SAS President Kruger
Die SAS President Kruger is die eerste van drie presidentklas Tipe 12 fregatte wat in die Verenigde Koninkryk vir die Suid-Afrikaanse Vloot gedurende die 1960's gebou is. Die skip is meestal vir opleiding gebruik en het ander hawens in Afrika, Wes-Europa en die Verenigde State besoek. Hy is in die laat 1960's gemoderniseer en verbeter om ook 'n helikopter te kan dra.
Klas en tipe | President-klas fregat |
---|---|
Besteldatum | 18 September 1957 |
Bouers | Yarrow Shipbuilders, Scotstoun, Glasgow, Skotland. |
Gebruik deur | Suid-Afrikaanse Vloot |
Te water lating | 20 Oktober 1960 |
In diens gestel | 3 Oktober 1962 |
Tuishawe | Simonstad |
Bynaam | PK |
Verplasing | 2 200 ton, 2 647 ton (diepvrag) |
Lengte | 112,78 m |
Wydte | 12,5 m |
Diepgang | 5,33 m |
Spoed | 30 kn (56 km/h) |
Bemanning | 214 |
In die middel van die 1970's het die skip aan die Grensoorlog deelgeneem deur patrollies te doen aan die Angolese kus. Die skip is in 1977 in vlootreserwe geplaas maar in 1980 weer in diens gestel. Die skip sink op 18 Februarie 1982 met die verlies van 16 lewens toe dit met sy aanvullingskip, die SAS Tafelberg, bots in die suid-Atlantiese Oseaan.
Tegniese besonderhede
Die presidentklasskepe het normaalweg 2170 langton water verplaas en 2605 langton met volvrag. Dit was 112,78 m lank, 12,5 m wyd en het 'n diepgang van 5,33 m gehad.[1]:238 Die skepe was aangedryf deur twee stoomturbine's met ratoorbrenging wat deur English Electric vervaardig is. Elke turbine het 'n skroef aangedryf via 'n dryfas. Stoom vir die turbines is opgewek deur twee Babcock & Wilcox-stoomketels. Die turbines het 3 000 perdekrag op die dryfas ontwikkel wat 'n maksimumspoed van 30 knope (56 km/h) verseker het.[2]:64 Die skepe het 308 langton brandstof aan boord geneem wat 'n togafstand van 4 500 seemyl teen 12 knope moontlik gemaak het. Die bemanning het bestaan uit 14 offisiere en 200 matrose.[3]:238
Die presidentklasskepe was toegerus met een skiettoring aan die voorkant wat twee QF 4.5-duim MK V meerdoelige kanonne bevat het en aan die agterkant met een skiettoring wat twee Bofors 40 mm lugafweerkanonne bevat het. Die skepe was ook toegerus met Tipe 162, 170 en 177M sonars saam met die trippelloop MK10 Limbo teenduikbootmortiere. Hulle was ook toegerus met Tipe 293Q radar vir gebruik op die oppervlakte, Tipe 262 en 275 radars vir die kanonne, Tipe 277Q radar vir hoogtevind en Tipe 978 navigasieradar.[3]:220–22, 238
In die middel van die 1960's het dit duidelik geword dat die sonars van die presidentklasskepe in staat was om duikbote op te spoor buite die trefafstand van die Limbo teenduikbootmortiere. Die Suid-Afrikaanse Vloot het toe besluit om die Britse Vloot se voorbeeld te volg en die skepe toe te rus met helikopters wat teenduikboot-torpedo's kon dra of dieptebomme en dit aansienlik verder van die skip af gebruik. Die voorste Limbo-mortier is verwyder en sy plek is verander na 'n klein vliegdek. Die agterste Bofors-skiettoring, sy beheerstelsel en van die agterste bobou is verwyder en vervang met 'n loods vir die Westland Wasp helikopter. Daar is twee enkel Boforskanonne op die dak van die loods aangebring en daar is ook voorsiening gemaak vir vier M2-Browninig 12,7 mm masjiengewere. 'n Paar Amerikaanse Mk 32 324 mm trippeltorpedobuise, ontwerp vir gebruik deur oppervlakskepe, is ook in die middel van die skip aangebring en die elektronika opgegradeer. Die opgradering het 'n ekstra Thomson-CSF Jupiter vroeëwaarsku-radar ingesluit wat op 'n nuwe hoofmas aangebring is. Die skip het sy oorspronklike vuurbeheerstelsel gehou, terwyl die skip se susterskepe se stelsels vervang is.[3]:227
Konstruksie en loopbaan
Die Suid-Afrikaanse Vloot het in die laat 1950's drie presidentklasfregatte bestel nadat die Simonstad-ooreenkoms met die Britse Vloot gesluit is. President Kruger was egter die tweede skip wat bestel is van die drie susterskepe en die bestelling is geplaas by Yarrow-skeepsbouers op 18 September 1957 met die naam SAS President Steyn. Die regering se wens was egter dat die eerste skip wat voltooi word, die naam Paul Kruger moes dra, die eerste Staatspresident van die Suid-Afrikaanse Republiek. 'n Staking by die skeepsbouers, Alexander Stephens and Sons het veroorsaak dat neerlegging van die skip se kiel vertraag is. Dus was die name omgeruil met die skip wat deur Yarrow gebou is en die kiel reeds neer gelê is en die skip word die President Kruger.[4]:18–21Die President Kruger se kiel is neergelê op 6 April 1959.[3]:239 Die skip is op 20 Oktober 1960 te water gelaat deur mev. Margaret Biermann, vrou van skoutadmiraal Hugo Biermann en op 3 Oktober 1962 in diens gestel met kaptein M.R. Terry-Lloyd in bevel.[3]:222
Gedurende die skip se opleidingstyd by HMNB Portsmouth moes die skip eenkeer 'n Noorweegse vragskip, SS Johan Collett, gaan bystaan wat gebreek het. Die vragskip se kaptein het geweier om 'n sleeptou te aanvaar en eerder gewag vir 'n sleepboot wat reeds op pad was. Die fregat het die skepe bygestaan deur die vragskip te belig met sy soeklig toe die vragskip se bemanning verwyder is deur die reddingsboot van Saint Peter Port van die Royal National Lifeboat Institution.[4]:49 Die President Kruger het Engeland op 27 Februarie verlaat en op 28 Maart in Kaapstad aangekom. Die skip is verwelkom deur die Minister van Verdediging, Jim Fouché en ander hooggeplaastes.
'n Jaar later het die skip deelgeneem aan die verwelkom geleentheid van haar susterskip, die SAS President Pretorius op 25 September 1964. Gedurende Julie-Augustus 1963 het die skip deelgeneem aan 'n militêre oefening, Capex 63, saam met Britse en Franse oorlogskepe.[3]:224, 226–27, 239 In 1965 het die Britse Regering besluit om die Capex oefening af te skaal na 'n Wapenopleiding sessie (Sanex) met net Britse en Suid-Afrikaanse skepe wat deelneem. Dit is gedoen om samewerking met Suid-Afrika werk te minimis eer weens hulle apartheid beleid.[4]:106, 114
In Junie 1966 is die President Kruger inderdaad na die weerstasie op Marion-eiland gestuur om hulle by te staan nadat 'n vuur die grootste gedeelte van hulle woonkwartiere verwoes het. Gedurende September 1967 het die 10de Fregat-flottielje, wat bestaan het uit die President Pretorius, President Kruger en die pas in diens gestelde aanvullingskip Tafelberg om deel te neem aan 'n Sanex oefening met die Britse vliegdekskip HMS Eagle, die fregat HMS Loch Fada en die duikboot HMS Ambush. Die maand daarna, op 24 Oktober, is die flottielje na Argentinië gestuur om opleiding saam met die Argentynse Vloot te doen. Hulle was op 27 November terug in Suid-Afrika en President Kruger was kort daarna uit diens gestel vir opgradering by die vloot basis in Simonstad se werf.[4]:117–20 Die opgradering het begin op 29 Januarie 1968 en is voltooi op 5 Augustus 1969.
'n Jaar later, in Julie - Augustus 1970, het die President Kruger en die President Pretorius vloot oefeninge saam met fregatte en duikbote van die Britse Vloot gedoen.[3]:227Aan die begin van 1971 is die President Kruger opdrag gegee om die nuut in diens gestelde, Frans-vervaardigde duikboot SAS Maria van Riebeeck te vergesel op haar nooiensvaart van Frankryk na Suid-Afrika. Sy het Simonstad verlaat op 28 Januarie en by hawens in Angola, destyds bekend as Portugese Angola, Kanariese Eilande, Portugal en Italië aangedoen voor sy in Toulon gearriveer het. Op die terugtog het hulle by Gibraltar, Kaap Verde en Angola aangedoen voor hulle op 13 Mei in Simonstad gearriveer het.[4]:125–27
Op 24 Junie het die President Kruger die tenkskip MV Simfonia op sleeptou neem en weg van Danger Point-vuurtoring sleep nadat die skip onklaar geraak en hulpeloos rond gedryf het. In Julie het dit as die wagskip opgetree tydens die Lipton Cup regatta by Durban. Daarna het dit saam met Maria van Riebeeck en Tafelberg aan die Sanex '71 oefening deelgeneem. Aan die Britse kant was daar twee fregatte, die duikboot HMS Oberon en die aanvullingskip RFA Tidesurge[3]:227
In 1973 het 'n klein Britse taakmag, wat die kernaangedrewe aanvalsduikboot die HMS Dreadnought insluit en versterk met die President Kruger, President Steyn, die torpedojaer SAS Jan van Riebeeck en die Tafelberg deelgeneem aan 'n onaangekondigde oefening wat die verdediging van 'n konvooi simuleer wat deur 'n duikboot aangeval word. Die SAS Emily Hobhouse het die rol van die aanvalsduikboot gespeel. Die Emily Hobhouse het die verdediging binnegedring en drie van die vier aanvullingskepe "gesink", wat handelskepe voorgestel het, asook een fregat wat deel was van die konvooi en ook die Dreadnought. Gedurende Augustus 1974 was dieselfde taakmag op pad terug van die Verre Ooste en die President Kruger en ander skepe van die Suid-Afrikaanse Vloot het hulle vergesel vanaf Simonstad tot by Kanariese Eilande. Hier het die Suid-Afrikaanse Vloot die aflosvloot terug vergesel na Simonstad. Aan die begin van November 1975 het die President Kruger patrollie gedoen aan die Angolese kus gedurende die Suid-Afrikaanse grensoorlog.[4]:133–36, 139, 155–59[5]:107
Besoek aan die Verenigde State
Nadat die President Kruger nog 'n patrollie voltooi het in Mei 1976, is die skip se bemanning meegedeel dat hulle sou deelneem aan 'n Internasionale Vlootskou as deel van die Verenigde State se 200-jarige feesvieringe in New York. Dit sou die eerste Suid-Afrikaanse oorlogskip wees wat die VSA besoek. Die President Kruger het Simonstad op 3 Junie 1976 verlaat en via Walvisbaai, Abidjan en Las Palmas in Norfolk, Virginië gearriveer. Van hier het hy saam met 53 oorlogskepe van 22 lande na New York gevaar om deel te neem aan die vlootskou. Op 6 Julie het van die bemanning deur die stad se strate geparadeer, waarna die skip teruggekeer het na Simonstad via Charleston en Las Palmas.[6] Die toekomstige politikus, onderkorporaal Tony Leon, was die amptelike fotograaf tydens die tog.[4]:140
Daar is beplan om van die Presidentklasfregatte ontslae te raak in 1978. Hulle sou deur die Frans-vervaardigde D'Estienne d'Orves-klas vaartuie vervang word. Om mannekrag te verskaf aan die Franse korvette, in aanbou, is die President Kruger vroeg in 1977 in reserwe geplaas. Maar die sanksies wat deur die Verenigde Nasies, Resolusie 418, ingestel is het tot gevolg gehad dat die verkoopstransaksie deur die mat geval het. Volgens die resolusie kon die Presidentklasfregatte ook geen opgraderings ondergaan nie. Tog is die President Kruger se vuurbeheerstelsel en elektronika gedurende 1979-1980 opgegradeer. Dit is weer in diens gestel op 15 Augustus en het later aan die 20ste verjaarsdagviering van die Republiek deelgeneem in Mei 1981 en ook saam met 'n eskader van die Taiwanese Vloot aan krysoefeninge deelgeneem. Sy susterskip President Pretorius het ook aan die oefeninge deelgeneem. Kort daarna het die twee susterskepe op 'n vaarttog aan die kus van Oos-Afrika vertrek om die vlag te vertoon.[3]:232–34
Ongeluk en sinking
