Suid-Afrikaanse Rugbyunie

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (afgekort “SARU”), oftewel SA Rugby, is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Suid-Afrika beheer en reël. Die beheerliggaam is in 1992 gestig en in Kaapstad gesetel. Sedertdien verteenwoordig dit Suid-Afrika by Wêreldrugby en ook by Rugby Afrika (“RA”).

Suid-Afrikaanse Rugbyunie
Kenteken van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie
Kenteken van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie
Engelse naam South African Rugby Union
Afkorting SARU
Land Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Sportsoorte Rugby, Sewesrugby
Gestig op 23 Mei 1992
Gestig in Kaapstad, Suid-Afrika
Lid van Wêreldrugby
Aangesluit in 1992
Vastelandse beheerliggaam Rugby Afrika
President Mark Alexander
Hoof- uitvoerende beampte Rian Oberholzer (waarnemend)
Setel Kaapstad, Suid-Afrika
Amptelike taal Engels
Amptelike webwerf sarugby.co.za

Geskiedenis

Beginjare

In 1889 is die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gestig,[1] maar net “blanke” rugbyklubs is toegelaat om by dié raad aan te sluit. Die rugbyklubs van swart en bruin mense moes eie beheerliggame stig en hulle spelers was oor dekades heen van die nasionale span uitgesluit.[2]

Onder apartheid

Die ondertekening van die Gleneagles-ooreenkoms deur 33 lidlande van die Britse Statebond op 15 Junie 1977 het Suid-Afrika se sportiewe isolasie verder verskerp. As gevolg van die ooreenkoms is die land ten einde van stappe teen die apartheidspolitiek stelselmatig van die Britse Statebond se sportwêreld ontkoppel. In die ooreenkoms is ook voorsiening gemaak vir sanksies teen lidlande wat die ooreenkoms sou oortree, en instellings wat bewysbaar die Suid-Afrikaanse rasseskeiding ondersteun het, is uit alle internasionale sportgeleenthede uitgesluit.[3][4]

Die internasionale druk op die apartheidstelsel het ook in Suid-Afrika tot debate en veranderinge gelei. Die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARR), die beheerliggaam van swart rugbyspanne, het in 1977 sy naam in Suid-Afrikaanse Rugbyvereniging (SARV) verander. Hulle het ook daarop besluit om die spannaam “Luiperds” te laat vaar, aangesien albei name ’n “rassistiese konnotasie” gehad het. Die vorige Springbokspeler Cheeky Watson het by die multietniese Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) aangesluit, waar hy ’n leidende spanmaat van die Kaapse span geword het. In April 1978 het, as gevolg van die internasionale reaksies, die verskeie Suid-Afrikaanse rugbyliggame vergader. Hulle was SARV (swart spelers), SARR (wit spelers), SARU (multietniese spelers) en die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie (bruin spelers). Hulle het onder andere ooreengekom om wedstryde op klub-, provinsiale en nasionale vlak op openbare sportvelde sonder demografiese segregasie te reël. Die SARU-president Abdul Abbas het egter aangekondig, dat hy aan geen verdere onderhandelinge oor sulke multietniese wedstryde sou deelneem nie, totdat die regering al die wette skrap wat sulke wedstryde verbied of verhinder.[4]

Sedert hertoelating

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het in 1992 ná die einde van Apartheid met die saamsmelting van die blanke Suid-Afrikaanse Rugbyraad en die multiëtniese Suid-Afrikaanse Rugbyunie ontstaan. Die SARU bestaan uit 14 plaaslike beheerliggame, wat elkeen sy eie span kies vir die Curriebeker, die oudste en belangrikste Suid-Afrikaanse rugbybeker.[5] In 1992 het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[6] Die Suid-Afrikaanse beheerliggaam het in Julie dieselfde jaar aangesluit by die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) en is sedertdien by verre die vasteland se belangrikste beheerliggaam.[7]

In 1995 het die beheerliggame van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië die konsortium SANZAR gestig om televisie-uitsaairegte vir twee nuwe kompetisies te verkoop, die internasionale kompetisie Super 12 (nou Superrugby) en die Drienasiesreeks van die nasionale spanne (nou Die Rugbykampioenskap).[8]

In die debakel van die Rugbywêreldbeker 2003 is die Springbokke in die kwarteindrondte uitgeskakel. Verder het SARU die skandaal ervaar van Kamp Staaldraad, die oefenkamp wat deur die destydse Bokafrigter, Rudolf Straeuli, gereël is. Straeuli moes bedank, asook Rian Oberholzer, die besturende direkteur van South Africa Rugby (Pty) Ltd, die kommersiële arm van SARFU. Kort daarna het SARFU-president Silas Nkununu, wat voor ’n sterk herverkiesingsuitdaging te staan gekom het, sy verkiesingsnominasie onttrek. Brian van Rooyen is in 2004 tot president van SARU verkies. Hy het spoedig ’n baie polariserende figuur in die Suid-Afrikaanse sport geword, met sy teenstanders wat hom beskuldig het van finansiële kansvattery, voortrekkery en algemene wanbestuur. Sy bestuurstyl is ook in die algemeen as outokraties beskou. Een van die belangrikste klagtes teen die Van Rooyen-administrasie was die toekenning van stadions vir die Springbokke se tuistoetswedstryde. Die KwaZulu-Natalse Unie en die Vrystaatse Unie het in 2005 of 2006 nie ’n Drienasiestoets ontvang nie. Albei unies, uitgesproke teenstanders van Van Rooyen, het hom daarvan beskuldig dat hy hulle vir hul teenstand gestraf het.

