Sakramentsdag

Sakramentsdag (Latyn: Sollemnitas Sanctissimi Corporis et Sanguinis Christi, letterlik: "Fees van die heiligste liggaam en bloed van Christus")[1] is 'n Hoogfees binne die liturgiese jaar van die Rooms-Katolieke Kerk en herdenk die werklike teenwoordigheid van Jesus se liggaam en bloed as 'n sakrament van die Eucharistie. In Engels en ander tale word die Latynse naam – Corpus Christi – vir die fees gebruik.

Sakramentsdagoptog in Meckenbeuren, Baden-Württemberg, Duitsland, 2007
Sakramentsdagoptog, skildery deur Carl Emil Doepler, olie op doek
Sakramentsdagoptog, skildery deur Jules Breton, 1857
Sakramentsdagoptog in Hofgastein, skildery deur Adolph Menzel, 1880

Sakramentsdag word op die tweede Donderdag ná Pinkster gehou. Twee maande vroeër word die Eucharistie op Wit-Donderdag in 'n donker atmosfeer herdenk en gaan na Goeie Vrydag oor. Die liturgie op hierdie dag herdenk ook die was van die dissipels se voete deur Jesus, die instelling van die priesterskap en die pyn in die Tuin van Getsemane. Sakramentsdag is op 11 Augustus 1264 deur pous Urbanus IV in die liturgiese kalender van die Rooms-Katolieke Kerk opgeneem as 'n feesdag wat uitsluitlik op die Heilige Eucharistie fokus en die vreugde van die Eucharistie – die liggaam en bloed van Jesus Christus – beklemtoon.[2]

Sakramentsdag word liturgies op die Donderdag ná Drie-eenheid-Sondag, of "waar die plegtigheid van die Allerheiligste en Bloed van Christus nie 'n heilige dag van verpligting is nie, word dit aan die Sondag na die Allerheiligste Drie-eenheid as die regte dag toegewys".[3] Sedert die liturgiese hervormings van 1969 onder pous Paulus VI het die biskoppe van elke land die reg om die fees na die volgende Sondag te skuif.[4]

Die einde van die Heilige Mis sluit gewoonlik 'n optog met die Geseënde Sakrament, wat algemeen in 'n monstrans vertoon word, in. Die optog word deur die Seën van die Heilige Sakrament opgevolg. Van die bekendste optogte is dié onder voorsitterskap van die pous elke jaar in Rome tussen die Aartsbasiliek van die Allerheiligste Verlosser en die Basiliek van Santa Maria Maggiore; in eersgenoemde word die Heilige Mis gehou en in laasgenoemde die Seën van die Heilige Sakrament.[5]

Die viering van Sakramentsdag was deur die Protestantse kerke tydens die Protestantse Hervorming verbied, omdat hulle nie aan die leerstellings van transubstantiation hou nie. In plaas daarvan het Protestantse kerke, afhangende van die denominasie, verskillende sienings rakende Jesus se teenwoordigheid tydens die Nagmaal: synde óf Jesus se simboliese óf Jesus se metaforiese teenwoordigheid. Vandag word Sakramentsdag deur die meeste Protestantse denominasies nie erken nie. Die Kerk van Engeland het Sakramentsdag tydens die Engelse Hervorming in 1548 afgeskaf, maar dié fees later heringevoer.

Datum

Die datum van Sakramentsdag word, nes baie ander feeste en herdenkings van die liturgiese jaar, volgens die Paasfeesdatum bereken. Vervolgens word Sakramentsdag op die tweede Donderdag ná Pinkster (op die 60ste dag ná Paassondag) gehou. Die vroegste moontlike termyn volgens die Gregoriaanse kalender is 21 Mei en die laaste moontlike is 24 Junie.

Data Sakramentsdag 2000–2031
JaarDatum
200022 Junie
200114 Junie
200230 Mei
200319 Junie
200410 Junie
200526 Mei
200615 Junie
20077 Junie
JaarDatum
200822 Mei
200911 Junie
20103 Junie
201123 Junie
20127 Junie
201330 Mei
201419 Junie
20154 Junie
JaarDatum
201626 Mei
201715 Junie
201831 Mei
201920 Junie
202011 Junie
20213 Junie
202216 Junie
20238 Junie
JaarDatum
202430 Mei
202519 Junie
20264 Junie
202727 Mei
202815 Junie
202931 Mei
203020 Junie
203112 Junie

Verwysings

  1. (la) (ru) Calendarium Romanum
  2. (de) Fronleichnam. In: Ökumenisches Heiligenlexikon (heiligenlexikon.de). Besoek op 16 Mei 2019.
  3. (la) "Sanctissimi Corpus et Sanguis Christi." Roman Missal, 2011 vertaal uit Latyn in 2011.
  4. (de) Zum gemeinsamen Dienst berufen. Die Leitung gottesdienstlicher Feiern. Rahmenordnung für die Zusammenarbeit von Priestern, Diakonen und Laien im Bereich der Liturgie; Sekretariat der Deutschen Bischofskonferenz 8 Januarie 1999. 7de uitgawe, Bonn, 2007.
  5. (de) Fronleichnam in Rom: „Gottes Liebesgeschichte mit uns“. In: Radio Vatikan, 18 Junie 2017. Besoek op 18 Junie 2017.

Eksterne skakels

  • (en) "Feast of Corpus Christi". Catholic Encyclopædia. Besoek op 16 Mei 2019.
  • (en) "Feast of Corpus Christi". Encyclopædia Britannica. Besoek op 16 Mei 2019.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.