Gedurende die oggend van 18 Februarie 1982 was die President Kruger besig met teenduikbootoefeninge as deel van 'n duikboot-offisierbevelvoerderskurses saam met die President Pretorius, Emily Hobhouse en Tafelberg. Die hoë-intensiteitoefeninge strek van 06:00 tot 23:00 daagliks vir etlike dae met verskeie kandidaatoffisiere wat 'n kans kry om skynaanvalle teen Tafelberg te loods. Gedurende die dag het die skepe 'n nou sig-sagroete gevolg wat toegelaat het dat die duikboot herhaalde aanvalle kon loods in laeintensiteitoefeninge terwyl die meerderheid van die bemanning gerus het. Die fregatte het ook die geleentheid gebruik om teenduikbootaanvalle te loods, met elke skip wat kans gekry het om die sektor voor die Tafefelberg te patrolleer. Daar was van die begeleidende skepe verwag om hulle gebied willekeurig te patrolleer 1 800–4 600 m vanaf Tafelberg. President Kruger se posisie was tussen 10 en 330 grade aan die bakboordkant en President Pretorius se posisie was aan die stuurboordkant.[7]:2–3
Om ongeveer 04:00 moes die hele groep rigting verander met 154-grade, amper 'n u-draai, om in die gebied te bly wat vir hul oefening gebruik word. Die fregatte moes eerste van rigting verander om hulle beskermingsposisies voor die Tafelberg te behou in die nuwe rigting. Die President Kruger se opsies was om 200 grade na bakboord of 154 grade na stuurboord te draai. Die laaste opsie beteken 'n kleiner draai en was takties goed maar dit was baie gevaarliker omrede dit beteken dat daar na die ander twee skepe gedraai moes word. Die onervare diensoffisier besluit dat daar na stuurboord gedraai moes word en gee die bevel met 10-grade verandering aan die roer in stede van die gebruiklike 15-grade. Die gevolg van die 10-grade bevel is dat die draai 'n groter radius het en langer sal neem om voltooi te word as die 15-grade draai. Dit het dus die Tafelberg meer tyd gegee om nader aan die skepe te beweeg wat voor haar draai. Kort nadat die skip met die draai begin het, het die daar 'n argument ontstaan tussen die diensoffisier en die hoof-gevegsrigoffisier oor die korrekte aantal grade wat toegepas moes word. Nadat die President Kruger omtrent twee-derdes van die draai voltooi het, het sy radarkontak met die Tafelberg verloor. Op daardie stadium was die hoë-definisie radar buite werking en was die skip aangewese op die minder akkurate soekradar. Die diensoffisier kon nie die situasie red nie en Tafelberg se boeg tref die President Kruger aan die bakboordkant om 03:55.[7]:3–5 Die impak skeur 'n groot gat in die President Kruger se kant en dertien van die vyftien bemanning wat naby die kontakpunt geslaap het, sterf. Die skip het onmiddellik begin oorhel en die kaptein het die "ontruim-skip" bevel om 04:32 gegee. Die oefening is onmiddellik gestaak en die ander skepe is gelas om met reddingspogings te begin. Daar het meer skepe, militêre sowel as handels, na dagbreek by die toneel opgedaag asook vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag en 177 van die 193 persone aan boord is gered.[3]:234–35 [nota 1]
Nabetragting
Die Vloot het 'n Raad van Ondersoek aangestel net na die ongeluk en hulle bevinding was dat die botsing veroorsaak is deur 'n gebrek aan seemanskap deur die kaptein en Offisier aan Diens. Die minister van Justisie, Kobie Coetsee, het terugwerkende verandering aan die wet aangebring wat hom toegelaat het om 'n regtelike doodsondersoek te doen vir die enigste lid van die bemanning wat se liggaam gevind is. Die ondersoek het 'n jaar lank geduur en hulle het 'n gedeelte van die skuld op die kaptein en hoof-gevegsrigoffisier geplaas.[7]:5–7
Notas
- Bennett gee 'n totaal van 199 persone aan boord, maar stem saam met die verlies van 16 persone. Sommige van die tye soos gegee deur Bennett verskil met dié van du Toit.
Verwysings
- Du Toit, Allan (1992). South Africa's Fighting Ships: Past and Present. Rivonia, South Africa: Ashanti Publishing. ISBN 1-874800-50-2.
- Marriott, Leo (1983). Royal Navy Frigates 1945–1983. Shepperton, Surrey, UK: Ian Allan. ISBN 0-7110-1322-5.
- Du Toit, Allan (1992). South Africa's Fighting Ships: Past and Present. Rivonia, South Africa: Ashanti Publishing. p. 238. ISBN 1-874800-50-2.
- Bennett, Chris (2006). Three Frigates: The South African Navy Comes of Age. Durban, Suid-Afrika: Just Done Productions. ISBN 1-920169-02-4.
- Steenkamp, Willem (2006) [1985]. Borderstrike! South Africa into Angola. 1975–1980 (3rd uitg.). Durban, South Africa: Just Done Productions Publishing (published 1 Maart 2006). ISBN 978-1-920169-00-8. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2014. Besoek op 14 Oktober 2014.
- Wessels, André (Mei 2012). "Flag-Showing Cruises By South African Warships, 1922–2002". Suid-Afrikaanse Vloot. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Mei 2019. Besoek op 8 November 2016.
- Bennett, Chris (11 Mei 2009). "The Loss of the SAS President Kruger". defenceweb.com. Kaapstad, Suid-Afrika: DefenceWeb. Besoek op 18 November 2016.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |