Ricotta
Ricotta is ’n Italiaanse weikaas wat van die wei van ’n skaap, koei, bok of Italiaanse waterbuffel deur die byvoeging van vars melk of room en suurlemoensuur gemaak word. Die wei is wat oorbly nadat kaas gemaak is - in Italië hoofsaaklik pecorino, mozzarella of provolone.
Ricotta | ||
Oorsprong | Italië | |
Melkbron | Skape, koeie, bokke, Italiaanse waterbuffels | |
Eienskappe | ||
Tekstuur | Vars; sag tot halfsag | |
Veroudering | Geen, of tot ’n jaar |
Ricotta beteken letterlik "weer gekook". Die proteïen kan geoes word as die wei eers toegelaat is om suurder te word deur bykomende gissing (deur dit vir 12–24 uur teen kamertemperatuur te los). Dan word die versuurde wei verhit totdat dit byna kook. Die kombinasie van ’n lae pH en hoë temperatuur laat die proteïen van karakter verander en veroorsaak dat dit afsak, en so vorm ’n fyn wrongel. Nadat dit afgekoel is, word dit geskei deur die vloeistof deur ’n fyn doek te gooi; die wrongel bly dan agter.
Ricottawrongel is roomwit van kleur en effens soet. Die vetinhoud hang af van die soort melk wat gebruik is.[1][2] In hierdie vorm is die tekstuur soortgelyk aan dié van sekere maaskase, maar taamlik ligter. Dit verderf gou, hoewel daar ook variasies is wat veel langer hou.
Gebruike
Nes mascarpone in Noord-Italiaanse kookkuns, is ricotta ’n gunstelingbestanddeel in baie Italiaanse nageregte, soos kaaskoek en cannoli. Verskeie soorte koekies bevat ook ricotta.
Die kaas kan geklits en met geurmiddels soos suiker, kaneel, aarbeie en soms sjokoladekrummels gemeng word vir ’n nagereg. Dit word ook dikwels in soutgeregte soos pastas en pizzas gebruik. Soms dien dit in slaaie as plaasvervanger vir mayonnaise of in souse as ’n verdikker.
Verwysings
- "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 September 2017. Besoek op 14 September 2017.
- http://www.weightlossresources.co.uk/calories-in-food/cheese/ricotta-cheese.htm
Eksterne skakels
- Bestanddele en produkinligting Geargiveer 16 Maart 2010 op Wayback Machine
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Ricotta.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia