grootste standbeeld in Afrika. Die filmfees Recidak word jaarliks in Dakar gehou.[30]

Kookkuns

Senegal se nasionale gereg: Poulet yassa

Weens Senegal se kus langs die Atlantiese Oseaan is vis baie belangrik. Hoender, skaap, ertjies, eiers en bees word ook in die Senegalese kookkuns gebruik, maar nie vark nie as gevolg van die land se groot Moslembevolking. Grondboontjies, Senegal se vernaamste oes, asook koeskoes, witrys, patatss, lensies, swartoogertjies en verskeie groentes word ook in baie resepte gebruik. Vleis en groente word tipies in kruie en speserye gestoof of gemarineer, en dan met rys of koeskoes bedien of met brood genuttig.

Gewilde vars sappe word van hibiskus, gemmer, buy (uitspraak 'buoy', die vrug van die Afrika-kremetartboom, ook bekend as "kalbasboom"), veselperske, of ander vrugte of wilde bome (waarvan die bekendste suursak, wat in Frans corossol genoem word). Nageregte is baie ryk en soet en kombineer inheemse bestanddele met die uitspattigheid en stylkenmerke van die Franse invloed op die Senegalese eetgewoontes. Hulle word dikwels met vars vrugte bedien en dikwels deur koffie of tee gevolg.

Musiek

Twee Senegalese Sabar-dromme

Senegal is dwarsdeur Afrika vir sy musikale erfenis bekend, as gevolg van die gewildheid van mbalax, met sy oorsprong in die Serer se perkussietradisies, veral die Njuup; dit het gewildheid verwerf deur Youssou N'Dour, Omar Pene en ander kunstenaars. Sabar-dromme is veral gewild. Die sabar word dikwels by spesiale geleenthede soos huwelike gebruik. 'n Ander instrument, die tama, word deur ander etniese groepe gebruik. Van die ander wêreldwyd bekende Senegalese musici sluit in Ismael Lô, Cheikh Lô, Orchestra Baobab, Baaba Maal, Akon, Thione Seck, Viviane, Titi en Pape Diouf.

Sport

Senegalese stoei: Afrika-stoei wêreldtoer in Parys Bercy, Mame Balla teen Pape Mor Lô in Junie 2013
Senegalese sokkerondersteuners tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 in Rusland

Die meeste sportsoorte is deur die Franse na Senegal gebring, terwyl dié land ook oor 'n inheemse gewilde sport beskik. Sokker en stoei is die twee gewildste sportsoorte van Senegal, gevolg deur basketbal. In 2022 sou Dakar die Olimpiese Jeugspele huisves, die eerste Olimpiese Spele in Afrika.[31][32] Dit is egter weens die werêldwye Covid-19-pandemie na 2026 uitgestel.[33] Tussen 1979 en 2007 het die Dakar-tydren in Dakar geëindig, nadat dit in Parys begin het. Maar weens sekuriteitsbekommernisse in Mauritanië is die wedren in 2008 gekanselleer en in 2009 na Suid-Amerika verskuif.[34]

Stoei is Senegal se mees gewilde sport[35] en het 'n nasionale obsessie geword.[36] Dit dien jong mans dikwels om armoede te ontsnap en is die enigste sport wat onafhanklik van die Westerse kultuur ontwikkel het.

Sokker is een van die suksesvolste sportsoorte in Senegal. 2002 was voorheen die suksesvolste jaar, nadat die Senegalese nasionale sokkerspan as naaswenner by die Afrikanasiesbeker in Mali en by die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 in Japan en Suid-Korea die verdedigende kampioen Frankryk geklop en eindelik die kwarteindrondte gehaal het. Die Senegalese nasionale sokkerspan staan bekend as die "leeus van Teranga" (Les Lions de la Téranga) en word tans deur die voormalige Senegalese sokkerspeler Aliou Cissé afgerig. Bekende Senegalese sokkerspelers sluit in El Hadji Diouf, Khalilou Fadiga, Henri Camara, Papa Bouba Diop, Salif Diao, Ferdinand Coly en Sadio Mané, wat almal by klubs in Europa speel. Senegal het ook vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 in Rusland gekwalifiseer en saam met Japan, Colombia en Pole wedstryde in Groep H beslis. Tydens die 2019-Afrikanasiesbeker in Egipte het Senegal vir 'n tweede keer die eindstryd bereik, maar hulle is deur Algerië met 0–1 geklop. In 2022 het Senegal vir die eerste keer die Afrikanasiesbeker gewen, nadat hulle Egipte in die eindstryd verslaan het.[37] Later dieselfde jaar het hulle tydens die 22ste Sokker-Wêreldbekertoernooi in Katar in Groep A teen Nederland, die gasheer en Ecuador te staan gekom en die agtste eindrondte gehaal.

