Romeinse syfers
Romeinse syfers verwys na die syferstelsel wat deur die Romeinse Ryk gebruik is. Die Romeine het getalle voorgestel deur middel van 'n kombinasie van letters uit die Latynse alfabet. Die getalle 1 tot 10 is as volg geskryf:
- I, II, III, IV, V, VI, VII, VIII, IX, en X.
Die alledaagse gebruik van Romeinse syfers in Europa het lank na die val van die Romeinse Ryk voortgeduur. Dit is eers vanaf die 14de eeu dat die moderne Arabiese syferstelsel hom geleidelik begin vervang het.
Konteks
Die wyse waarop getalle in die antieke wêreld voorgestel is, verskil van land tot land. Sommige lande, soos Babilon, het 'n posisionele notasie gebruik soortgelyk aan die notasie wat ons vandag gebruik.[1] In so 'n stelsel hang die waarde wat aan enige simbool geheg word af van sy posisie in die simboolstring, byvoorbeeld "9" het die waarde "9" in die string" 12349", hy het die waarde "90" in die string "492" en het die waarde "900" in die string "1942"). Ander lande soos Antieke Israel en Griekeland en Rome het 'n byvoegingstelsel gebruik waarin enige een simbool net een betekenis gehad het.[2]
Antieke Israel en Griekeland het die eerste nege letters van hul alfabet gebruik om die getalle "1" tot "9" voor te stel, die volgende nege letters om die getalle "10", 20", ..., "90" voor te stel. Daarna het hulle het die oorblywende letters met spesiale karakters gebruik vir die getalle “100”, “200”, … “900”.[1]
Die Romeinse sisteem het verskil van bogenoemde sisteme omdat hulle het simbole herhaal waar dir nodig is. Byvoorbeeld, die simbool "X" beteken "10", die simbool "XX" beteken "10+10" of "20" ensovoorts. Op hierdie manier het die Romeine net agt simbole nodig gehad om getalle van 1 tot 3888 voor te stel. Hulle het spesiale notasies vir groter getalle gebruik marr huklle is deesdae nie in algemene gebruik nie.
Gebruik van Romeinse Syfers
Al is die Romeinse syfers meer as twee duisend jare gelede ontwikkel, kom 'n mens nog tans teen hulle aan. Hulle verskyn dikwels op horlosies en ook saam met die kopieregtekens, veral in die rolprentbedryf. Hulle word ook dikwels gebruik vir die nommering van items soos boekhoofstuknommers en bladsynommers van die voorblaaie van 'n boek (kopieregbladsy[3], titelbladsy, inhoudbladsy ens.). Deesdae word Romeinse syfers soms met kleinletters geskryf, maar in die Romeinse tyd was kleinletters onbekend – alles was in hoofletters geskryf.
Hoe om Romeinse syfers te lees en te skryf
Sekere getalle word deur een letter voorgestel:[3]
Romeinse syfer Getal I 1 V 5 X 10 L 50 C 100 D 500 M 1000
Romeinse syfers word gewoonlik aangebied as 'n reeks simbole wat in afnemende volgorde gerangskik is. Wanneer hulle bymekaar getel word, gee hulle die onderliggende getal. Byvoorbeeld "XVII" beteken "X+V+I+I" = 10+5+1+1 =17. Met 'n soortgelyke analoog kan die jaar 2023 (2000+20+3) MMXXIII geskryf word.
Benewens die byvoegingsvorm hierbo beskryf, word sekere syfers geëvalueer deur gebruik te maak van 'n subtraktiewe vorm, byvoorbeeld "IX" waar die laer gewaarde simbool die hoër waarde simbool voorafgaan. Dit beteken dat die laer gewaardeerde simbool van die hoërwaardesimbool afgetrek word. Dus "IX" = (-1+10) = 9. Die volledige lys van subtraktiewe syfers is:[3]
Romeinse syfer Getal IV 4 IX 9 XL 40 XC 90 CD 400 CM 900
Hierdie aftrekvorm word nie altyd gebruik nie. 'n Mens sal dikwels "IIII" in plaas van "IV" sien, "XXXX" in plaas van "XL" sien of "CCCC" in plaas van "CD" sien.
Breuke
Alhoewel Romeinse syfers deesdae ook uitsluitlik gebruik word om heelgetalle aan te dui, het die Romeine 'n stelsel gehad om dit te gebruik om breuke aan te dui. Hulle stelsel het die kenmerk gehad dat hulle heelgetalle voorgestel het deur 'n desimale notasie te gebruik, maar breuke met 'n duodesimale stelsel voorgestel het.[4] Om dit te kan doen, het hulle twee verdere simbole bekendgestel: "S" wat 'n halwe verteenwoordig en 'n kolletjie wat 'n twaalfde verteenwoordig. As daar meer as een kolletjie was, is hulle in 'n verskeidenheid patrone gerangskik.
Breuk | Romeinse syfer |
---|---|
1⁄12 | · |
2⁄12 = 1⁄6 | ·· of : |
3⁄12 = 1⁄4 | ··· of ∴ |
4⁄12 = 1⁄3 | ···· of ∷ |
5⁄12 | ····· of ⁙ |
1⁄2 | S |
Die Romeine het breuke tot 1⁄288 gebruik, maar hierdie breuke word amper nooit anders as akademiese tekste gesien nie. As 'n voorbeeld in die gebruik van breuke, skryf die Romeine "9 3⁄4" as "IXS∴" (-1+10+1⁄2+3⁄12).
Verwysings
- O'Connor, J J; Robertson, E F (Desember 2000). "Babylonian numerals" (in Engels). School of Mathematics and Statistics, University of St Andrews, Scotland. Besoek op 16 Junie 2023.
- O'Connor, J J; Robertson, E F (Januarie 2001). "Greek number systems" (in Engels). School of Mathematics and Statistics, University of St Andrews, Scotland. Besoek op 16 Junie 2023.
- Hayes, David P. "Guide to Roman Numerals". Copyright Registration and Renewal Information Chart and Web Site (in Engels). Besoek op 15 Junie 2023.
- Kurzweg, Ulrich H (20 September 2020). "Roman Numbers" (PDF) (in Engels). Gainesville, Florida: Universiteit van Florida. Besoek op 15 Junie 2023.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Roman numerals. |