Reynolds View
Reynolds View is ’n besonder klein voorstad van Johannesburg, sowat 6 km oos van die stadsaal. Dit beslaan nagenoeg 0,4 km², oor 'n afstand van sowat 300 m van oos na wes en sowat 150 m van noord na suid. Dit strek oor net een volledige straatblok en klein gedeeltes van nog twee.
Reynolds View | |
---|---|
Reynolds View Reynolds View se ligging in Gauteng | |
Koördinate: 26°12′4″S 28°04′41″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Munisipaliteit | Stad Johannesburg |
Hoofplek | Johannesburg |
Stigting | 1930 |
Poskode (strate) | 2094 |
In die noorde word dit begrens deur Kensington en Reynoldsstraat, in die ooste deur Malvern, Princessstraat en ’n entjie verder die Hoër Seunskool Jeppe, en in die suide deur Priscillastraat en Belgravia, hoewel Belgravia vir amptelike doeleindes deel geword het van Jeppestown. In die weste grens dit aan die skoolterrein van die Voorbereidende Skool Jeppe. Reynolds View is omstreeks 1930 op die sogenaamde Western Reserve Malvern uitgelê, oorspronklik ’n gedeelte van die plaas Doornfontein. Dit is genoem na Alice Ethel Reynolds, wat in 1924 aansoek om die proklamering van die voorstad gedoen het.
Reynolds View was ingevolge die Groepsgebiedewet ’n blanke woongebied. Dit was destyds oorwegend Engels, want in 1934 het die Engelssprekende munisipale kiesers 25 getel, met geen Afrikaanssprekendes nie. In 1949 het die Afrikaanse kiesers ses getel en die Engelse 72 en in 1961 was 16 Afrikaans en 102 Engels. Die voorstadjie se inwoners word nie vir sensusdoeleindes afsonderlik getel nie, maar in Jeppestown, wat dit so te sê omring, het die swart inwoners van 2001 tot 2011 van 8 930 (78,7%) tot 13 211 (89,3%) toegeneem en die wit inwoners van 1 187 (10,5%) tot 602 (4,1%) afgeneem; dieselfde tendens geld bes moontlik Reynolds View.
Bronne
- (en) Raper, Peter Edmund. 2004. New Dictionary of South African Place Names. Johannesburg & Cape Town: Jonathan Ball Publishers.
- (en) Adrian Frith, sensus 2001. URL besoek op 4 Februarie 2018.
- (en) Adrian Frith, sensus 2011. URL besoek op 4 Februarie 2018.