Ribbetjie
Ribbes van vark, bees, lam- en wildsvleis is 'n gesogde soort vleissnit. Die term ribbetjie verwys na dié deel van tjops wat minder vleis aan het, en word gewoonlik as een plat stuk gaargemaak (nie in aparte ribbes gesny nie). Ribbes van wildsbokke, volstruis, krokodil, buffel, bison, kangaroe en ander diere word ook verbruik in verskillende dele van die wêreld.
'n Stel ribbetjies wat saam bedien word (5 of meer), staan bekend as 'n rak ribbes.
Kookkuns
Ribbetjies kan op verskillende maniere gaargemaak word, bv. gerooster of pangebraai, gesoteer, gesmoor, gebak of gebraai oor kole. Lamsribbetjie word dikwels oor kole gebraai en varkribbes is gewild in restaurante as spare ribs.
Varkribbetjies
In Amerikaanse kookkuns, verwys ribbes gewoonlik na gebraaide varkribbes, wat saam met verskeie braaisouse bedien word.
Varkribbetjies is 'n stuk varkvleis wat gewild is in die Westerse en Asiatiese kookkuns. Die ribbekas van 'n plaasvark, met die vleis nog aan die ribbebene, word in bruikbare stukkies gesny, berei deur dit te rook, te braai of te bak – gewoonlik met 'n sous – en dan bedien.
Dit word bedien as 'n rak van vleis wat eters gewoonlik met die hand uitmekaar skeur, en dan die vleis van die been af eet. Stadige braai of 'n roterende spitbraai vir so veel as 10-12 uur, skep 'n smaaklike finale produk.
Snitte van varkribbetjies
Daar is verskillende soorte ribbes beskikbaar, afhangende van die gedeelte van die ribbekas waaruit hulle gesny word. Die dikte van die vleis en been, sowel as die vetinhoud in elke snit, kan die smaak en tekstuur van die bereide gereg verander. Die binneste oppervlak van die ribbekas is bedek met 'n laag bindweefsel (pleura) wat moeilik saggekook word; daarom word dit eerder verwyder voordat die ribbes gemarineer of gekook word.
Lenderibbes of rugribbes (Eng. Baby back ribs) word geneem uit die bokant van die ribbekas tussen die ruggraat en die ribbetjies, onder die lendespiere. Hulle het vleis tussen die bene en bo-op die bene, en is korter, geboë en soms vleisiger as spareribs. Die rak is korter aan die een kant as gevolg van die natuurlike profiel van 'n vark se ribbekas. Die kortste bene is gewoonlik slegs 8 cm en die langste is gewoonlik ongeveer 15 cm, afhangende van die grootte van die vark. 'n Varksy het 15 tot 16 ribbes (afhangende van die ras), maar gewoonlik word twee of drie aan die skouer gelaat as dit van die lende geskei word. 'n Rak met ribbes bevat ten minste agt ribbes (sommige kan afgewerk word as dit beskadig is), maar kan tot 13 ribbes insluit, afhangende van hoe dit deur die slagter voorberei is. 'n Tipiese kommersiële rak het 10-13 bene. As minder as 10 bene teenwoordig is, noem slagters dit "verneukrakke".
"Spareribs" of "syribbes", word geneem uit die buikkant van die ribbekas, onder die gedeelte van die rugribbes en bo die borsbeen. Spareribs is platter en bevat meer been as vleis, maar meer vet wat die ribbes sagter kan maak as rugribbes. Die term "spareribs" is 'n Midde-Engelse korrupsie (via "sparrib") van "rippspeer", 'n Nederduitse term wat verwys na rakke vleis wat op 'n draaispit gebraai word. "Riblets" word soms deur slagters berei deur 'n volledige stel ribbes ongeveer in die helfte te sny. Dit produseer 'n stel kort, plat ribbes waar die geboë deel van die rib verwyder word en gee hulle 'n meer eenvormige voorkoms. Die lenderibbes word nie altyd verwyder nie. As dit nie verwyder word nie, het hulle 'n afgeronde voorkoms en word dit dikwels baba-rugribbes genoem. "Riblets" is vroeër deur slagters uitgegooi, maar het gewild geword vanweë hul uitstekende geur en laer koste.
Fotogalery
- Gesnyde varkribbetjies
- Varkribbetjies is gewild in 'n familierestaurant
- So kan 'n braaier homself uitleef!
- Lamribtjops
Sien ook
Eksterne skakels
- Skaapribbetjie lekkerte, SA Outdoors Geargiveer 9 Oktober 2015 op Wayback Machine