Robert Bosch
Robert Bosch (23 September 1861 – 12 Maart 1942) was 'n Duitse nyweraar, ingenieur, uitvinder en die stigter van Robert Bosch GmbH.
Robert Bosch | |
---|---|
Robert Bosch in 1925 | |
Gebore | 23 September 1861 Albeck, Koningdom Württemberg, Duitse Bond |
Sterf | 12 Maart 1942 (op 80) |
Bekend vir | Stigter van Robert Bosch GmbH |
Handtekening | |
Biografie
Bosch is in Albeck gebore, 'n dorpie noordoos van Ulm in die suide van Duitsland as die elfde van twaalf kinders. Sy ouers het uit 'n klas goedgeleë boere uit die streek gekom. Sy pa, 'n vrymesselaar, was buitengewoon hoog opgevoed vir iemand van sy klas, en het spesiale waarde geheg aan 'n goeie opvoeding vir sy kinders. Een van sy broers was Carl Friedrich Alexander Bosch (1843–1904), die vader van Carl Bosch.
Van 1869 tot 1876 het Bosch die Realschule (sekondêre-tegniese skool) in Ulm bygewoon en daarna 'n vakleerlingskap as 'n presisiewerktuigkundige ondergaan.
Ná sy skool- en praktiese opleiding het Bosch 'n verdere sewe jaar by diverse maatskappye in Duitsland, die Verenigde State (vir Thomas Edison in New York) en die Verenigde Koninkryk (vir die Duitse firma Siemens) gewerk. Op 15 November 1886 het hy sy eie "Werkwinkel vir Presisiemeganika en Elektriese Ingenieurswese" in Stuttgart geopen. 'n Jaar later het hy 'n beslissende verbetering aan 'n ongepatenteerde magneto-ontstekingstoestel gemaak wat deur die enjinvervaardiger Deutz vervaardig word, wat sy eerste besigheidsukses was. Die doel van die toestel was om 'n elektriese vonk op te wek om die lug-brandstofmengsel in 'n stilstaande enjin aan die brand te steek. In 1897 was Bosch die eerste wat 'n magneto by 'n voertuigenjin aangepas het. Sodoende het hy een van die grootste tegniese probleme opgelos waarmee die ontluikende motorbedryf te kampe was. Die uitvinding van die eerste kommersieel lewensvatbare hoogspanningvonkprop as deel van 'n magneto-gebaseerde ontstekingstelsel deur Robert Bosch se ingenieur Gottlob Honold in 1902 was 'n sleutelfase in die ontwikkeling van die binnebrandenjin.
Voor die einde van die 19de eeu, het Bosch sy bedrywighede buite Duitsland uitgebrei. Die maatskappy het in 1898 'n verkoopskantoor in die Verenigde Koninkryk gestig, en kort daarna in ander Europese lande. Die eerste verkoopskantoor en die eerste fabriek in die VSA is onderskeidelik in 1906 en 1910 geopen. Teen 1913 het die maatskappy takbedrywighede in Amerika, Asië, Afrika en Australië gehad, en is 88% van sy verkope buite Duitsland gegenereer. In vinnige opeenvolging in die jare na die Eerste Wêreldoorlog het Bosch innovasies vir die motorvoertuig van stapel gestuur, insluitend dieselinspuiting in 1927. In die 1920's het die wêreldwye ekonomiese krisis veroorsaak dat Bosch 'n streng program van modernisering en diversifikasie in sy maatskappy begin het. In slegs 'n paar jaar het hy daarin geslaag om sy maatskappy van 'n klein motorverskaffer in 'n multinasionale elektroniese groep te verander.
Van die begin af was Bosch baie bekommerd oor die bevordering van beroepsopleiding. Aangespoor deur sy bewustheid van sy sosiale verantwoordelikheid, was hy een van die eerste nyweraars in Duitsland wat die agt-uur werksdag ingestel het, gevolg deur ander maatskaplike voordele vir sy medewerkers.[1] Robert Bosch wou nie voordeel trek uit die wapenkontrakte wat tydens die Eerste Wêreldoorlog aan sy maatskappy toegeken is nie. In plaas daarvan het hy etlike miljoene Duitse mark aan liefdadigheidsake geskenk. 'n Hospitaal wat hy aan die stad Stuttgart gegee het, het in 1940 geopen.
In die 1920's en 1930's was Robert Bosch polities aktief. As 'n liberale sakeman het hy op 'n aantal ekonomiese komitees gedien. Hy het baie energie en geld gewy aan die saak om versoening tussen Duitsland en Frankryk te bewerkstellig.[2] Hy het gehoop dat hierdie versoening blywende vrede in Europa sou bewerkstellig en tot die skepping van 'n Europese ekonomiese gebied sou lei.
Derde Ryk
Die Nazi-bewind in Duitsland het Bosch se vredespogings tot 'n skielike einde gebring. Die Bosch-maatskappy het wapenkontrakte aanvaar en na raming 20 000 dwangarbeiders in diens geneem (insluitend sowat 1200 konsentrasiekampgevangenes wat tydens die oorlog "brutaal mishandel is by die Langenbielau-aanleg").[3] Intussen het Bosch die verset teen Adolf Hitler ondersteun en saam met sy naaste medewerkers slagoffers van Nazi-vervolging en deportasie gered.[4]
Op sy tagtigste verjaardag is Bosch deur Hitler[5] met die titel "Pionier der Arbeit" bekroon en toe hy 'n jaar later gesterf het, het hy 'n staatsbegrafnis deur die Derde Ryk ontvang.
Bosch was baie geïnteresseerd in landboukwessies en het 'n plaas suid van München besit. Hy was ook 'n passievolle jagter. Toe hy dood is, is hy oorleef deur vier kinders uit twee huwelike. ’n Seun uit sy eerste huwelik is in 1921 dood ná ’n uitgerekte siekte.
In 1937 het Bosch sy maatskappy as 'n private beperkte maatskappy (beslote korporasie) herstruktureer. Hy het sy laaste testament opgestel waarin hy bepaal dat die verdienste van die maatskappy aan liefdadigheidsake toegewys moet word. Ook het sy testament die buitelyne geskets van die korporatiewe grondwet, wat in 1964 deur sy opvolgers geformuleer is en vandag steeds geldig is.
Hy is in 1984 in die "Automotive Hall of Fame" opgeneem.[6]
Verwysings
- "Robert Bosch". Die Zeit (in Duits). 12 November 2009. Besoek op 7 Junie 2017.
- "Deutsch-Französischer Zukunftsdialog" (in Duits). DFZ. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 November 2012. Besoek op 7 Junie 2017.
- Heller, Michael (12 Januarie 2014). "Companies in the Third Reich: Robert Bosch and the double balancing act". stuttgarter-zeitung.de. Stuttgarter-Zeitung. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Januarie 2020. Besoek op 31 Januarie 2020.
- "Robert Bosch und der doppelte Spagat". Stuttgarter Zeitung (in Duits). 12 Januarie 2014. Besoek op 7 Junie 2017.
- "Robert Bosch, Industrialist, Dies in Berlin". New York Herald Tribune (in Engels). 13 Maart 1942. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Januarie 2020. Besoek op 31 Januarie 2020.
- "Robert Bosch". Hall of Fame Inductees. Automotive Hall of Fame. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Maart 2016. Besoek op 4 Maart 2016.