Taak

Die 14 provinsiale spanne in Suid-Afrikaanse plaaslike rugby

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend die Springbokke (Suid-Afrika se nasionale seniormansrugbyspan), Blitsbokke, Junior Bokke en Opkomende Springbokke. Hulle bestuur saam met die Argentynse Rugbyunie, Rugby Australia en Nieu-Seeland Rugby as ’n gesamentlike onderneming SANZAAR, die beheerliggaam van beide Superrugby en Die Rugbykampioenskap, die vernaamste rugbytoernooie in die Suidelike Halfrond. Die SARU hou ook toesig oor sewesrugby in Suid-Afrika en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee saam. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het reeds belangrike toernooie soos die Rugbywêreldbeker 1995 aangebied.

Naas die amptelike nasionale span roep die SARU ook ander keurspanne byeen. Die Junior Bokke is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel.[9] Die Blitsbokke is die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan en hulle draf tydens internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, die Olimpiese Somerspele en Statebondspele uit.[10] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Die talentvolste spelers op skoolvlak word jaarliks ná die Cravenweek (genoem na Danie Craven) vir die “SA Skolespan” gekeur.[11] Elke Suid-Afrikaanse universiteit beskik oor ’n eie rugbyspan wat aan die Varsitybeker en die Varsityskild deelneem.[12]

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Benewens die nasionale kampioenskap word daar ook jaarliks in die internasionale Verenigde Rugbykampioenskaptoernooi meegeding teen spanne van Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Suid-Afrika neem met vier konsessies, waaroor SARU toesig hou, deel: Die Bulls uit Pretoria, die Lions uit Johannesburg, die Sharks uit Durban en die Stormers uit Kaapstad. Aangesien die seisoene min oorvleuel word baie spelers in albei professionele ligas ingespan.[13]

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Rugbywêreldbeker 1995.

Kenteken

Die bynaam van die Springbokke het sy oorsprong in die 1906–07-toer na die Britse Eilande. Die springbok is deur die destydse kaptein Paul Roos as simbool gekies om te verhoed dat die Britse pers op sy beurt ’n simbool aan die Suid-Afrikaners toeken. Die kenteken was nie vir die wit span alleenlik nie – die springbok is in 1939 deur die eerste gekleurde span en in 1950 deur die eerste swart gebruik.[14] Ná die einde van apartheid in 1992 is ’n krans van die koningsprotea by die kenteken bygevoeg. Nadat die ANC die verkiesings in 1994 gewen het, is die spannaam, anders as by die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan, nie in Proteas verander nie, deels te danke aan die destydse president Nelson Mandela se ingryping.[14][15]

Sien ook

Verwysings

  1. (en) "Laws – History – In South Africa". SA Rugby Referees. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2007. Besoek op 28 September 2007.
  2. (en) David R. Black, John Nauright (1998). Rugby and the South African nation. Manchester: Manchester University Press. pp. 29–30. ISBN 0-7190-4931-8.
  3. (en) "From Montreal to Gleneagles". New Zealand History. Minister van Kultuur en Erfenis. 11 April 2014. Besoek op 1 November 2023.
  4. (en) SAIRV: A Survey of Race Relations in South Africa 1977. Johannesburg 1978, bl. 563–564.
  5. (en) "Currie Cup Premier Division". Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Besoek op 21 Maart 2024.
  6. (en) "South Africa". Wêreldrugby. Besoek op 21 Maart 2024.
  7. (en) "Rugby Africa Unions". Rugby Afrika. 2020. Besoek op 21 Maart 2024.
  8. (en) Bob Howitt (2005). SANZAR Saga: Ten Years of Super 12 and Tri-Nations Rugby. New York: HarperCollins Publishers. p. 7. ISBN 1-86950-566-2.
  9. (en) "Junior Springboks". Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Besoek op 21 Maart 2024.
  10. (en) "Springboks Sevens". Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Besoek op 21 Maart 2024.
  11. (en) "SA Schools". Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Besoek op 21 Maart 2024.
  12. (en) "Main page". Varsitybeker. Besoek op 21 Maart 2024.
  13. (en) "SA Rugby votes four leading sides into expanded Pro16 from 2021". RTÉ. 29 September 2020. Besoek op 21 Maart 2024.
  14. (en) Ian Evans (16 Januarie 2008). "Symbol of unity: the Springbok vs the Protea". The Independent. Besoek op 21 Maart 2024.
  15. (en) Ruaridh Nicoll (21 Oktober 2007). "Strains show as nation cheers on the Boks". The Guardian. Besoek op 21 Maart 2024.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.