Satanisme

Die term Satanisme is sedert die laat Middeleeue gebruik om na 'n aantal verskillende geloofstelsels binne verskeie kontekste te verwys. Aanhangers van Satanisme - of buitestaanders wat beweer dat hulle 'n beskrywing sou gee van Satanisme - het steeds 'n groot verskeidenheid geloofsoortuigings aan Satanisme toegeskryf, wat van die letterlike aanbidding van 'n kwaadwillige geestelike wese (teïstiese Satanisme) of ondermynende praktyke en rituele, waarin Christelike simbole bespot word (veral die sogenaamde Swart Mis) tot by die beweerde herontdekking van 'n antieke, misverstane religie gestrek het soos byvoorbeeld Setianisme, wat Satan aan die Egiptiese god Set gelykgestel het.

Hierdie artikel behandel Religieuse Satanisme, 'n vreedsame ateïstiese beweging. Vir die fenomeen van okkultisme en pseudosatanisme onder jongmense, sien die artikel Satanistiese jeugkultuur.

Beweerde vlag van satanisme.

Religieuse en
LaVeyaanse satanisme

Organisasies wat met satanisme verbind word
Kerk van Satan
Eerste Satanistiese Kerk

Bekende figure
Anton LaVey | Blanche Barton | Peter H. Gilmore | Peggy Nadramia | Karla LaVey

Verwante konsepte
Die Pad van die Linkerhand | Pentagonale Revisionisme | Suitheisme | Oorlewing van die Sterkste | Objektivisme | Might Is Right

Boeke en publikasies
The Satanic Bible | The Satanic Rituals | The Satanic Witch | The Devil's Notebook | Satan Speaks! | The Black Flame | The Church of Satan | The Secret Life of a Satanist | The Satanic Scriptures

Eers met die Verligting van die 18de eeu het vername digters en denkers gestalte gegee aan die moderne Satanisme as 'n nuwe filosofiese rigting met 'n menslike gesig.[1] Dit was 'n sinnebeeld vir die moderne mens se bevryding van onnatuurlike Christelik-kerklike leerstellings en dwange.

Die belangrikste huidige betekenis verwys egter na die religieuse stroming, wat in sy moderne vorm in die Verenigde State onder meer met die stigting van die Kerk van Satan ontstaan het en in wese óf 'n ateïstiese filosofie verteenwoordig, wat die morele waardes van teïstiese godsdienste soos die Christendom bespot en dit verwerp as onnatuurlik en huigelary en 'n selfbewuste lewenstyl volgens die natuurlike instinkte van die mens bepleit; óf teïstiese of politeïstiese strominge wat die klemtoon op 'n spirituele geloofservaring lê.

Religieuse Satanisme moenie verwar word met die sogenaamde Patologiese Satanisme of die Satanisme van die huidige jeugkultuur nie. Terwyl Religieuse Sataniste as vreedsame ateïste of nihiliste beskou moet word, spruit misdade wat in die media as "Satanisties" beskryf word, dikwels voort uit die sosiopatiese neigings en psigiese versteurings van sekere enkelinge en groeperings wat beweerde Sataniese simbole misbruik vir hul sadistiese geweldpleging.

Die Satanistiese jeugkultuur word gekenmerk deur sy verregaande kommersialisering en heg meer waarde aan bepaalde uiterlikhede as aan religieus-spirituele ervaringe. Jeugdiges probeer gewoonlik net uitvind of daar werklik 'n bose mag bestaan wat met bepaalde rituele aangeroep kan word.

Religieuse en filosofiese Satanisme en die vergoddeliking van die mens

Die meeste Satanistiese ideologieë berus nie op die aanbidding of aanroeping van die Duiwel, Satan, Lucifer of demone nie, maar gebruik hierdie figure as simbole vir hulle weerstand teen religieuse dogmas. Hulle bevorder eerder die individualiteit van die mens en die uitlewing van sy natuurlike instinkte, onder meer sy seksualiteit. Die natuurlike instinkte bepaal dan ook die morele waardes in die Satanistiese filosofie.

Lord Byron (1788-1824)

In teenstelling met byvoorbeeld die Christendom en die Islam, wat deur Sataniste by die sogenaamde "Pad van die Regterhand" gereken word en waar gelowiges bepaalde religieuse wette "eerbiedig", is die "Pad van die Linkerhand" aan die vergoddeliking van die mens gewy en beskou die bewussyn van die eie bestaan as 'n besonderse geskenk en as 'n kans vir die ontwikkeling van die menslike potensiaal.

In sy religieuse betekenis, wat uit die 18de eeu dateer, verwys die term Satanisme veral na die apoteose of vergoddeliking van die mens deur Satan en is vir die eerste keer deur Robert Southey as 'n trefwoord gebruik, waarmee hy sy teenstander Lord Byron probeer diskrediteer het. Lord Byron se drama Cain (1821) word as die eerste Satanistiese werk van die wêreldliteratuur beskou.

In sy werk Paradise Lost het John Milton reeds in 1667 Satan as 'n wesen beskryf wat die mens graag bewus wil maak van sy potensiaal om self kennis en goddelikheid te verwerf. 'n Latere verskynsel was die sogenaamde Hellfire Clubs, anti-Christelike verenigings in 18de eeuse Groot-Brittanje.

Die belangrikste motief van religieuse Satanisme - die vergoddeliking van die mens (Deus est homo) het sy oorsprong in die antieke Gnostiese slangkulte ("Ofiete"). 'n Verwysing na hierdie stromings is Génesis 3,5: "...julle oë sal opgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken".

Vandag bestaan talle onafhanklike Sataniese groepe of "kerke" wêreldwyd, waarvan die drie grootstes die Kerk van Satan, die Tempel van Set en die Kerk van Sataniese Vrywording ("Church of Satanic Liberation") is. Omdat hierdie groepe nie hul ledesyfers bekend maak nie en kleiner groepe nie deur 'n sentrale struktuur beheer word nie, is dit moeilik om te bepaal presies hoeveel mense deelneem aan georganiseerde Satanisme. Volgens skattings is dit enkele duisend, maar nuwe media soos die internet bied vir baie belangstellendes die moontlikheid om meer inligting oor Religieuse Satanisme te kry.

Etimologie en oorsprong

Die term Satanisme het tenminste in etimologiese opsig sy oorsprong in die gedagtewêreld van die Ooste, wat deur die leerstelling van 'n dualistiese wêreld, waarin die stryd tussen goed en kwaad 'n belangrike rol speel, gekenmerk word. Een van die oudste dualistiese religies is die Zoroastrisme, 'n geloofstelsel, wat die stryd tussen die skeppergod Ahoera Mazda en Ahriman sentraal staan. Gnostiese stromings soos die Middeleeuse Kathaarse Christene het hierdie dualisme oorgeneem.

Satan in die Joodse godsdiens

"Satan" (Hebreeus שטן) beteken letterlik "teenstander", en in die boek Job vervul hy die funksie van 'n soort prokureur-generaal. Satan kan dus wél 'n positiewe rol speel, wat in teologiese opsig steeds ondergeskik bly - hy tree slegs in opdrag van God op. In die Joodse religie is hy die aanklaer by God se regterstoel.

'n Polariserende beskouing van die wêreld as die plek, waar die stryd tussen goed en kwaad sou plaasvind, het sy oorsprong in Persiese en Babiloniese tradisies, wat die Joodse kultuur later beïnvloed het. Satan of "die duiwel" speel egter net 'n baie klein rol in die Joodse godsdiens, en hy kom nouliks in die Ou Testament van die Bybel voor.

Eers in later Joodse mitologieë soos die apokriewe Etiopiese Boek Enog, wat waarskynlik in die 1ste eeu v.C. ontstaan het, word Satan as 'n hooggeplaaste engel beskryf, wat as aanvoerder van 'n engel-rebellie uit die hemel gewerp is en in ballingskap op die aarde moet leef. Hierdie mites het veral in die Christelike godsdiens posgevat.

Christelike beskrywings

In die Christelike godsdiens word die primitiewer laat-Joodse beskouings oorgeneem en Satan gevolglik as die teenstander van God beskryf. Die beweerde belaglikheid van baie Christelike leerstellings en morele waardes is later deur 'n teenbeweging gekritiseer, waarin God deur Satan vervang is en Christelike simbole dikwels in 'n ander betekenis gebruik word. Hierdie beweging is egter minder konsekwent as byvoorbeeld suiwer ateïstiese stromings, en dit maak nog steeds deel uit van die Christelike kultuur.

Die huidige sienswyse

Danksy moderne navorsing en kritiese ondersoek van historiese tekste word Satan as 'n religieuse figuur in die Westerse wêreld steeds meer gedemitologiseer. Die ontwikkeling van Satan in die Joodse wêreld van 'n aanklaer na 'n spirituele wese, wat God se gesag probeer ondermyn, gaan volgens sommige deskundiges gepaard met die demonisering van opponerende groepe, aan wie dikwels kwaadwillige gedrag en doeleindes veronderstel is.

Die Joodse sekte van die Essene het al eeue voor Christus se geboorte begin om ander Joodse sekte, wat met hulle dogmas nie eens was nie, as "donker magte" te beskryf, terwyl hulle hulself as die "seuns van die lig" beskou het. Die vroeë Christene het hierdie benadering vinnig oorgeneem en byvoorbeeld Jode, wat Christus nie as die verlosser erken het nie, en later ook nie-Christene net soos Christelike groeperings met afwykende leerstellings as "kwaadwilliges" beskryf en hulle uitroeiing bepleit.

Middeleeuse duiwelsaanbidding

Die konsep van "duiwelsaanbidding" het in die Middeleeue baie aandag in Europa gekry.

Middeleeuse of Gotiese Satanisme sou neergekom het op die aanbidding of verering van die duiwel (soos gedefinieer deur die Christendom) deur die gebruik van baie ou heidense praktyke of die "ontheiliging" van die Rooms-Katolieke Kerk se rituele. Dit het na bewering rituele ingesluit soos menslike offers, die breek van kruise, die uitspreek van vloeke, die Swart Mis (Swart Nagmaal) en om 'n mens se siel aan die duiwel te "verkoop" in ruil vir hulp.

Daar is egter hoegenaamd geen historiese bewyse dat daar ooit 'n soort duiwelsaanbidding plaasgevind het nie. Beskrywings van duiwelaanbidding was steeds die fantasieproduk van Christelike skrywers, wat veral in die stryd teen nie-Christelike religies en praktyke en byvoorbeeld tydens periodes van misoeste gebruik is, wanneer mense op soek was na "skuldiges".

As gevolg van bygeloof en haatspraak is letterlik duisende "duiwelsaanbidders" of hekse doodgemaak, hoofsaaklik deur hulle lewend te verbrand.

Satan in die popkultuur

Die pentakel of pentagram, 'n vyfpuntige ster wat na benede wys, word dikwels as simbool vir Satanisme gebruik

In baie Westerse lande het daar aan die einde van die twintigste eeu 'n beweging ontwikkel, wat beweerde "duiwelse" simbole en estetiek inspan. Hierdie verskynsel is amper meer 'n modegier of vorm van rebellie teen die bestaande Judaïsties-Christelike norme en waardes van die samelewing. Omdat veral jongmense hierby betrokke raak, word dit ook "Adolessente Satanisme" genoem, en gaan dit dikwels gepaard met die dra van sataniese simbole as juweliersware, tatoeëermerke, swart of donker klere en spesifieke soorte musiek (dit is belangrik om daarop te let dat alle jongmense wat hierdie soort voorkoms as modegier navolg, nie noodwendig by enige vorm van duiwelaanbidding betrokke is nie).

Hierdie vorm van Satanisme word ook soms "dabbling" genoem omdat jongmense daarmee eksperimenteer uit nuuskierigheid of onder groepsdruk. Hoewel betrokkenes by Adolessente Satanisme hulself nie noodwendig as Sataniste beskou nie, word daar ook met sataniese rituele (wat dwelmmisbruik kan insluit) geëksperimenteer en is dit dikwels die eerste stap tot 'n verbintenis tot teïstiese Satanisme.

Leerstellings van anti-Christelike groeperings buite die hoofstroom van Religieuse Satanisme

Wanneer die meeste mense aan die Satanisme dink, kom beelde van demone, diere- en menslike offers en bisarre seksuele praktyke dikwels by hulle op. Dat sommige groepe, wat hulle kulturele oorsprong in die Christelike wêreld het, by sulke aktiwiteite betrokke is, kan nie betwyfel word nie. Aanhangers van die Religieuse Satanisme beklemtoon egter dat hulle "alle lewe respekteer" en slegs die bestaande status quo (stand van sake) en "trop-mentaliteit" van die samelewing teenstaan.

Basiese beginsels, waarin verskillende groeperings glo:

  • Satan word erken en vereer as 'n godheid of argetipe.
  • Elke mens is sy eie verlosser en ten volle verantwoordelik vir sy of haar eie lewe.
  • 'n Mens moet jou sinlike luste en begeertes vervul en veral die "sewe dodelike sondes" (hoogmoed, woede, jaloesie, onreinheid, vraatsug, luiheid en hebsug) van die Christendom beproef.
  • Die klem word gelê op die mag en outoriteit van die individuele Satanis, eerder as op 'n god of godin.
  • Sataniste wat glo dat Satan 'n lewende wese of godheid is, aanbid en volg hom nie soos Christene God byvoorbeeld aanbid nie.
  • Uniekheid en kreatiwiteit word aangemoedig.
  • Talle Satanistiese praktyke, rituele, gedragsreëls en oortuiginge is in direkte konflik met tradisionele Christenskap, maar Sataniste beskou hul geloof nie as die teenoorgestelde of "omgekeerde" van die Christelike leer nie.
  • Die "Teken van Baphomet" word in die algemeen as embleem en belangrikste simbool beskou.

Houding teenoor ander gelowe

Die meeste Satanistiese groepe en organisasies beskou ander gelowe en godsdienste as vals en bedrieglik. Hulle is veral openlik uitgesproke teen die Christelike Leer en Christelike waardes in die samelewing omdat dié hulle verhinder om "in vryheid" te kan leef. Hulle blameer Christene onder meer vir die onwettigheid van huwelike tussen mense van dieselfde geslag (in die meeste lande), die onwettigheid van prostitusie en aborsie (in sommige lande) en die algemene samelewing se eng morele waardestelsels. Sommige groepe, soos die 600 Club, het 'n "swartlys" waarop name van Christene en Christen-organisasies verskyn wat as vyande beskou word. Lede word aangemoedig om hulle teen hierdie organisasies en hul werksaamhede te verset en hulle daarvoor te beywer om 'n samelewing te skep waar elkeen sy eie waardes bepaal en besluite kan neem.

Satanisme in Afrika

Hoewel die okkulte in verskillende vorms dwarsoor Afrika bedryf word, kon Religieuse Satanisme nog nooit werklik 'n houvas op hierdie vasteland kry nie. Die rede hiervoor hou moontlik verband met die feit dat sekularisasie en wetenskaplik-ateïstiese oortuigings, wat 'n gunstige klimaat vir meer kritiese bewegings soos Religieuse Satanisme skep, tot dusver eerder 'n kenmerk van die hoogs ontwikkelde Westerse gemeenskappe is. Beskuldigings dat sommige Satanistiese groepe rassisme voorstaan, dat die groepe nog nooit werklik moeite gedoen het om lede in Afrika te werf nie of dat die meeste mense in Afrika redelik toegewyd is aan hul onderskeie religieë, is ander moontlike oorsake.

