Rösti
Rösti (wat dikwels ook Röschti geskryf word; Frans: pommes de terre rôties) is geroosterde aartappelkoekies en een van die bekendste geregte van die Switserse kookkuns.
Die resep dateer vermoedelik uit die 19de eeu en het oorspronklik veral in die omgewing van Zürich die tradisionele ontbyt van melk- en papgeregte vervang. Rösti het vinnig ook in die omgewing van Bern en in die Franssprekende gebiede van Wes-Switserland gewild geraak, waar hulle pommes de terres rôties ("geroosterde aartappels") genoem is. Die Duitse naam van die gereg is uit Frans ontleen (die kappie oor die o in rôties verwys na 'n s, wat vandag nie meer uitgespreek word nie).
Rösti was aanvanklik veral 'n gewilde ontbyt vir boere, wat hard op hulle plase moes werk. Mettertyd het Rösti egter orals in Switserland tot 'n goedkoop maaltyd en uiteindelik 'n bygereg by die middag- of aandete ontwikkel wat in verskillende variasies berei is. Vandag word dit nog nouliks as 'n ontbyt bedien.
Die hoofbestanddeel van Rösti is steeds gerasperde aartappels wat gerooster word. Hulle word dikwels met 'n verskeidenheid byvoegsels soos uie, spek, kaas, groente, appels of vars kruie verfyn.
Fynproewers verskil nog steeds oor die "juiste" metode van rösti-maak, byvoorbeeld of vars of liewer gekookte aartappels gebruik moet word en ook watter soort aartappels die mees geskikte sou wees vir die gereg. In die algemeen gee die fynproewers van Bern die voorkeur aan gekookte aartappels, terwyl in Zürich en die oostelike Switserland meesal vars aartappels gerasper word.
As 'n bygereg vir 'n souserige vleisdis blyk gekookte aartappels die beste keuse te wees. Word die rösti egter as 'n hoofgereg bedien (byvoorbeeld met 'n kaaskors), word die beste resultate met vars aartappels behaal.
Die Duitse term Röstigraben verwys na die verskil ten opsigte van mentaliteit en politieke oortuigings tussen Duits- en Franstalige Switsers en word dikwels gebruik, wanneer 'n verkiesing of referendum verskillende uitslae in die Duits- en Franstalige gebiede oplewer.