Rolls-Royce Trent

Die Rolls-Royce Trent is 'n familie van drie-spoel, hoë-omleidingturbowaaier vliegtuigenjins wat deur Rolls-Royce plc vervaardig word. Almal is ontwikkel uit die RB211 met stukraggraderings van 240-420 kN (53 000 tot 95 000 lbf). Weergawes van die Trent is in diens op die Airbus A330, A340, A380, Boeing 777 en 787, en 'n variant is ontwikkel vir die komende A350 XWB. Die Trent is ook aangepas vir mariene en industriële toepassings.

Rolls-Royce Trentfamilie
'n Rolls-Royce Trent 970 op die A380
Tipe Turbowaaier
Vervaardiger Rolls-Royce plc
Ontwerp deur Rolls-Royce plc
Nooiensvlug Augustus 1990
Vrygestel Maart 1995
Status In gebruik
Hoofgebruikers Airbus A330, A340, A380
Boeing 777, 787

Sedert sy eerste vlug in Augustus 1990 as die Trent 700-model ondervind die Trent aansienlike wêreldwye kommersiële sukses. Dit is gekies as bekendstellingsenjin vir beide van die Boeing 787 se variante (Trent 1000), die A380 (Trent 900) en die A350 (Trent XWB). Die totale aandeel van die mark waarin hy meeding, is sowat 40%.[1] Die goeie verkope van Trentfamilie-enjins het Rolls-Royce die tweede grootste verskaffer gemaak van groot siviele turbowaaiers na General Electric, [2] en daarmee die mededinger Pratt & Whitney na die derde posisie afgeskuif.

Singapore Airlines is tans die grootste operateur van Trent-enjins, met vyf variante in diens of op bestelling.

Variante

Trent 600 - eerste voorstel

Die aanvanklike variant, die Trent 600, was die gekose kragbron vir die McDonnell Douglas MD-11 met British Caledonian as die enjin se bekendstellingskliënt. Maar British Airways het alle MD-11 bestellings gekanselleer nadat dit British Caledonian in 1987 verkry het. Met die ineenstorting van Air Europa in 1991 in die nasleep van die 1990-1991 Golfoorlog, is die enigste ander Trent-aangedrewe MD-11 kliënt ook verloor. Die Trent 600 word daarna afgegradeer na 'n demonstrasieprogram en verdere enjinontwikkeling word verskuif na die Trent 700 vir die Airbus A330. [3]

Trent 700

Die Trent 700 is die eerste model van die reeks en is eerste in Maart 1995 deur Cathay Pacific in gebruik geneem. Dit is die voorkeurmotor vir die Airbus A330 met 'n gerekende markaandeel van 57%. Die motor het intussen meer as 21 miljoen loopure behaal. Dit is die besverkopermodel in die Trent-reeks met ruim 1 400 verskaf en op bestelling.[4]

Trent 800

Feitlik parallel met die Trent 700 het die ontwikkeling van die Trent 800 plaasgevind, spesifiek vir die Boeing 777. Die eerste Boeing met Trent 800 motors het in Mei 1995 opgestyg, en is in diens geneem deur Cathay Pacific in April 1996. Hoewel verkope stadig op dreef kom, is die markaandeel tans ongeveer 41%. [5] Kenmerkend van die Trent 800 is sy reuse waaierdeursnee van 2,79 meter.

Trent 500

Na 'n lopie met Pratt & Whitney, het Airbus op 15 Junie 1997 op die Paryse Lugskou aangekondig dat hulle die Trent 500 gekies het as kragbron vir die nuwe weergawe A340-500 en A340-600. Twee jaar later, in Mei 1999, het die Trent 500 die eerste keer gedraai en sertifisering behaal in Desember 2000. Dit word ingebruik gestel op 'n A340-600 van Virgin Atlantic Airways in Julie 2002 en op die ultralangreeks A340-500 van Emirates Airline in Desember 2003.

Sedert Januarie 2009 is vaste bestellings vir 139 A340s aangedryf deur Trent 500s van 15 rederykliënte ontvang. Lufthansa is die grootste operateur wat tans 21 vliegtuie in diens het [6] en wêreldwyd is daar ruim 550 eksemplare in gebruik.[7]

Trent 900

'n Rolls-Royce Trent 900 op toetsbed

Tydens die ontwikkeling van die Airbus A380 in die jare 1990 het Rolls-Royce aan die Trent 900 begin werk. Die enjin het vinnig die voorkeurkragbron van die A380 geword. Die eerste bestellings is in Oktober 2000 deur Singapore Airlines geplaas, en die enjin het sy eerste vlug op 27 April 2005 onderneem. 'n Derde van al die A380's is toegerus met 'n viertal Trent 900 motors, in totaal is ruim 200 enjins in gebruik. [8]

Trent 1000

Die Trent 1000 is spesifiek ontwikkel vir die 787 Dreamliner en is in April 2004 deur Boeing as voorkeurmotor vir al drie die weergawes (787-8, 787-9 en 787-10x) gekies. Die eerste bestelling vir die model was in Junie 2004 deur Air New Zealand. In Oktober 2011 is die eerste Dreamliner met Trent 1000-enjins in gebruik geneem deur All Nippon Airways. [9]

Trent XWB

Die Trent XWB word uitsluitlik ontwikkel vir die nuutste vliegtuig van Airbus, die A350 XWB. Dit is die voorkeurenjin vir hierdie vliegtuig, en onderneem in Junie 2013 die eerste vlug op hierdie tuig. Daar is al meer as 1 300 bestellings geplaas, wat die Trent XWB die model in die Trent-reeks maak wat die vinnigste verkoop. [10]

Opvolger

Rolls-Royce werk intussen aan 'n opvolger vir die Trent-reeks. [11] Die konsepnaam van hierdie enjin lui die RB3039 en sal nie meer as die Trent bekendstaan nie. Die drie-asige ontwerp word waarskynlik ook vaarwel geroep. Die enjin behoort in die eerste helfte van die 2020-dekade in gebruik geneem te word.

Verwysings

  1. (en) Biggest Market share for new generation of widebodied aircraft. Argief geskep van die oorspronklike op 2007-07-18. URL besoek op 22 Julie 2007.
  2. (en) GE holds the key to power - Airliner delivery analysis 2007. "Flight International" (21 Februarie 2007). URL besoek op 23 Februarie 2007.
  3. "Rolls-Royce Trent 600" (in Engels). Jane’s Information Group. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2020. Besoek op 22 November 2010.
  4. "Aero-Engines - Rolls-Royce Trent" (in Engels). Jane's Information Group. 13 Februarie 2001. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2010. Besoek op 26 Julie 2007.
  5. (en) Rolls-Royce Trent 800. URL besoek op 15 Februarie 2009.
  6. (en) Sole Engine for Airbus A340-500/600. Argief geskep van die oorspronklike op 16 Julie 2007. URL besoek op 22 Julie 2007.
  7. (en) Rolls-Royce Trent 500. URL besoek op 23 Januarie 2014.
  8. (en) Rolls-Royce Trent 900. URL besoek op 23 Januarie 2014.
  9. (en) Rolls-Royce Trent 1000. URL besoek op 23 Januarie 2014.
  10. (en) Rolls-Royce: "World's most fuel efficient engine powers first flight". URL besoek op 23 Januarie 2014.
  11. "Rolls-Royce starts engine work to replace Trents on future jets" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Februarie 2014. Besoek op 23 Januarie 2014.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
   
Klik vir info oor hierdie sjabloon.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.