Sekwent (musikale vorm)
'n Sekwent ( Latyn: sequentia; meervoud: sequentiae ) is 'n gesang of lofsang wat tydens die liturgiese viering van die Heilige Sakrament van die Altaar (Eucharistie) in baie Christelike denominasies gesing of voorgedra word voordat die Evangelie voorgelees word. Teen die tyd van die Konsillie van Trent (1543–1563) was daar reeds sekwente vir baie feeste van die kerklike jaar.
Die sekwent is nog altyd gesing voordat die Evangelie voorgelees word.[1] Die 2002-uitgawe van die algemene instruksies van die Roomse misboek het dié volgorde egter omgekeer en die sekwent nou voor die Alleluia geplaas.
Dié gelyksangvorm het ook tot 'n genre van Latynse poësie in 'n nieklassieke metrum aanleiding gegee, dikwels volgens 'n heilige Christelike onderwerp, wat ook sekwente genoem word.
Die Latynse sekwent in letterkunde en liturgie
Die Latynse sekwent het as artistieke vorm sy oorsprong in vroeë Christelike gesange soos die Vexilla Regis van Venantius Fortunatus. Venantius het die klassieke metrums – wat op die aantal lettergrepe gebaseer is – aangepas volgens 'n aksentmetrum wat beter geskik was vir sang tydens Christelike aanbiddingsdienste. In die negende eeu het Hrabanus Maurus ook van klassieke metrums afstand gedoen om Christelike lofsange soos Veni Creator Spiritus te komponeer.
Die naam sequentia word egter aan hierdie liedere toegeken danksy die werke van Notker Balbulus, wat dié genre in die negende eeu gewild gemaak het deur 'n versameling sekwente (sequentiae) in sy Liber Hymnorum te publiseer. Aangesien vroeë sekwente volgens ritmiese prosa geskryf is, word hulle ook prosae (prosawerke) genoem.
Die tekste van Notker was bedoel om gesing te word. In die Latynse mis van die Middeleeue het dit gebruiklik geword om die laaste lettergreep van die Alleluia te verleng, terwyl die diaken van die altaar na die preekstoel gegaan het om die Evangelie deur sang of gelyksang voor te lees. Dié verlengde melisma het as gevolg van die jubelende toon daarvan as die jubilus, jubilatio of laudes bekend gestaan. Dit is ook sequentia (sekwent) genoem, omdat dit die Alleluia gevolg het (Latyn: sequi). Notker het woorde op hierdie melisma in ritmiese prosa getoonset om as 'n troop gesing te word. Die naam sekwent is dus op hierdie tekste toegepas; en later ook op gesange wat rym en aksentmetrum bevat. 'n Versameling sekwente word 'n sequentiale genoem.
'n Bekende sekwent wat in die Middeleeue verkeerdelik aan Notker toegeskryf is, is die prosateks Media vita in morte sumus ("Te midde van die lewe is ons in die dood"), wat deur Cranmer vertaal is en as deel van die begrafnisdiens in die begrafnisrites van die Anglikaanse Book of Common Prayer opgeneem is. Ander bekende sekwente sluit in die negende-eeuse swaansekwent, Tommaso da Celano se Dies irae, Thomas van Aquino se Pange lingua tot lof van die Eucharistie, die anonieme Middeleeuse lofsang Ave, maris stella ("Wees gegroet, ster van die see") en die Stabat mater deur Jacopone da Todi. Gedurende die Middeleeue is sowel sekulêre as semi-sekulêre sekwente geskryf, soos Peter van Blois se Olim sudor Herculis [2] ("Die werke van Hercules"). Trouens, die goliarde, 'n groep Latynse digters wat meestal satiriese verse geskryf het, het dié vorm op groot skaal gebruik. Die Carmina burana is ook 'n versameling van soortgelyke sekwente.
Verskeie sekwente afgeskaf
In die misboek van Pous Pius V (1570) is die aantal sekwente vir die hele Roomse rite tot vier verminder: Victimae paschali laudes vir die Pase (11de eeu); Veni, Sancte Spiritus vir Pinkster (12de eeu); Lauda Sion salvatorem vir Corpus Christi (ongeveer 1264); en die Dies irae (13de eeu) vir Allersiele en in requiemmisse. In 1727 is die 13de-eeuse Stabat mater by hierdie lys gevoeg.[3] In 1970 is die Dies irae uit die requiemmis van die hersiene, nuwe Roomse misboek weggelaat, en na die Liturgie van die Ure in die week voor die begin van Advent geskuif om ad libitum gesing te word.[4] Die Kersfeessekwent Laetabundus, wat nie in die Roomse mis voorkom nie, word wel in die Dominikaanse mis aangetref. Hierdie sekwent word wel vir die Derde Mis van Kersfees, die Epifanie en die Fees van die Voorstelling van onse Here Jesus toegelaat. Die derde uitgawe van die Roomse misboek, wat in 2010 in die Verenigde State in gebruik geneem is, lui dat dié volgorde opsioneel is, behalwe op Paassondag en Pinksterdag, en dat dit voor die Alleluia gesing moet word.
Die sekwent as musiekgenre
Sekwente word onderskei deur 'n struktuur wat deur koeplette in vorme van AABBCC ... en ABBCCDD...Z gedomineer word. Hoewel dit algemeen aanvaar word dat sekwente in 'n vroeë, middel- en laat periode val, word die geskiedenis van die ontwikkeling van dié genre beter verduidelik as lae wat ontvou en oorvleuel. In die vroeë periode het sekwente soos dié van Notker gereeld enkellyne bevat wat nie deel van 'n koeplet gevorm het nie. Dié enkelreëls verskyn meestal aan die begin of einde van die sekwent, maar kon ook in die middel voorkom. Sekwente uit die middelperiode, wat rondom die 11de eeu begin, soos die sekwent vir die mis op Paasdag, Victimae paschali laudes, is minder geneig om enkellyne buite die koeplette te bevat, en dis meer waarskynlik dat dié koeplette rym. Teen die 12de eeu het latere sekwente, soos die reeks vir Pinkster, Veni, Sancte Spiritus, toenemende reëlmatigheid van struktuur getoon, met rymende koeplette van begin tot einde.
Middeleeuse sekwente bestaan gewoonlik uit modale melodieë. Alhoewel dit hoofsaaklik sillabies van aard is, kan sekwente soms kort neumatiese oomblikke hê, maar dit bevat byna nooit melismas nie. Die twee verse van elke koeplet word volgens dieselfde melodielyn gesing, wat gewoonlik op 'n stabiliserende toonhoogte eindig. Verskeidenheid word geskep deur koeplette van verskillende lengtes en musikale boë te gebruik. Hoewel sekwente sowel vokaal as monofonies is, neig sekere sekwenttekste na 'n moontlike vokale harmonisering in organum of instrumentale begeleiding.
Sekwente is minder gereeld gekomponeer nadat Middeleeuse Latyn deur Humanistiese Latyn as die voorkeur- literêre styl in Latyn vervang is. Nuwe sekwente is steeds in Latyn gekomponeer; een van die bekendste latere sekwente is die Kersfeeslied Adeste Fideles, wat in Afrikaans as "Kom, alle getroues" bekend staan.
Verwysings
- To be precise, the sequence came between the second and third sections of the "alleluia." See Rubricæ Generales Missalis Romani (1960) n.470, Retrieved 14 June 2006.
- The Later Cambridge Songs: An English Song Collection of the Twelfth Century, edited by John E. Stevens, see p. 107
- "Stabat Mater", The Catholic Encyclopedia (1917), Retrieved 14 June 2006.
- Liturgia Horarum IV, (Libreria Editrice Vaticana, 2000), p.489.
Bronne
- Hoppin, Richard (1978). Medieval Music. W. W. Norton & Company. ISBN 978-0-393-09090-1
- Crocker, Richard (1977). The Early Medieval Sequence. University of California Press. ISBN 978-0-520-02847-0