Ongeregistreerde groepe in Suid-Afrika

In Suid-Afrika is daar verskeie aktiewe Satanistiese groepe, maar nie een is amptelik in die land geregistreer nie. Die Satanic Bible van Anton LaVey word deur die meeste van hulle as handleiding gebruik en hul bedrywighede stem ooreen met dié van Sataniste in Amerika en Europa.

Van die bekendste Satanistiese groepe in Suid-Afrika is die Brotherhood of Ram, die Order of Darkness, die Sons of Satan en die Scorpions. Daar is ook verskeie kleiner vertakkinge van hierdie groepe en van buitelandse groepe in die land aktief, soos groepies Gotiese Sataniste.

Die Satanisme as sodanig is nie onwettig in Suid-Afrika nie, maar sommige bedrywighede wat met die Swart Toorkuns verband hou, is wel teen die wet. Diere- en selfs menslike offers, die beskadiging van eiendom, grafskendings en moorde of selfmoorde wat na bewering Satanies geïnspireer was, in waarheid egter net gebruik maak van Sataniese simbole, maak van tyd tot tyd groot opslae in die media. Hierdie misdrywe spruit soms moontlik voort uit ontevredenheid met sekere Christelike leerstellings en praktyke of ander maatskaplike vraagstukke. Die oorgrote meerderheid van misdade, wat van Sataniese simboliek gebruik maak, word waarskynlik eerder deur psigies en geestelik versteurde individue met 'n Christelike agtergrond gepleeg as deur georganiseerde religieus-Satanistiese groepe.

Verwysings

  1. Richtigstellung des Satanismus. Aanlyn beskikbaar: Schwarze-seele.com Besoek op 18 November 2007

Verdere leesstof

Primêre literatuur

  • Eremor, Frater: Im Kraftstrom des Satan-Set – Der Pfad der dunklen Einweihung. Second Sight Books
  • Lerch, Frank: Ouroboros Files. Lübeck 2002, ISBN 3-89094-353-5
  • Redbeard, Ragnar en Anton Szandor LaVey (Voorwoord): Might is Right. Die Philosophie der Macht, Edition Esoterick, Siegburg 2004, ISBN 3-936830-15-0
  • LaVey, Anton Szandor: Die Satanische Bibel u. Rituale. ISBN 3-935684-05-3

Sekondêre literatuur

  • Baddeley, Gavin: Lucifer Rising. Londen 1999, ISBN 0-85965-280-7; 2001, ISBN 3-935684-02-9
  • Flowers, Stephen: Lords of the Left-Hand Path. Smithville, Texas 1997, ISBN 1-885972-08-3
  • Huettl, Andreas en P.-R. König: Satan – Jünger, Jäger und Justiz, 416 bl., Kreuzfeuer Verlag 2006, Geargiveer 5 Oktober 2008 op Wayback Machine, ISBN 3-937611-01-0
  • Kronlob, Lars P.: Die Philosophie des Satanismus. Siegburg: Edition Esoterick / Verlag für esoterische Philosophie 2005
  • Lecanu, A.: Geschichte des Satans, 430 bl., 1863, Reprintverlag Leipzig 2000
  • Moynihan, Michael en Didrik Soederlind: Lords of Chaos – Satanischer Metal – Der blutige Aufstieg aus dem Untergrund. ISBN 3-936878-00-5
  • Paigels, Elaine: Satans Ursprung, 386 bl., Suhrkamp 1998
  • Schmidt, Joachim: Satanismus – Mythos und Wirklichkeit. Marburg 2002, ISBN 3-927165-66-2

Eksterne skakels

Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Duitse Wikipedia vertaal.
   
Klik vir info oor hierdie sjabloon.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.