In basketbal is Senegal een van Afrika se suksesvolste lande en die mans se nasionale span kon in 2014 die uitspeelwedstryde bereik, die eerste Afrikaspan wat daarin kon slag. In 2016 het die NBA die bekendstelling van 'n Elite-akademie in Afrika, meer presies in Senegal, aangekondig.[38]

Verwysings

  1. (en) "Senegal's Constitution of 2001 with Amendments through 2016" (PDF). Constitute Project. Besoek op 4 April 2024.
  2. (en) "Senegal". Central Intelligence Agency. Besoek op 4 April 2024.
  3. (en) "Senegal". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 4 April 2024.
  4. (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 4 April 2024.
  5. (en) "Gini index – Senegal". Wêreldbank. Besoek op 4 April 2024.
  6. (en) "Unravelling the mystery of Akon's Wakanda". BBC. 23 Junie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Desember 2019. Besoek op 30 Januarie 2019.
  7. (en) Janet H. Gritzner, Charles F. Gritzner – 2009, Senegal – bl. 8
  8. (en) "Senegal". Encyclopædia Britannica. Besoek op 4 April 2024.
  9. (en) Beetle Holloway (31 Mei 2018). "The Real Story Behind Senegal's Name". Culture Trip. Besoek op 4 April 2024.
  10. (en) "Uppsala Conflict Data Program: Senegal: Casamance, In-depth Developments since 2005" Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine, Conflict Encyclopedia
  11. (en) Thomas Fessy (26 Maart 2012). "Senegal proud of peaceful election after Macky Sall win". BBC. Besoek op 4 April 2024.
  12. (en) "Senegal election: President Macky Sall wins second term". BBC. 28 Februarie 2019. Besoek op 4 April 2024.
  13. (en) Elian Peltier (12 Junie 2023). "'The State Killed My Brother': Senegal in Uproar After Deadly Protests". The New York Times. Besoek op 4 April 2024.
  14. (en) "Bassirou Diomaye Faye sworn in as Senegal's new president". France 24. 2 April 2024. Besoek op 4 April 2024.
  15. (en) "Senegal President Faye names opposition leader Ousmane Sonko as prime minister". France 24. 3 April 2024. Besoek op 4 April 2024.
  16. (en) "Dakar, Senegal Climate Information – ClimateTemp.info, Making Sense of Average Monthly Weather & Temperature Data with Detailed Climate Graphs That Portray Average Rainfall & Sunshine Hours". ClimaTemps.com. 22 Julie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 September 2019. Besoek op 29 Maart 2012.
  17. (en) "Weather rainfall and temperature data". World Climate. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020.
  18. (en) Statoids page on Senegal (let wel dat op 10 September 2008 drie nuwe streke gestig is).
  19. (en) List of current local elected officials Geargiveer 19 Augustus 2007 op Wayback Machine van Union des Associations d' Elus Locaux (UAEL) du Sénégal.
  20. (fr) Code des collectivités locales Geargiveer 11 Mei 2011 op Wayback Machine, Loi n° 96-06 du 22 mars 1996.
  21. (en) Senegal Geargiveer 19 April 2015 op Wayback Machine op GeoHive.
  22. (en) "SENEGAL VOTES TO DO AWAY WITH SENATE TO SAVE MONEY". Associated Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Februarie 2013. Besoek op 20 September 2012.
  23. (en) "2017 Korrupsie-persepsie-index". Transparency International. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 30 Januarie 2019.
  24. (en) "2017 Ibrahim Indeks van Afrika-regering" (PDF). Ibrahim Index of African Governanc. Besoek op 30 Januarie 2019.
  25. (en) "Economy of Senegal". www.chinadaily.com.cn. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 November 2018. Besoek op 30 Januarie 2019.
  26. (fr) Pierre Cherruau (19 Augustus 2012). "Le Sénégal est-il encore un pays francophone?". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2019. Besoek op 30 Januarie 2019.
  27. (en) "Constitution of Senegal (Article 1)" (PDF). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 4 Augustus 2015.
  28. (en) Conklin, Alice L. A Mission to Civilize: The Republican Idea of Empire in France and West Africa, 1895–1930. Stanford University Press, 1997. ISBN 0-8047-2999-9. bl. 27.
  29. (en) Eric S. Ross, Culture and Customs of Senegal, Greenwood Press, Westport, CT, 2008 ISBN 0-313-34036-6
  30. (fr) Baba Diop. "Après dix années d'interruption : Les RECIDAK nouvelles arrivent en 2014". Africatime. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 November 2016. Besoek op 30 November 2016.
  31. (en) "Senegal to be 1st African Olympic host at 2022 Youth Games". Washington Post. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2018. Besoek op 30 Januarie 2019.
  32. (en) "Senegal first African nation to host an Olympic event". www.aljazeera.com. 7 September 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Desember 2019. Besoek op 30 Januarie 2019.
  33. (en) "Senegal and the IOC agree to postpone the Youth Olympic Games Dakar 2022 to 2026 – Olympic News". Internasionale Olimpiese Komitee. 15 Julie 2022. Besoek op 16 Julie 2020.
  34. (en) Hamilos, Paul (5 Januarie 2008). "Dakar rally cancelled at last minute over terrorist threat". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2019. Besoek op 30 Januarie 2019.
  35. (en) "Sports in Africa: Communication and Media". Ohio University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2019. Besoek op 3 April 2015.
  36. (en) Skelton, Rose; Werman, Marco (9 Junie 2011). "Wrestling As a Solution to Poverty in Senegal". PRI. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2019. Besoek op 3 April 2015.
  37. (en) "Afcon 2021: Sadio Mane describes Senegal victory as 'the best day and best trophy' of his life". BBC. 6 Februarie 2022. Besoek op 4 April 2024.
  38. (en) "NBA to open academy in Africa in 2017 – NBA.com". www.nba.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 30 Januarie 2019.

Bronnelys

Algemeen

Eksterne skakels

Regering

Nuus

Oorsigte

Gidse

Musiek

Toerisme

Ander

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.