Sambar

Die sambar of perdhert (Rusa unicolor) is ’n groot takbok wat inheems is aan Indië, Suid-China en Suidoos-Asië. Die naam "sambar" verwys hoofsaaklik na R. unicolor, hoewel dit soms ook gebruik word om te verwys na ’n paar ander hertsoorte.

Sambar
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Subfamilie:
Genus:
Rusa
Spesie:
R. unicolor
Binomiale naam
Rusa unicolor
(Kerr, 1792)
Verspreiding.
Sinonieme
  • Cervus unicolor

Beskrywing

’n Sambar-ooi en ’n jong rammetjie.

Die voorkoms en grootte van die sambar wissel grootliks deur hul verspreidingsgebied, en dit het in die verlede tot groot verwarring gelei; meer as 40 wetenskaplike sinonieme is al vir die spesie gebruik. Hulle is gemiddeld 102 tot 160 cm hoog by hul skouers en kan tot 546 kg weeg, hoewel die gemiddelde gewig 100 tot 350 kg is.[1][2] Hulle is sowat 1,62 tot 2,7 m lank.[3] Sambars van die westelike subspesies is meestal groter as dié van die oostelike subspesies, en ooie is kleiner as ramme.[4]

Hulle het groot gewei en die balke vurk aan die punte. Dit is sowat 110 cm lank in volwasse ramme. Ooie het nie gewei nie.[4]

Die pels is enigiets van geelbruin tot donkergrys en is gewoonlik eenkleurig, hoewel sommige spesies se kleure kol-kol kan verskil. Hulle het klein, maar digte maanhare, wat meer prominent by ramme is. Die stert van 22 tot 35 cm is relatief lank vir ’n takbok en is gewoonlik swart bo en wit onder.[4]

Verspreiding en ekologie

Die sambar kom voor in Suid-Asië (tot so ver noord as die hange van die Himalaja), Suidoos-Asië (Birma, Thailand, Indo-China en die Maleise Skiereiland), Suid-China, Taiwan en die eilande van Sumatra en Borneo.[5] Hulle verkies die digte beskerming van bladwisselende struike en grasse,[6] maar dit verskil weens hul groot verspreidingsgebied.

Die diere kom hoofsaaklik in bosgebiede voor en eet ’n groot verskeidenheid plante, onder meer gras, blare, vrugte en waterplante, afhangend van die plaaslike habitat.[6] Hulle eet ook struike en bome.[4]

Sambars se grootste vyande is tiers en leeus. In Indië maak hulle tot byna 60% van die prooi van die Bengaalse tier uit.[7] Hulle word ook deur krokodille en wildehonde aangeval, veral as hulle siek is.[5]

Subspesies

’n Sambar word in Indië deur wildehonde aangeval.

Die subspesies van Indië en Sri Lanka is die grootste en hulle het die grootste gewei. Die Sumatraanse sambar van die Maleise Skiereiland en Sumatra en die Borneotiese sambar het die kleinste gewei in verhouding met hul liggaamsgrootte. Die Formosaanse sambar is die kleinste Rusa unicolor.

Sewe subspesies word tans erken,[4][8] hoewel verskeie ander al voorgestel is:

  • R. u. brookei
  • R. u. cambojensis
  • R. u. dejeani
  • R. u. equina
  • R. u. hainana
  • R. u. swinhoii
  • R. u. unicolor

Verwysings

  1. Burnie D and Wilson DE (reds.), Animal: The Definitive Visual Guide to the World's Wildlife. DK Adult (2005), ISBN 0789477645
  2. "Comparative Placentation" (in Engels). Placentation.ucsd.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2018. Besoek op 17 Augustus 2012.
  3. Boitani, Luigi (1984) Simon & Schuster's Guide to Mammals. Simon & Schuster/Touchstone Books, ISBN 978-0-671-42805-1
  4. Leslie, D.M. (2011). "Rusa unicolor (Artiodactyla: Cervidae)". Mammalian Species. 43 (1): 1–30. doi:10.1644/871.1.
  5. Timmins, R.J., Steinmetz, R., Sagar Baral, H., Samba Kumar, N., Duckworth, J.W., Anwarul Islam, Md., Giman, B., Hedges, S., Lynam, A.J., Fellowes, J., Chan, B.P.L. & Evans. (2008). Rusa unicolor. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 12 Desember 2010.
  6. Valerius Geist (1998) Deer of the world: their evolution, behaviour, and ecology. Stackpole Books. 1998. pp. 73–77.
  7. T. Ramesh, V. Snehalatha, K. Sankar and Qamar Qureshi (2009). "Food habits and prey selection of tiger and leopard in Mudumalai Tiger Reserve, Tamil Nadu, India" (PDF). J. Sci. Trans. Environ. Technov. 2 (3): 170–181.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)[dooie skakel]
  8. Wilson, D.E., Reeder, D.M. (reds.) (2005) Mammal Species of the World, A Taxonomic and Geographic Reference (3de uitg.), Johns Hopkins University Press online Geargiveer 21 Mei 2011 op Wayback Machine

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.