Prometeus
Prometeus of Prometheus (Grieks: Προμηθεύς; "voor" + "gedagte", dus "voorsorg", "voorbedagtheid") was in die Griekse mitologie uit die tweede geslag Titane. Sy tweelingbroer het die kontrasterende naam Epimeteus ("nagedagte"; "nakennis") gehad. Die twee was "verteenwoordigers van die mensdom".[1]
Die mite
Prometeus was die seun van die Titane Iapetos en Temis. Sy ander broers was Atlas en Menoitios. Hy was bekend vir sy intelligensie en daarvoor dat hy vuur van Zeus gesteel en vir die mens, met wie hy bevriend was, gegee het. Zeus het hom toe gestraf deur hom aan ’n rots in die Kaukasus[2] vas te bind en ’n arend sy lewer te laat uiteet. Elke dag het die lewer vanweë sy onsterflikheid teruggegroei en die volgende dag het die arend dit weer geëet.
Herakles bevry Prometeus en versoen hom met Zeus, wat toe besluit om die mensdom te straf. Hy gee die kunstige Hefaistos opdrag om 'n mooi vrou te skep: haar naam was Pandora. Al die gode het gehelp om haar met gawes van die liggaam en siel uit te rus.[2] Zeus gee haar toe 'n geslote kissie, wat alle boosheid en lyding bevat, en stuur haar na die mense.
Prometeus, die vooruitsienende, waarsku vergeefs sy broer Epimeteus, die nadenkende, daarteen om 'n geskenk van Zeus te aanvaar. Epimeteus raak verlief op Pandora se skoonheid, en neem haar as sy vrou. Pandora maak uit nuuskierigheid die kissie oop en alle pyn en lyding kom uit die kissie oor die mensdom. En so verval die mens steeds dieper in die sonde, totdat Zeus besluit om hulle deur 'n sondvloed te vernietig. Die vroom Deukalion, 'n seun van Prometeus, en sy vrou, Pirra, 'n dogter van Pandora, hoor daarvan en bou vir hulle 'n skip om die vloed vry te spring. Toe die water ná die negende dag weer daal en hulle teen die bergpiek van Parnass land, vra hulle Zeus vir nuwe mense. Hulle word die raad gegee om die bene van hul grootmoeder agter hulle te gooi. Prometeues verduidelik aan hulle die grootmoeder is die aarde en haar bene die klippe. Uit die klippe wat Deukalion agter hom gooi, kom mans, en uit die stene wat Pirra agter haar gooi, kom vroue te voorskyn. So ontstaan dan die nuwe mensegeslag.[2]
Verwysings
- Kerenyi 1951, bl.207
- Eckhart Peterich, Pierre Grimal (1971) Götter und Helden. Die Mythologie der Griechen, Römer und Germanen, Walter Verlag. ISBN 978-3-538-07625-9
- Kerenyi, Karl, 1951. The Gods of the Greeks.
Eksterne skakels
- Theoi Project: Prometeus
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia